Gʼn rede tot kommer oor wysigings aan skoolkalender  

(Foto: Anja van der Merwe / Maroela Media)

Indien voorgestelde wysigings aan die nasionale beleid vir die opstel van jaarlikse skoolkalender goedgekeur word, sal skole in Desember ʼn week vroeër sluit. Nog een van die voorstelle is dat leerders ook op meer as twee geloofsvakansiedae geregtig sal wees.

Die voorgestelde wysigings maak ook beter voorsiening daarvoor dat die jaarlikse skoolkalender aangepas kan word sou daar ʼn nasionale ramp of pandemie wees, wat nie die geval tydens die Covid 19-pandemie was nie. Hierdie wysiging is egter nog vaag en lui tans net dat indien daar ʼn nasionale ramp of pandemie sou ontstaan, die subkomitee oor skoolkalenders vir openbare skole “dringend moet vergader”.

Skoolvakansiedatums sal ook waarskynlik effens aangepas word om soveel as moontlik amptelike vakansiedae in te sluit.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die voorgestelde wysigings verlede week in die Staatskoerant aangekondig en die publiek het tot volgende maand om kommentaar daarop in te dien.

Wysigings beïnvloed nie onderrigtyd

Die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas) sê egter daar is gʼn rede tot kommer oor die voorgestelde wysigings nie en dat geen onderrigtyd verlore sal gaan nie.

Juané van der Merwe, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas en hul hoof van regsdienste, sê uit kommentare oor die afgelope jare oor die skoolkalender het die departement besef dat daar sekere voorskrifte in die beleid is wat die minister beperk om ʼn kalender op te stel wat prakties en sinvol is.

Die beleid in sy huidige vorm maak ook nie voorsiening vir wat tydens ʼn ramptoestand moet gebeur nie.

“Die voorstel dat die skool in die eerste week van Desember moet sluit, is ʼn voorstel wat ons beslis ondersteun,” sê Van der Merwe.

“Die rede hoekom ons so sê, is omdat provinsiale onderwysdepartemente van skole verwag om die finale punte reeds teen einde November by die departement in te dien. Teen daardie tyd is skole reeds deur die kurrikulum en is die eksamen afgehandel.

“Die huidige beleid bepaal dat die skool eers in die tweede week van Desember sluit, maar vir daardie twee weke daag kinders eenvoudig net nie op vir skool nie. Dis eintlik maar verlore tyd.”

Van der Merwe sê dit sal uit ʼn praktiese oogpunt sin maak om die skole liefs vroeër te sluit. Dit sal onderwysers wat matriekvraestelle nasien ook ʼn bykomende week daarvoor gee.

“Met hierdie voorstelle probeer hulle nou ook om ʼn bietjie meer beweegruimte te skep om uiteindelik toe te sien dat openbare vakansiedae ook in ʼn skoolvakansie val,” sê sy.

“Daar is geen wysigings aan die hoeveelheid skooldae wat die kinders moet hê nie. Daar moet steeds 200 skooldae wees. Die lengte van die kwartaal word ook voorgeskryf, so daar moet ʼn bepaalde aantal skooldae elke kwartaal wees.”

Van der Merwe sê sy is dus nie bekommerd dat daar ʼn verlies aan onderrigtyd gaan wees nie.

“Ek dink die oogmerk met hierdie voorgestelde wysigings is juis dat skoolvakansies so geskeduleer word dat die grootste hoeveelheid openbare vakansiedae in hierdie tydperk val, en daar is steeds daardie voorskrif wat waarborg dat daar aan die voorgekrewe aantal skooldae voldoen word.”

Van der Merwe sê wanneer daar op ʼn Dinsdag of Donderdag ʼn openbare vakansiedag is, daag kinders dikwels nie op ʼn Vrydag of Maandag by die skool op nie.

“Ouers verkies dan om ʼn langnaweek daarvan te maak, en dit maak vir my sin om daardie dae dan ook ʼn skoolvakansiedag te maak, solank daar steeds aan die voorgeskrewe hoeveelheid skooldae voldoen word.”

Daar is ook ander onduidelikhede in die beleid, veral as die by verskillende kalenders vir kus- en binnelandse skole kom, sê Van der Merwe.

