Gʼn meer geld; kinderhuis moet deure sluit

Die Epworth-kinderhuis in Germiston aan die Oos-Rand sluit ná 105 bestaansjare sy deure aan die einde van Mei. (Foto: Masego Mafata/GroundUp)

Die Epworth-kinderhuis in Germiston aan die Oos-Rand sluit ná 105 bestaansjare sy deure aan die einde van Mei.

Dít nadat welsynsorganisasies se finansiering vanjaar met R223 miljoen besnoei is.

Die kinderhuis is een van verskeie organisasies sonder winsbejag in die provinsie wat omsien na vroue en kinders, wat aangekondig het hulle sluit, óf sluiting staar hulle binnekort in die gesig.

Die Gauteng Care Crisis Committee, ’n vrywillige organisasie wat gestig is om die 2 500 organisasies sonder winsbejag wat van finansiering van die regering afhanklik is, te ondersteun, sê 18 sodanige organisasies in Gauteng het reeds hul deure gesluit óf staan op die punt om dit te doen, sou hul aansoeke om geldelike hulp onsuksesvol wees.

People Opposing Women Abuse (Powa) is een van die organisasies wat sy deure sluit. Powa bestuur ses kantore, twee skuilings, twee Thuthuzela-sorgsentrums en vyf slagoffervriendelike kamers. Sy skuilings huisves 157 vroue en hul kinders, en hul slagoffervriendelike kamers bedien meer as 6 000 begunstigdes per jaar.

Penny Lundie, direkteur van Epworth, sê hulle is platgeslaan.

“Die departement het ʼn verklaring uitgereik dat die diensvlakooreenkoms vir finansiering vir 2024-’25 gereed is. Ongelukkig sluit ons weens ʼn tekort aan geld gedurende ʼn tydperk van nienakoming.

“Ons kon nie betyds al die nodige sertifikate bekom nie. Ons het dit laat ingehandig, maar dit het ons gelaat met ʼn tydperk van vier maande waarin ons toelae nie betaal is nie.”

Sy sê Epworth se personeel het reeds vir bykans vier maande nie salarisse ontvang nie.

“Dit het nie gekom sonder baie moeite en energie nie. Ons het alles in ons vermoë gedoen [om die sluiting te vermy].”

Die huis sal die 50 kinders in hul sorg nou by ander instansies plaas.

Bronwynn Engelbrecht, DA-LP en Gautengse woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, sê die besluit om Epworth te sluit volg ná noukeurige oorweging deur die direksie en bestuur, wat “onvermoeid elke moontlike manier ondersoek het om die organisasie te onderhou”.

Sy sê ongeag uitputtende pogings om finansieringsvennootskappe te verseker, kon die kinderhuis nie sy bedrywighede voortsit sonder die kritieke ondersteuning van die departement van maatskaplike ontwikkeling nie. Dit het gelei tot die moeilike besluit om die deure te sluit.

By die Siyabonga-kinderhuis, ook in Germiston, is personeel se salarisse met tussen 50% en 60% besnoei. Dié huis het vyf maande laas sy finansiering van die departement ontvang.

Werknemers se salarisse moes noodgedwonge met tussen die helfte en 60% gesny word.

“Om die kinders te red is belangriker as ons salarisse,” het ʼn personeellid op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Engelbrecht sê Epworth was sedert sy ontstaan ʼn baken van hoop vir ontelbare kinders en gesinne, wie se nalatenskap veel meer is as fisieke geboue en programme. “Die impak van Epworth se werk word weerspieël in die lewens wat aangeraak is en mense se toekoms wat gevorm is deur sy onwrikbare verbintenis tot sorg.”

Engelbrecht sê die sluiting is die einde van ʼn era wat aan weerlose kinders ʼn liefdevolle huis, verblyf, maaltye en opvoedingsgeriewe verskaf het.

Die DA waarsku die departement boonop al geruime tyd dat die meedoënlose sluiting van organisasies sonder winsbejag, sonder om die gevolge in ag te neem, gaan beteken dat weerloses op straat beland. Engelbrecht sê dit is nou duidelik die waarskuwings het op dowe ore geval.

Sy sê Epworth-kinderhuis se lot is tekenend van ʼn breër krisis vir dié hulpdienssektor in Gauteng en skep groot rede tot kommer. “Baie organisasies, soos Epworth, doen alles in hul vermoë om leemtes te vul waar staatsdienste tekort skiet. Tog word ondersteuning aan hulle toenemend minder en kan hulle weens burokratiese rompslomp en geldelike onsekerheid nie hul noodsaaklike werk voortsit nie,” sê Engelbrecht.

“Ons betreur die sluiting van hierdie organisasie en ander en doen opnuut ʼn beroep op die departement om die naderende ondergang te stuit wat veroorsaak word deur die onsekerheid van finansiering. Dit is veronderstel om organisasies te ondersteun om noodsaaklike dienste te bied aan die armes en kwesbares.

“Sou hierdie tendens voortduur, sal ons die risiko loop om hulpbronne van onskatbare waarde, wat die regerings se pogings aanvul en kritieke maatskaplike behoeftes aanraak, te verloor.

“Indien hierdie organisasies nie die gapings vul wat deur die staat gelaat word nie, kan die maatskaplike weefsel self in gevaar wees met die jeug, vroue en bejaardes wat oorgelaat word aan die oorweldigende uitdagings van ons land, veral armoede en geweld.”

  • Bykomende bron: GroundUp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

So hang die ANC hansworse in kerke rond, en belowe die maan en sterre.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.