Gordyne lig weer by Die Boer-teater

Die bekende Die Boer-restaurantteater in Durbanville, Kaapstad, se deure open weer op 20 Augustus nadat die teater vroeër vanjaar tydelik weens die pandemie gesluit is.

Eienaars Jurgen Human en Margit Meyer-Rödenbeck, wat reeds die afgelope 16 jaar hierdie gewilde landmerk in die noordelike voorstede van Kaapstad bestuur, sê Covid-19 het soos ʼn brand deur die kunstegemeenskap gewoed.

“Dit is moeilik vir klein teaters soos ons, wat geen bystand van die regering kry nie, om te oorleef, maar ons is vasbeslote om nie deel van die statistiek te word nie.”

Volgens die eienaarspaar begin hulle “van voor af”, met ʼn splinternuwe sjef, personeel en spyskaart.

“Om ʼn restaurant wat al amper ʼn jaar lank toe is, weer aan die gang te kry, is soos om ʼn groot skip om te draai. Behalwe die nuwe personeel, moet alle voorraad wat nie verkoop kon word nie, ook vervang word en dit beteken ʼn groot aanvanklike uitgawe.”

Om Die Boer se heropening te vier, gaan kunstenaars soos Wicus van der Merwe, Dowwe Dolla, Corlea Botha en Francois van Coke ʼn openingskonsert aanbied wat gekombineer sal word met ʼn geldinsameling deur Jaco van Dyk en Hamilton Wessels, die manne van WOES TV.

Margit Meyer-Rödenbeck in die Maroela Media-ateljee.
(Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

ʼn Maksimum van 50 mense sal die openingskonsert kan bywoon. Die konsert sal gratis aanlyn gevolg kan word, maar daar sal ook lotery-kaartjies te koop wees met groot pryse op die spel.

Human en Meyer-Rödenbeck sê hulle is dankbaar vir die twee Woes-konserte wat vroeër in die jaar aangebied is, waarby bykans 100 000 mense aanlyn ingeskakel het.

Dit het hulle in staat gestel om die lang hibernasietydperk se lopende koste te dek en broodnodige herstel- en opgraderingswerk te doen.

“Ons is gereed en opgewonde om vir teatergangers die nuwe Boer te wys. Ons benodig nou net ʼn laaste hupstootjie om al die leë rakke en yskaste weer vol te kry.”

Kunstenaars soos Marion Holm en Jak de Priester sê hulle is “verheug” dat Die Boer se deure weer oopmaak.

“Mag ons almal, die publiek én die kunstenaars, oor 20 jaar van nou steeds onthou hoe diep dankbaar ons nou op hierdie oomblik is oor Die Boer wat weer oopmaak. Mag ons hulle nooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie en altyd mildelik en met dankbaarheid ondersteun,” sê Holm.

“Die Boer is onlosmaaklik deel van my reis as kunstenaar. Elke nuwe album en vertoning stel ek by dié teater bekend voordat ek dit deur die land neem,” voeg De Priester by.

Gaan na Die Boer se webtuiste vir die volgende paar maande se program. Kunstenaars soos Dan Patlansky, Reënwolf, Marc Lottering, Pietman Geldenhuys, Sandra Prinsloo, David Kramer en vele meer is binnekort hier op die planke te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja dis ‘n baie lekker plek. Was al ‘n paar keer daar.

Tanniepetoors ·

Dis wonderlike nuus. Baie voorspoed vir julle. Ek mis nie ‘n ete daar as ek Kaapstad toe gaan nie. Heerlikste atmosfeer en vermaak.

louis ·

Uitstekende nuus , ons het die kunste nodig en trek binnekort malmesbury toe en sal julle kom ondersteun in durbanville

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.