“Die beleid bepaal ons kus- en binnelandse provinsies moet op twee verskillende dae open – onder meer om verkeer te reguleer vir die toerismebedryf. Hulle praat van ʼn verspreide kalender, so daar is twee kalenders vir die kus- en binnelandse skole. Dit maak dit soms prakties moeilik vir die departement om ʼn kalender te bepaal en dit so uit te werk dat openbare vakansiedae juis binne skoolvakansies val. Hierdie wysigings sal dus vir die departement meer beweegruimte gee om dalk net ʼn enkele kalender te publiseer.”

Fedsas sê hul enigste kritiek in dié stadium is wat die skoolkalenderkomitee se rol sal wees indien daar ʼn ramptoestand of pandemie is, en dat kusprovinsies steeds korter vakansies as binnelandse provinsies sal hê – wat minder rustyd vir leerders en onderwysers beteken.

Van der Merwe verwys spesifiek na die rusperiodes ná die eerste kwartaal, wat vir kusprovinsies een week en vir binnelandse provinsies twee weke is.

Kommer oor skoolbywoning

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die organisasie is bekommerd dat begin- en einddatums van kwartale nie duidelik is nie, en ook dat die aantal geloofsvakansiedae nie meer tot twee beperk word nie.

“Dit gaan beslis ʼn nadelige uitwerking op skoolbywoning hê en selfs die pliggies kom nie skool toe as dit opsioneel is nie.

“Om elke vakansiedag op ʼn Donderdag of Dinsdag in ʼn langnaweek te omskep, gaan ook skoolbywoning beperk. Wetswysigings gaan werksetiek skaad en eerder tot minder skoolbywoning  weens meer onsekerheid lei. ʼn Vaste, weldeurdagte kalender baat almal en help ouers en onderwysers om vooruit te beplan vir werk en vakansies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anje ·

Goeie Genade! Dan moet hul nou regtig afslag gee sodat ons iemand anders kan betaal om na ons kinders te kyk.

Bre ·

Skole is daar om onderrig te gee en nie om na kinders om te sien nie. As jy vir jou kinders omgee SAL jy n plan maak. Ek sal die maand lange Desember vakansie verwelkom… meer tyd saam met my kinders.

Janine ·

Ons BETAAL uitspattige skoolfonds alreeds! “As jy omgee vir jou kinders”… Verstaan JY dalk dat ander mense nie so bevoorreg is om nasorg/dagsorg te KAN bekostig nie? Meer tyd saam jou kinders? Niemand het eens ‘n maand se verdomde verlof nie. Tsk. Anje het haar kommentaar dalk net bietjie verkeerd bewoord.

Nommer 7 ·

Janine, doen aansoek vir konsessie afslag soos per Staatskoerant 29311 paragraaf 6. Gebruik aansoekvorm soos aan Staatskoerant aangeheg. Skole mag nie eie aansoekvorms gebruik nie, en mag ook nie ouers uitvrae oor bates nie, slegs inkomste. Vir die formule word alle verpligte uitgawes gesien as skoolfonds. Dit is verpligte skryfbehoefdes, sportklere, ekstra vakke ens.

TruthDealer ·

Ek sou ook dit verwelkom, maar onthou in heelwat huishoudings Moet die ma en pa werk om kos op die tafel te sit, dan sal hulle ook nog n voldag kinderoppasser moet betaal.

Roek ·

My vraag is wie maak die kinders, en hoe beplan die mense , die land is al 20 jaar of meer in sy glorie, as jy wil kinders he moet jy beplan , kyk maar oral in afrika, almal staan in rye vir hulp , die vrou is swanger , baba op die heup en ‘n kleuter aan die hand met ‘n baba op sy of haar rug , hoe kan ‘n mens dit aan jou kind doen??

onderwysers is opvoeders en nie kinder oppassers nie, betaal as jy een wil he en dit is dit !!!

Moedeloos ·

Ek stem want niemand kry 6 weke verlof nie en waarheen moet jy met jou kinders gaan as skole nog vroeer sluit. Niks te doen met beplanning of opvoerder wat oppassers is nie. Die opvoeders het te gemaklik geraak om hul werk in skooltyd te doen.

Moedeloos ·

Dis eerder die ouers, wat dit kan beskostig of by die huis is, wat hul kinders uit die skool hou en nie die skool wat vroeer sluit nie.

Eugene ·

Hulle kan nie eers gesins beplanning doen nie, wat nog van om die skool kalender te verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.