Groeiende kommer oor stygende tienerswangerskappe

(Foto: Maroela Media)

Terwyl daar wêreldwyd ʼn afname in tienerswangerskappe aangeteken is, het die swangerskapskoers onder tieners in Suid-Afrika egter kommerwekkend toegeneem.

Net op Kersdag verlede jaar was daar 145 geboortes onder tienerma’s, onder wie twee 14-jariges van KwaZulu-Natal.

Tussen April 2021 en Maart 2022 is ʼn skrikwekkende 90 000 swangerskappe onder meisies tussen 10 en 19 aangeteken, met meer as 150 000 jong meisies wat gedurende die 2022-’23-boekjaar swanger was.

Dr. Jessica Stanbridge, ʼn psigiater en lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (Sasop), sê die toename kan onder meer toegeskryf word aan sosio-ekonomiese uitdagings, onvoldoende seksvoorligting, geslagsgebaseerde geweld en beperkte toegang tot voorbehoedmiddels.

“Tienerswangerskappe dui gewoonlik op ʼn onbeplande swangerskap, terwyl swangerskappe by jong minderjariges (tussen 10 en 14) bewyse van statutêre verkragting is,” het Stanbridge gesê.

“Dít, tesame met die kommerwekkende aantal ongeregistreerde geboortes, miskrame en straat- of agterplaas-aborsies, skets ʼn ontmoedigende prentjie.”

In die lig hiervan en met die aanvangs van Swangerskapbewustheidsweek (6 tot 10 Februarie), wil Sasop die ernstige geestesgesondheidsuitwerking op tienerma’s aan die groot klok hang en lig werp op die veelvuldige uitdagings wat dié kwesbare groep in die gesig staar.

Stanbridge waarsku dat swangerskap onder minderjariges verreikende gevolge het wat onderrig, lewensbestaan en die gesondheid (waaronder geestesgesondheid) van ma en kind beïnvloed.

“Baie swanger tieners verlaat skool, wat hul onderrig en moontlike werksgeleenthede beïnvloed. Maatskaplike gevolge sluit in verminderde status in hul gemeenskap, verhoogde stresvlakke, portuurverwerping, gesinsgeweld en vroeë huwelike.

“Die tol wat die kraamproses op tieners se geestesgesondheid eis, moet ook nie onderskat word nie. Tienerswangerskappe gaan dikwels gepaard met ʼn reeks emosionele en sielkundige uitdagings, wat die geestelike welstand van jong ma’s beïnvloed.”

Stanbridge sê die maatskaplike stigma, tesame met die skielike oorgang na ouerskap, kan tot verhoogde stres, angs, depressie en posttraumatiese stresversteuring lei.

Suid-Afrika het boonop, ongeag ouderdom, die hoogste koers met een uit drie vroue wat geestesgesondheidsimptome tydens die nageboortelike proses ontwikkel.

“Swanger tieners in Afrika suid van die Sahara ervaar geestesgesondheidstoestande tot 30% hoër as hul volwasse eweknieë, wat tot volwassenheid voortduur.”

Stanbridge sê voorts vroue met geestesongesteldheid het meer ingewikkelde swangerskappe, waaronder voortydige bevallings, doodgeboortes en pasgeborenes met ʼn lae geboortegewig.

“Die belangrikheid van deurlopende geestesgesondheidsorg vir ma en kind kan nie oorbeklemtoon word nie. Tieners verwaarloos dikwels ook voorgeboortesorg wat die kind se welstand en geestesgesondheid op ontwikkelingsvlak beïnvloed.”

Simptome van geestesgesondheidstoestande onder tienerma’s (en volwasse ma’s) sluit onder meer in:

  • Terneergedruktheid
  • Vorm moeilik ʼn band met die baba
  • Angs en angsaanvalle
  • Probleme met die versorging van die baba
  • Selfdoodgedagtes
  • Oorweldigende moegheid
  • Minderwaardigheidsgevoel
  • Gedagtes om hulself en hul baba seer te maak
  • Sukkel om enige aktiwiteite te geniet

“Dit is uiters belangrik om enige geestesgesondheidskwessies te erken en te hanteer om die holistiese welstand van jong moeders en hul pasgeborenes te verseker.

“Die lys toestande en simptome is lank. Die hoofdoel is egter om te weet dat geestesgesondheidstoestande algemeen voorkom en dat dit belangrik is om professionele ondersteuning vroeg na te streef. Ondersteuning van ouerintervensie is van groot belang vir hierdie kwesbare bevolking, met die klem op verbeterde geestesgesondheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Karoo ·

SASSA… dia die rede en die enigste rede. Gaan my verstand te bowe dat jy niks het nie, jy kry voorbehoedmiddels maar sy kry ‘n baba inruil vir’ n paar rand wat jy met die Pa ook moet deel. So kweek jy net nog armoede.

