Gereelde beurtkrag laat elektriese toerusting wel inkonk – studie

(Foto: Planetcare / Unsplash)

Wanneer beurtkrag in die land toeneem, is dit geen wonder nie dat versoeke vir die herstel van elektriese toerusting ook deur die dak skiet.

ʼn Onlangse studie deur Procompare, ʼn aanlyn platform wat klante met plaaslike kundiges in verbinding bring, toon daar is ʼn direkte verband tussen die gereeldheid van kragonderbrekings en elektriese toerusting wat breek.

Procompare verduidelik dat wanneer elektrisiteit ná beurtkrag herstel word, veroorsaak dit ʼn skielike kragstuwing wat die normale stroomspanning (voltage) oorskry en dan skade aan elektriese toestelle en toerusting aanrig.

“Klante rig versoeke vir herstelwerk vir ’n verskeidenheid elektriese toestelle, insluitend lugverkoelers, yskaste, televisies, wasmasjiene en geisers.

“Dit is ’n duidelike aanduiding dat beurtkrag inderdaad veroorsaak dat elektriese toestelle oppak.”

Gedurende tydperke waar gereelde kragonderbrekings voorkom, word elektrisiëns oorval met versoeke om herstelwerk te verrig – soveel so dat hulle dikwels nie kan bybly nie.

Luidens inligting wat op die beurtkragtoepassing EskomSePush verkry is, was beurtkrag die afgelope ses maande die ergste in Oktober verlede jaar en Januarie vanjaar.

Procompare se navorsing toon dat hoewel die aanvraag na elektriese herstelwerk elke jaar toeneem, dit in Oktober verlede jaar meer as verdubbel (139%) het vergeleke met die ooreenstemmende maand in 2021.

In Desember en Januarie het versoeke onderskeidelik met ʼn enorme 218% en 371% toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk in Desember 2021 en Januarie 2022.

Hierdie hoë aanvraag het in Februarie vanjaar voortgeduur en was 113% meer as die aanvraag in Februarie verlede jaar.

Procompare sê elektrisiëns het dan wel meer werk, maar dikwels te min tyd om die nodige herstelwerk te verrig.

“Beurtkrag raak elektrisiëns dus op ʼn positiewe en negatiewe wyse.”

Adam Parson, eienaar van Abacus Electrical Solution in Kaapstad, verduidelik dat beurtkrag baie probleme skep wat sy onderneming se aandag verg, maar dat “tyd” dikwels ʼn knuppel in die duiwehok gooi.

“Ek kan nie iets regmaak wat af is nie. Dus moet ek ook om beurtkragskedules werk,” het Parson aan Procompare gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nicholaas ·

Wonder is daar nie n manier om die regering verantwoordelik te hou want as daar is kan dit dalk hul foseer om rerig iets daadwerklik aan die loadshedding te doen.

Eugene ·

Die ramp-phosa regering kos ons geld, straf die wat onwettige krag verbindings het, Dan sal ons nie skade kry nie. Maar nee, ramp-phosa keur onwettige krag verbindings goed.

SjN ·

Hul kry weer btw op vervangende items, hoekom sal hul die probleem aanspreek?

anko ·

Van Junie maand word bybetaling op toerusting ook verhoog agv elektriese kragstuwings. Dis tyd dat ESKOM verantwoordelik gehou word. Pensionarisse kan nie altyd weer nuwe yskaste, vrieskaste ens koop nie. Onskuldige mense wie nie eis nie moet eisers subsidieer agv hoër maandelikse bydraes.

Nommer 7 ·

Ek twyfel. Kragnetwerke het verskeie meganismes om stuwings te vehoed. Vooraf betaal meters kan ook stuwings van tot 600 volt hanteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.