Gestremdes steeds ‘gemarginaliseerde groep’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Steven HWG/Unsplash)

Persone met gestremdhede is steeds een van die mees gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika, het die Vryheidsfront Plus Vrydag gesê.

Ondanks wetgewing wat dié mense beskerm het hulle steeds swak toegang tot basiese dienste en voer hulle daagliks ʼn stryd om bystand te kry.

“Terwyl Suid-Afrikaanse wetgewing veronderstel is om hierdie groep te ondersteun en hindernisse te oorkom, word hulle dikwels juis verhinder om tot die ekonomiese, burgerlike en die gemeenskapslewe toe te tree,” het Tammy Breedt, VF Plus-LP en woordvoerder oor vroue, jeug en gestremdes, gesê.

“Art. 9 van die Handves van Regte, wat wyd beskou word as van die mees progressiewe [handves] in die wêreld, bepaal spesifiek dat daar teen niemand gediskrimineer mag word op grond van onder meer gestremdheid nie.”

Breedt sê dit beskerm ook uitdruklik die regte van gestremde persone deur te bepaal dat die staat die nodige stappe moet doen om persone of groepe wat deur onbillike diskriminasie benadeel word te beskerm en te bevorder.

“In teenstelling hiermee, het Statistiek SA byvoorbeeld bevind dat persone met ernstige gestremdhede probleme ondervind om toegang tot onderwys en werksgeleenthede te verkry.

“Waar ʼn gestremde persoon aan die hoof van ʼn huishouding staan, is dit dikwels ʼn opdraande stryd om toegang tot basiese dienste te bekom.”

Volgens Breedt het mense met gestremdhede veral tydens die Covid-19-pandemie gesukkel om oor die weg te kom: Hulle het onder meer gesukkel om gesondheidsorg, noodsaaklike medikasie, terapie en rehabilitasie te ontvang.

“Nog ʼn skokkende voorbeeld is die 2016 Life Esidimeni-tragedie waar 118 van Gauteng se mees kwesbare geestesgestremde persone dood is. Dit was nadat die provinsiale gesondheidsdepartement hulle na verskeie swak toegeruste en ongeregistreerde geriewe geskuif het.

“Talle basiese menseregte, insluitend die reg op lewe, is eenvoudig ter syde gestel en die regsgevolge van hierdie tragedie is astronomies.”

Breedt sê hoewel die inwerkingstelling van nasionale wetgewing, sowel as die monitering van sulke kwesbare groepe, goed lyk op papier, bestaan die prosesse om dit prakties uit te voer “net in die regering se drome”.

“Die presidensiële werkgroep vir gestremdhede wat vroeēr vanjaar gestig is, is waarskynlik nog ʼn groep wat baie gaan praat en min gaan uitvoer.”

Maroela Media het onlangs berig oor uitdagings wat blinde mense veral ten opsigte van openbare vervoer ervaar.

Een van dié persone is ʼn jong blinde vrou van Johannesburg, Jeanne-Mari Viviers, wat al meer as een keer gestrand gelaat is nadat Uber-bestuurders volstrek geweier het dat haar gidshond saam in die voertuig ry.

Hoewel Uber aan Maroela Media gesê het dat dié voorvalle nie algemeen is nie, het die Gidshondvereniging van Suid-Afrika gesê hulle het al verskeie soortgelyke en kommerwekkende klagtes oor Uber en ander e-taxidienste van lede van die siggestremde gemeenskap ontvang.

Jace Nair, uitvoerende hoof van Blind SA, het ook bevestig dat dié organisasie al met soortgelyke voorvalle te doen gehad het waarby Uber en minibustaxi’s betrokke is.

“Hoewel die Handves van Regte en ander wetgewing beskerming teen diskriminasie bied, bly houdings, ingesteldhede en vooroordele egter steeds aanwesig. Blind SA het bewusmakingsveldtogte met die media, diensverskaffers en die gemeenskap onderneem. As blinde en swaksiende persone moet ons voortdurend bewustheid skep en mishandeling, uitbuiting en diskriminasie uitlig,” het Nair destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.