Rooikopheks ·

Voorbehoedmiddels is gratis by klinieke landswyd. Die probleem is eerder morele waardes.

Gerhard ·

Ja, ek stem volkome saam, SASSA is ‘n euwel. Dit is skrikwekkend en eintlik angswekkend dat ons regering nie iets hieraan gedoen kan/wil kry nie, of aanvaar hulle net dat deel van sekere kulture is….. Die man wat ‘n 10 jarige meisie swanger maak moet vir verkragting aangekla en veroordeel word. Ek sidder om te dink wat die arme kindertjies deurgaan, wat self nog ‘n kind is en ‘n kind in die lewe moet bring. Iewers sal iemand daadwerklik aandag hieraan moet gee, maar sal seker die SASSA verhoog eerder as om die probleem aan te spreek.

Lettie ·

Stem saam die sogenaande “grant” is hiervoor verantwoordelik. Op die ou end sien jy moeder en kindjie bedel vir ekstra inkomste. Die regering voel absoluut niks vir hulle nie en het nie fondse om hul genoegsaam te ondersteun nie.

Anel ·

Dit gaan oor die toelaag. Verder, ek het dan gedink met die vak ek dink lewensorientering hierdie aspekte bespreek word. Maar nou ja, bietjie na my kinders se tyd. Ek onthou in e’ Lollipop het ‘n amerikaner die klomp probeer leer van voorbehoeding. Die voorbeeld wat sy gebruik het was 2 kinders, klein motor, 10 kinders, groot motor. Nou hoe het sy gedink gaan die lot reageer. Almal wou die groot motor mos hê. Die voorbehoedpille het hulle fyn gemaak en gesnuif. So van sê ek 1972 tot vandag het hulle dieselfde mentaliteit. Dalk moet mens dit omdraai. 2 kinders groot huis en dalk ‘n toelaag, 10 kinders klein huis, geen toelaag. Anders, meisies onder 21 wat nog nie klaar is met skool kry nie toelaag nie. Dit moet so onaanloklik wees vir hulle om kinders te hê!!!!!

Bekkie ·

SASSA, my skoondogter kry ook SASSA vir haar en kind, maar ek maak kind groot!! Daar word niks vir die arme kind bygeddra nie. Hulle maak net kinders en ouers en groot ouers moet eintlik opdok

AH ·

Die SASSA toelaag is ‘n groot trekpleister waarvoor oningeligde jong meisies val. Hulle besef nie dat die paar rand nie eens ‘n maand se doeke vir die baba kan koop nie! Sodra hulle met die realiteit van ouerskap moet saamleef word die arme onskuldige kindertjies verwaarloos of mishandel. Dis so ‘n tragiese kringloop. Die regering kan iets daaromtrent doen deur die toelae af te skaf sodat dit nie as ‘n
“maklike” manier van inkomste gesien word nie.

Di ·

Stem 100% saam dat GRANTS die grootste oorsaak is dat kinders, kinders kry! Regering moet hierdie grants stop dan sal hulle minder kleintjies kry. “Close the legs and open the books”, dis wat die Minister in die nuus gese het oor kinders wat kinders kry. Die SEUNS wat hierdie dogters swanger maak, moet ook vasgevat word. Dis in hulle kultuur, punt! Gayton McKenzie het self in ‘n onderhoud gese dat GRANTS die 1ste ding is wat hy sal stop want die grants moedig hulle aan om meer en meer kinders te kry wat verder bydrae tot groter armoede en werkloosheid

Louis ·

@ almal oor SASSA die grant/toelaag. Dink dat Dr. Jessica Stanbridge dalk eerder na jul kommentaar moet luister as om ‘n klomp Westerse Eerste Wereldlandse sielkundige kwessies in Suid-Afrika in te bring. As jy stemme koop deur die kind te betaal om nog ‘b kind te kry, dan is dit die heersende party se skuld, nie sosio-ekonomiese omstandighede, statutere verkragting, beperkte toegang tot voorbehoeding ens ens nie. Dit is sulke demokratiese/liberale denke wat die 1992 oorgang laat plaasvind het en steeds ons as kiesers se denke lam maak.

Rika ·

Anel, dit is vir my nie lekker as jy praat van DIE LOT nie. Hulle is ook mense net soos ek en jy.

NelNel ·

Kindertoelae is verantwoordelik vir die haglike toestand. Aan die ander kant, die armes sal blý stem vir die ANC, juis omdat hulle vertel word dat hierdie toelae teruggetrek gaan word as die ANC uitgestem word. Toelae is ‘n euwel, hoe ‘n mens ookal daarna kyk.

Joan ·

Hou die pa verantwoordelik ongeag die ouderdom
vir onderhoud totdat kind selfstandig is.Vat die las weg van die staat.As hy nie kan nie moet ouers help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.