Goedkoper petrol, duurder diesel vir Oktober

Argieffoto (Foto; andreas160578/Pixabay)

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het ʼn daling in die petrolprys aangekondig. Dié daling tree op 5 Oktober 2022 in werking.

Gebaseer op huidige plaaslike en internasionale faktore word die brandstofpryse vir Oktober 2022 soos volg aangepas:

  • Petrol (93-oktaan): daling van 89c per liter
  • Petrol (95-oktaan): daling van R1,02 per liter
  • Diesel (0,05% swaelinhoud): styging van 10c per liter
  • Diesel (0,005% swaelinhoud): styging van 15c per liter
  • Paraffien (groothandel): daling van 61c per liter
  • LP Gas (groothandel): styging van 19c per kg

Mantashe sê die aanpassing is hoofsaaklik gebaseer op ʼn daling van $94 per vat vir Brent-ruolie tot $89,79 per vat vir die periode onder hersiening. Dit is danksy ʼn laer aanvraag van China, alhoewel hulle ekonomie stadigaan begin hervat; die vrystelling van ruolievoorraad deur die Internasionale Energieagentskap (IEA)-lidlande en die VSA; goedkoper oliepryse van Saoedi-Arabië om mee te ding met goedkoper olie wat deur Rusland verkoop word; en ʼn daling in die olieprys uit vrees vir ʼn wêreldwye resessie.

Die gemiddelde internasionale pryse vir petrol, paraffien, diesel en LPG het ook tydens die periode onder hersiening gedaal.

Volgens Mantashe het die verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar (van R16,70 tot R17,55) ook ʼn invloed gehad op die aanpassings. “Die rand was sedert Mei 2020 op sy swakste teenoor die Amerikaanse dollar. Die situasie het vererger ondanks die onlangse aankondiging deur die Amerikaanse Federale Reserweraad om die rentekoers met 75 basispunte te verhoog weens voortgesette vrese vir ʼn resessie.”

Die negatiewe balans op die staatsoliefonds op petrol en diesel het in Augustus vanjaar R9,7 miljard beloop. Die balansheffing (slate levy) van toepassing op die prysstruktuur van petrol en diesel bly dus onveranderd op 83,28c per liter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Callie ·

As ons ‘n behoorlike regering gehad het sou die wisselkoers baie beter gewees het en die daling in prys dus baie meer.

Janine ·

Ek gaan maar my diesel VW Polo parkeer. Geen mens kan die stygings meer hanteer nie. Dis belaglik!

VaalDonkie ·

My arme Subaru gebruik 1 liter elke 8km. Weet jy hoe swets EK elke maand?

Janine ·

Ek het JUIS 15 jaar terug ‘n diesel gekoop want dit was goedkoper. My 1900 TDI is steeds lig, maar goeie genade! :(

Old no7 ·

Wil iemand asb nie vir ons verduidelik hoekom diesel nou al vir die 2de maand styg en petrol daal nie. Die produkte kom uit die selfde vat olie uit en as dit die raffineerdery proses is wat die verskil maak, moet dit mos al 2 affekteer.

mattk ·

Dit is vir my net te wonderlik dat die rand alewig verswak as die olieprys daal en versterk as dié prys weer styg. Die kaders weet presies hoe om die pryse te manupileer, en die persentasie wisseling word nooit heeltemal deur gegee aan die gebruiker nie.

Hennie ·

Diesel word duurder omdat EKSDOM miljoene liters van dit benodig. Sodoende betaal die verdomde belastingbetalers weer vir die gelag, terwyl ons hel hoë verhogings moet trotseer!

Fran ·

Ses jaar gelede my dieselkar gekoop en toe was diesel goedkoper as petrol. Het ‘n voeltjie hoor fluit dat ESKOM het die hoër dieselprys nodig het om meer geld te kry vir diesel.

Joop ·

Die alewige “supply-demand” model. Eskom gebruik die diesel, tekort aan diesel, prys word verhewe. Dieselverbruikers betaal dus om die ligte aan te hou. Maaaaaar, ALMAL is dieselverbruikers siende dat diesel-enjins ons kos versprei. Duurder diesel, duurder kos. Ons het ou dieselmotors aangeskaf en maak ons eie brandstof.

SjN ·

Dit is n maklike manier vir die klomp kaders om tekorte aan te vul, prysverskil tussen diesel en petrol maak nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.