‘Goeie vriende’ vermoor dalk vermiste man

Hennie Venter. (Foto: Facebook)

Die twee mans wat daarvan verdink word dat hulle een van hul vriende vermoor het en dele van sy liggaam op ʼn kleinhoewe in Limpopo gestrooi het, het Maandag hul aansoek om borgtog laat vaar.

Luidens ʼn verklaring deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) staan Gareth Alexander Potgieter (34) en Wynand Carel Steyn (34) tereg op die moord van Hennie Venter (36). Die verdagtes was glo goed met Venter bevriend.

Die twee het vlugtig in die Northam-landdroshof verskyn, nadat Steyn Saterdag in hegtenis geneem is. Potgieter is reeds op 17 Julie vasgetrek. Die saak is tot 29 Augustus uitgestel.

Venter is in September verlede jaar as vermis aangemeld en sy familie het sedertdien gespook om uit te vind wat van hom geword het. Hulle het ʼn private speurder aangestel en etlike maande later was daar ʼn deurbraak in die saak, toe die ontbinde oorskot van ʼn man, vermoedelik Venter, op verskillende plekke op die hoewe in die omgewing van Northam gekry is.

Alicia Venter, een van Hennie se sibbe, het aan Maroela Media vertel dat hulle al ʼn geruime tyd vermoed Hennie is vermoor.

“Ons het dadelik geweet iets is fout toe hy verdwyn het. Ons is ʼn baie gehegte familie en ons almal praat byna elke tweede dag met mekaar,” sê sy.

“Ons het begin wonder waar hy is. Ons is toe na Northam, waar ons meer as 400 strooibiljette opgesit het om inligting in te win oor sy verdwyning.”

Die private speurder wat die familie aangestel het om ondersoek in te stel, het reeds in Desember ʼn anonieme oproep ontvang dat Hennie glo vermoor is. Ná maande lange gesukkel het die speurder en die polisie op die opgekapte oorskot afgekom.

“Geen mens verdien dít wat met Hennie gebeur het nie.”

Sy sê die maande lange onsekerheid wat haar familie moes deurmaak toe hulle nie geweet het waar Hennie is nie, was ondraaglik.

“Die onsekerheid was die ergste: Het my broer ʼn warm bed om in te slaap, het hy iets geëet, het hy met opset weggeraak, word hy gevange gehou of gemartel? Die gedagtes wat by ʼn mens opkom, is oorweldigend. Tog hoop jy steeds dat elke oproep goeie nuus gaan wees,” sê Alicia.

“Die grootste seer wat ʼn mens kan deurgaan, is die twyfel, die onsekerheid.”

Hoewel Hennie se familie dankbaar is dat daar eindelik ʼn paar antwoorde oor die dag van sy dood ingewin is, meen Alicia as die twee wel skuldig bevind word aan haar broer se moord, sal tronkstraf bloot nie ʼn erg genoeg straf wees nie.

“Eendag gaan hulle voor die Here moet staan en rekenskap gee – dit is tog erger as enige mate van straf op aarde.”

Die forensiese ondersoekers wag nog op DNS-toetse om die oorskot wat gevind is positief met Hennie te verbind, maar Alicia is oortuig daarvan dat dit wel haar broer is. “Daar is goed wat gevind is wat ek beslis weet aan my broer behoort het.”

“Mag die Here saam met elkeen wees wat platgeslaan is deur Hennie se dood. Hy het by baie mense se harte ingekruip.”

Hennie word oorleef deur sy ouers, Hennie Venter (sr) en Drieka Roux, en sy twee susters, Estelle Swanepoel en Alicia.

Oor haar broer het Swanepoel gesê, “Jy sal altyd my kaptein bly”, na aanleiding van Kurt Darren se “Kaptein”, wat hy graag vir sy ousus gesing het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pannies ·

Lyk my daar is mense wat mal raak en sulke goed doen.
Hoop die skuldiges word vasgetrek en boet.

George ·

Klaar vasgetrek, nou moet hulle net straf kry, kom ons hoop meer as 8jaar.

My Mening ·

In my liewe lewe hoop ek nie ooit dat sulke “vriende” my pad kruis nie. My innige meegevoel aan sy geliefdes.

Groen-oog ·

Ai wie het nou vyande nodig met sulke vriende. Die mensdom raak heel simpel en onvoorspelbaar .

Christine ·

Nee, nie met ons regters nie! Die verkeerde mense sal gehang word!

Toy ·

Dit was uiters wreed en onnodig gewees. Hulle is nie die naam goeie vriende werd nie.

Harley Davidson ·

Kan nie glo wat hulle gedoen het nie as dit so is en hulle word bo alle redelike wyse skuldig bevindsal sa straf te lig wees vir hulle.

Miena ·

dis regtig verskriklik!!! WIE maak n ander persoon dood , sny hom op en strooi dan die liggaamsdele rond? Of liewer moet ek vra – watter tipe mens – wat jy dink jou vriend is – doen dit? Word so iets beplan of is dit n ingewing van die oomblik ding? Wat gaan deur die persoon se gedagtes ten tyde van die opkappings-proses? Is so n persoon nog 100% bewus van wat om hom aangaan? Reg vs Verkeerd? Ek kan net nie… nee die Hemele hoor my ek kan dit nie verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.