Gesondheidsorg bloei weens duisende vakante poste by staatshospitale

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Daar is tans meer as 12 000 vakante poste vir dokters en verpleegsters in Suid-Afrikaanse staatshospitale wat ʼn reusekrisis vir die land se reeds wankelrige gesondheidstelsel en die mense wat daarvan afhanklik is inhou.

Die departement van gesondheid het in terugvoer op navrae deur die VF Plus gesê dat die poste weens “begrotingsbesnoeiings nie gelyktydig gevul kan word nie”.

Volgens die departement se statistieke is daar 1 339 vakante doktersposte landwyd en 10 831 vakante poste vir verpleegsters.

Vakante poste in staatshospitale 

Dokters

 

Verpleegsters

Wes-Kaap66526
Vrystaat110799
Gauteng1741 497
KwaZulu-Natal2573 603
Mpumalanga123569
Limpopo414806
Noordwes44622
Noord-Kaap43226
Oos-Kaap1082 183
Totaal1 33910 831

Philip van Staden, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, sê dit is in die lig van dié syfers nie verbasend dat talle staatshospitale wanfunksioneel is nie.

“Geen land se openbare gesondheidstelsel sal so ’n penarie oorleef nie. Dan wil die regering boonop met die instelling van die nasionale gesondheidsversekering (NGB) die land se private gesondheidsorgstelsel sentraliseer omdat sy eie stelsels nie aan wetgewing voldoen nie.

“Dít sal uiteindelik rampspoedige gevolge vir die hele gesondheidsorgstelsel hê en moet heeltemal laat vaar word.”

Van Staden sê hy kry gereeld oproepe van mense wat ure wag om by staatshospitale opgeneem te word, haglike toestande moet verduur, swak diens ontvang of min tot geen kommunikasie van dokters kry nie.

“Dit is geen wonder dinge lyk soos dit lyk nie. Ons het al verskriklike goed by staatshospitale aanskou. Daar gaan nie ʼn week verby wat mense my nie bel en om hulp smeek nie.

“Dit behoort nie so te wees nie.”

Wesenlike tekorte

Nicolien Welthagen, senior navorsingsielkundige by die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê die huidige stand van sake in die openbare gesondheidsorgstelsel is rede tot ernstige kommer.

“Die departement se nuwe 2025 Menslike Hulpbronne vir Gesondheid (HRH)-strategie toon dat wesenlike personeeltekorte onder gesondheidswerkers Suid-Afrika in die gesig staar. Die dokument dui aan dat daar teen 2025 ’n bykomende 97 000 gesondheidswerkers in Suid-Afrika in diens moet wees om aan die gesondheidsbehoeftes van die land te voorsien.

“Die Verenigde Nasies (VN) se strategie vir volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bepaal byvoorbeeld dat daar ten minste 5,1 verpleegsters vir elke duisend mense van die bevolking moet wees, maar beveel aan dat daar 8,6 vir elke duisend moet wees om gehalte mediese sorg te verseker.

“Volgens die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging (SARV) se getalle het Suid-Afrika in Maart 2020 maar 4,6 verpleegsters vir elke duisend mense in Suid-Afrika gehad. Dít is heelwat minder as die VN se aanbeveling. Die 2025-strategiese plan dui aan dat meer as 16 000 bykomende professionele verpleegkundiges teen 2025 in Suid-Afrika nodig sal wees.”

Welthagen sê daar is ʼn gebrek aan geloofwaardige beplanningsmodelle om die probleme in die gesondheidsorgstelsel te takel.

“Wanneer daar wél indrukwekkende beplanningsmodelle en strategieë uiteengesit word, word dit óf swak geïmplementeer óf nooit uitgevoer nie.

“ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die ernstige vertraging by die SARV wat oor jare nog steeds nie die implementering van nuwe opleiding en akkreditering van instellings suksesvol kon voltooi nie. Getalle van verpleegstudente het tussen 2012 en verlede jaar met 58% afgeneem. Dit voorspel ʼn ongekende krisis van tekorte aan verpleegpersoneel soos Suid-Afrika nog nooit beleef het nie.”

Welthagen sê swak leierskap en ʼn gebrek aan voldoende bestuur dra ook tot die probleem by.

