Gestrande dwergpotwalvis helaas van kant gemaak

(Argieffoto: NSRI)

ʼn Jong dwergpotwalvis is helaas van kant gemaak nadat dit ondanks aansienlike pogings om dit na veiligheid in dieper water terug te neem, weer by Melkbosstrand uitgespoel het.

Die Suid-Afrikaanse walvis-ontknopingsnetwerk (SAWDN) is Woensdagmiddag ingelig oor berigte dat twee dwergpotwalvisse by Melkbosstrand uitgespoel het. Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se stasie, inspekteurs van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se wildlewe-inspektoraat en amptenare van die Kaapstadse metro is ontbied.

Lede van die publiek het ook op die strand probeer om die walvisse te help.

Die twee dwergpotwalvisse, ʼn jong walvis en ʼn volwasse walvis, het in die vlak water op die strand by Slabber se Klippe by Melkbosstrand uitgespoel.

“Dit het gelyk of die uitgebreide pogings om die walvisse weer na die diepsee te neem gelei het tot die volwasse walvis wat terug is see toe en die owerhede is versigtig optimisties dat die volwasse walvis, wat gesond gelyk het, sal oorleef,” lui ʼn verklaring van die NSRI.

Die jong walvis het egter weer uitgespoel.

Nadat alle pogings uitgeput is, is die besluit in oorleg met betrokke amptenare geneem om die walvis menslik van kant te maak om enige lyding te verhoed.

Gregg Oelofse, verbonde aan die SAWDN in Kaapstad, sê die besluit is geneem in ooreenstemming met goedgekeurde protokolle oor seediere wat uitspoel en nadat daar met mariene bioloë, die DBV en die Kaapstadse owerhede beraadslaag is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Dalk was dit ‘n koei en haar kalf en dalk was die kalf siek …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.