Gʼn ambulans beskikbaar toe baba kom

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

ʼn Baba het skaars ʼn uur na sy geboorte op ʼn plaas in Fraserburg in die Noord-Kaap gesterf toe daar glo nie ʼn ambulans vir hom en sy moeder beskikbaar was nie.

Ure later, toe ʼn ambulans wel by die plaas opgedaag het, was die treurende moeder reeds besig om haar pasgebore kind se afsterwe op die dorp aan te meld.

Kort ná dié tragiese voorval het Catherine Constabel en haar lewensmaat, Francisco Roos, saam met Riaan Geel, ʼn VF Plus-raadslid, gesit en die verloop van gebeure uitgestippel.

Constabel het Saterdagaand om 23:00 op ʼn plaas digby Fraserburg in kraam gegaan, waarna sy die nooddiens op die dorp probeer bel het. Daar was egter geen antwoord nie.

“Roos het selfs by die plaaslike polisie om hulp aangeklop, maar die telefone het ook net gelui,” sê Geel.

Teen Sondag 04:00 het die paartjie besluit om die eienaar van die plaas waar hulle woonagtig is om hulp te skakel. Die eienaar, Pieter le Roux, woon egter in die Boland en nie op die plaas self nie.

“Hy het die nooddienste in Sutherland en Upington gekontak, maar die antwoord was bloot dat Fraserburg se ambulans onklaar is,” sê hy.

“Teen 05:00 is Constabel se baba tuis gebore, maar hy het kort daarna gesterf. Sy kon hom skaars vir ʼn uur lank vashou.”

Ure later, om 11:00, het ʼn ambulans wel uit Sutherland opgedaag, maar in daardie stadium het Constabel en Roos reeds plan gemaak om op die dorp te kom om die dood van hul kind aan te meld.

Aangesien Fraserburg se ambulans onklaar is, is ʼn kliniek die enigste beskikbare mediese diens vir inwoners. Die naaste beskikbare ambulans is boonop in Sutherland, wat 108 km per grondpad is.

In Calvinia (208 km van die dorp) is ʼn plaaslike hospitaal wat verwysings na die Enver Surtie-hospitaal in Upington (492 km ver) doen vir groter prosedures.

“Vinnige reaksie van ʼn plaaslike ambulans om noodgevalle te hanteer, is dus deurslaggewend,” sê Geel.

Twee weke vantevore het die VF Plus met Ayabongi Somi, hoof van die provinsiale nooddiens in die Namakwa-distrik, vergader en daar is bevestig dat Fraserburg geoormerk is vir ʼn werkende ambulans.

“Die VF Plus sal die druk volhou om te sorg dat die plaaslike inwoners ʼn menswaardige diens ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mnr De Beer ·

Polisie telefone lui net. Ambulans voertuie is onklaar of stukkend. Niks word instand gehou nie en polisie is te sleg oor die land.

Ek stem vir VF Plus. Maar VF Plus kan druk plaas op regering hospitale, instansies, polisie tot hulle blou word in die gesig. Niks gaan gebeur totdat almal opstaan teen die korrupte gemors van huidige regering wat nie eers bevoeg is om die werke te kan doen nie. Die huidige regering lot is is sleg en vol korrup.

Di ·

NIKS is meer in ‘n werkende toestand in die korrupte land nie. Alles gaan ten gronde en die korrupte regering skitter in hulle afwesigheid. Geen hoop meer om dinhe om te keer nie, ons is klaar oor die afgrond en moet maar self planne maak om te oorleef. Kan myself net indink hoe traumaties dit vir hierdie ouers moes wees

Marcello ·

Maar die ironie van die saak is, as dit stemtyd word, dan word daar weereens vir die ANC gestem. Veral die gesondheids dienste in die land, het so agteruit gegaan. My huishulp het haar jeup gebreek, sy het 10dae gelê voor sy geopereer is.

Blomkind ·

Dit kan jy weer sê…Mens het net nie meer woorde nie…My mond hang oop van alles wat in die “hool” aan die gang is…

Papsak ·

Polisie doen nue hulle werk nie en ambulanse is lee doppe daarom gebeur dit worrie net mooi niks nie

Lillian ·

Hierdie scenario klink soos elke ander dorp/stad in ons land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.