“Dít weerspieël ʼn gebrek aan visie en ʼn duidelike filosofie, maar veral swak implementering en uitvoering van planne in die gesondheidsektor.”

Departementele ingrypings

Die departement voer aan dat algemene begrotingsbesnoeiings wat deur die nasionale tesourie ingestel is as deel van fiskale konsolidasie in die staatsdiens, die vul van poste bemoeilik. Gevolglik moes streng maatreëls getref word om oorbesteding te vermy.

Die departement sê hy het egter verskeie stappe gedoen om personeeltekorte te hanteer, wat onder meer die volgende insluit.

  • Prioritisering van die poste in die jaarlikse werwingsplan waar finansiering dit toelaat.
  • Prioritisering van die poste vir voorwaardelike toekenningsfinansiering.
  • Vul van plaasvervangerposte wat weekliks oorweeg en goedgekeur word.
  • Advertensies wat landwyd in gedrukte media gepubliseer word.
  • Toekenning van jaarlikse beurse ​​aan interne en eksterne kandidate om hul studie in verskeie velde voort te sit.
  • ’n Toegewyde registrateursprogram om interne mediese spesialiste op te lei.
  • Voorsiening van internskap- en gemeenskapsdiensprogramme.

Van Staden sê hy kan nie sien hoe die massiewe tekort aan personeel binnekort opgelos gaan word nie, ten spyte van die stappe wat die departement glo doen om die probleem te bestuur.

Hy voorspel dat die probleme boonop gaan vererger noudat meer staatshospitale weer dienste soos operasies lewer nadat talle staatshospitale dit nie tydens die Covid-19-pandemie kon doen nie.

Probleme duur voort, vererger

Maroela Media het vroeër berig dat herstelwerk wat aan die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal (CMJAH) gedoen word, nog lank kan voortduur nadat ʼn brand byna ʼn jaar gelede dele van die hospitaal verwoes het.

Dit beteken dat dié hospitaal te midde van personeeltekorte boonop nie ten volle funksioneel is nie.

Intussen het die Helen Joseph-hospitaal, ook in Johannesburg, ’n skerp toename in psigiatriese pasiënte ervaar.

Dr. Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, het in antwoord op ʼn vraag in die provinsiale wetgewer gesê die hospitaal se ongevalle-eenheid het in Januarie 876 pasiënte vir psigiatriese toestande behandel, in vergelyking met die 80 pasiënte wat in Januarie verlede jaar by die eenheid behandel is.

Klagtes van pasiënte wat swak diens by staatshospitale ontvang, duur ook voort.

ʼn Maroela Media-leser het Vrydag gesê dat haar 82-jarige ouma nege uur by ʼn Wes-Kaapse staatshospitaal vir behandeling gewag het voordat die gesin moed opgegee en huis toe gegaan het.

Die leser sê daar is aanduidings dat haar ouma ʼn beroerte gehad het, maar sê dat sy ondanks haar verswakte en skynbaar ernstige toestand geen hulp ontvang het nie.

“Dis erg, dis regtig erg. Ek besef dis ʼn staatshospitaal, maar dis hartseer dat dít is wat ons ou mense en laerinkomste klas mense moet verduur. Dis hartverskeurend.

“As ons die geld gehad het, het ons haar na ʼn private hospitaal geneem, maar ons het ongelukkig nie die geld om dit te doen nie.”

Sy sê haar oupa is in Desember verlede jaar in ʼn Gautengse staatshospitaal dood waar hy glo drie dae lank in sy eie urine gelê het. Die familie wag glo nou nog op die uitslae van sy MRI-skanderings wat destyds gedoen is.

Maroela Media het verlede maand ook berig dat die 12-jarige Alexis Timmerman op aandrang van haar ouma uit die Kalafong-hospitaal in Pretoria ontslaan is weens die haglike omstandighede waaraan sy blootgestel is. Alexis is deur ʼn minibustaxi haar voor Laerskool Wierdapark, waar sy ’n leerder is, raakgery en is aanvanklik in dié hospitaal opgeneem.

Duisende rande is toe ingesamel om die meisie in ʼn private hospitaal te laat opneem waar sy ʼn operasie ontvang het om haar gebreekte arm te heg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.