Geskorste Ace bereik einde van regspad

Ace Magashule (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Die Konstitusionele Hof het nou óók die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se aansoek om teen sy skorsing te appelleer met koste van die hand gewys.

Magashule het nou die einde van die regspad bereik. “Ek dink wel dis nog lank nie die einde van die politieke pad vir meneer Magashule nie,” meen die politieke ontleder prof. André Duvenhage.

Die land se hoogste hof het Woensdag in ’n kort uitspraak, wat Maroela Media sedertdien onder oë gehad het, gesê Magashule se aansoek word geweier aangesien daar “geen redelike vooruitsig” is dat sy appèl sal slaag nie.

Magashule het die Konstitusionele Hof genader nadat die appèlhof sy aansoek om verlof om teen sy skorsing te appelleer in Januarie van die hand gewys het. Die Johannesburgse hooggeregshof het reeds verlede jaar sy aansoek geweier.

Magashule is in Mei verlede jaar tydelik uit sy amp geskors nadat hy geweier het om opsy te staan hangende die finale uitslag van die strafsaak teen hom.

Maroela Media het vroeër berig die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se reël lui dat enige ANC-lid wat van korrupsie of enige ander ernstige misdaad aangekla word, binne 30 dae opsy moet staan. Indien dit nie gedoen word nie, kan die ANC die betrokke lid skors indien dit in belang van die party beskou word.

Duvenhage stel dit duidelik dat Magashule nou effektief al sy regsopsies uitgeput het. “Wat hy wel kan doen is om ’n ander besluit [rakende die opsystaanreël] binne die ANC te bewerkstellig. En dit beteken ’n politieke geveg,” waarsku hy.

“Maar dit lyk vir my of dit vir meneer Magashule baie moeilik gaan wees om terug te kom en hy sal maar agter die troon moet funksioneer en deur middel van faksies sy ding moet doen.”

Volgens Duvenhage kan Magashule ook moontlik pogings aanwend om die land te destabiliseer.

“Moenie Ace as ’n faktor uit die politiek verwyder nie,” waarsku hy. “Hy is steeds ’n politieke faktor, maar sy regsopsies binne die huidige raamwerk is basies uitgeskakel. Tensy die ANC ’n ander stel besluite oor die opsystaanreël neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Swerwer ·

Pragtig……………volgende moet Hoed wees. Hy moes al uit sy pos verwyder gewees het maar om een of ander rede is is die ANC Kader bang vir Hoed.

domheks ·

En intussen trek hy ‘n lekker VET SALARIS wat uit die vuisvoos belasting betalers se sakke kom! Skande cANCer! Fire die man en kry klaar.

Henning ·

Hy het n ANC pos. Dit word deur die ANC betaal en nie belastinggeld nie

JN ·

En die Anc regeer die land of so probeer hul.
Trek salarisse van belasting betalers natuurlik….hehe genade..
Waar dink jy kom daai geld vandaan Henning?
Die korrupte Anc wat nie n sent werd is nie want hul doen nie hul werk nie en die belasting betaler betaal vir die sirkus Henning…Of jy dit nou wil glo of nie..Maar in elk geval moet nie worry nie dit maak nie saak nie..

kaplyn ·

Kom ek help. Die anc is VERONDERSTEL om hom te betaal, want hy is die geskorste sekretaris van die anc. (nie ‘n minister nie) Maar ek stem saam met Koos die belasting betaler betaal vir die sirkus.

Piet ·

Koos, dan moet jy nou maar wys hoe die belastingbetaler die anc betaal. Dis nou behalwe belasting aan die anc regering.

Piet ·

Henning, jy is reg. ace het nie ‘n regeringspos nie. Die 3 suurgesigte weet iets anders.

Heinrich ·

Hy klink na ‘n deursnee EFF kandidaat, ek is seker hy sal goed inpas daar.

Di ·

Hierdie hele land is ‘n sirkus wat deur ‘n klomp narre regeer word! Die hele spul moet moet gaan!!!!!!!

Kokerboom ·

Ek wonder wie betaal regskostes vir die frustrerende kaders?
Hoop ons sien hom nooit weer want boetedoen gaan hy waaragtig nie. Die klomp skelm kaders vrees mekaar en ons as nie-kaders moet heeldag met die twak opgeskeep sit!!

Jaco ·

Hulle ruk en pluk, skree en raas teen die ANC en ANC-regering wat teen hulle is, maar hulle WEIER om die ANC te verlaat. Hoekom?

absoluut ·

ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se reël lui dat enige ANC-lid wat van korrupsie of enige ander ernstige misdaad aangekla word, binne 30 dae opsy moet staan.

Na aanleiding daarvan moet almal in die anc ge-fire word as ek dit nie mishet nie want wys my 1 anc lid wat nie korrup is nie

JohanR ·

Vergaan onkruid ooit? Kan iemand vir my se of daar ooit ‘n kaans is dat die onkruid tronk toe sal gaan? Ja ek weet die antwoord maar mens lewe maar altyd in hoop!

Hennie ·

Hoekom word die opsystaan reel dan nie toegepas op ou Rampspadda laundryman nie?

Frank ·

Die kernsin is amptelik “aangekla word” van ernstige misdade en nie net bespiegelings en moddergooiery nie. Ace se hofsaak is reeds aan die gang terwyl Cyril nog nie amptelik aangekla is van enigiets nie

Dries ·

Nou kwalifiseer hy seker vir Presidentskap. Hoe groter krimineel hy is hoe beter is sy kanse

christo ·

Lees mooi na Prof. André Duvenhage se kommentaar. Dit mag dalk die einde van die regspaadjie vir Ace Magashule, maar dit gaan nie daar eindig nie. Die RET groepering het nog lank nie gaan lê nie. Die onlangse grootskaalse plundering behoort nog vars in ons geheue te wees. Die wanfunksionele ANC het gelei tot ‘n wanfunksionele regering. Ramaphosa mag dalk al sy veiligheidsgroepering se ministers naby hom hê, maar ongelukkig is hulle almal onbevoeg vir die taak. Die intelligensie strukture is wanfunksioneel en deel nie inligting met mekaar nie. Nie eers op distrik vlak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.