Goue Gerda soek vyfde sege in Dubai

Suid-Afrika se Gerda Steyn hoop op ‘n vyfde oorwinning by die Dubai-marathon. (Foto: Dubai-marathon)

Suid-Afrika se Gerda Steyn slyp haar tande vir ʼn vyfde oorwinning in die 10 km-wedloop in die Dubai-marathon wat Sondag plaasvind – en sy is beslis ook die vuurwarm gunsteling om met die goud weg te stap.

Die Dubai-marathon se 10 km-wedloop is altyd die gewildste wat deelnemersgetalle betref, maar as enigiemand Steyn se marathon-kroon wil afrokkel, gaan hulle moet hardloop dat dit klap.

“Ek was baie bevoorreg om ʼn wonderlike 2023 te kon geniet met die drie noemenswaardigste dae toe ek die Twee Oseane-marathon en die Comrades-marathon in Suid-Afrika gewen het, gevolg deur ʼn nuwe nasionale marathonrekord in Spanje in Desember,” het die 33-jarige Suid-Afrikaner, wat in Dubai gesetel is, gesê.

Steyn het verlede maand haar eie Suid-Afrikaanse marathonrekord van 2:25:28 tot 2:24:03 verbeter toe sy die 11de vroueatleet oor die wenstreep in Valencia was. Sy het boonop lag-lag vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer.

Sy begin die nuwe jaar met wel met die korter 10 km-wedloop in Dubai, maar gegewe haar vorige oorwinnings daar, is haar deelname aan die korter wedloop nie juis ʼn verrassing nie.

“Ek het die 10 km-wedloop in Dubai elke jaar sedert 2018 gehardloop en ek het dit vier keer gewen. Ek kan nie aan ʼn beter manier dink om die nuwe jaar af te skop as om weer eens daaraan deel te neem nie.

“My doelwit is om die 10 km weer te wen en hoewel ek nie die volle marathon hardloop nie, kry ek steeds die geleentheid om deel te wees van die ikoniese geleentheid.”

Die Dubai-marathon is die wegspringplek vir wat ʼn besige jaar vir die Adidas-atleet gaan wees.

Benewens haar deelname aan die Comrades- en Twee Oseane-marathon, gaan Suid-Afrika se vinnigste vrouemarathonatleet ook die land by die Spele in Parys verteenwoordig. Dit sal Steyn se tweede Spele wees nadat sy in 2021 in Sapporo 15de in die marathon geëindig het.

Maar eers wag Dubai – met die Suid-Afrikaanse blits wat die vinnige en plat paaie van Umm Suqeim sonder meer sal wil tem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.