Grondwethof hoor gou saak oor reg om dié babas te begrawe

Renaldi Ingram (links), prokureur namens The Voice of the Unborn Baby, en Sonja Smith voor die hooggeregshof in Pretoria.

ʼn 16 jaar lange stryd om ouers van ongebore babas wat voor 26 weke sterf die reg te gee om hul kind te laat begrawe, word binnekort op die spits gedryf wanneer die saak in die Konstitusionele Hof aangehoor word.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Maart vanjaar beslis dat ouers, wat toe nie die reg gehad het om dié babas te begrawe nie, nou wél die reg het.

Ingevolge die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes word ʼn baba wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, as mediese afval beskou en gevolglik verbrand. Ná 26 weke kan ouers hul kind se oorskot wettig ontvang en begrawe, sou hulle dit verkies.

Die hooggeregshof het bevind sekere gedeeltes van die Wet op Geboortes en Sterftes (Badra) is teenstrydig met die Grondwet en is ongeldig in sover dit nie voorsiening maak vir dié ouers se reg om hul kind te begrawe nie. Die Konstitusionele Hof moet die uitspraak nou bekragtig.

Die organisasie Voice of the Unborn Baby en die Katolieke Aartsbisdom van Durban het hulle in 2017 tot die hof gewend en aangevoer ouers van kinders wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, se waardigheid word aangetas wanneer die oorskot van dié ongebore babas as mediese afval vernietig word.

Sonja Smith, begrafnisgroepeienaar en die dryfveer agter Voice of the Unborn Baby, veg al sedert 2005 ʼn lang, emosionele en peperduur stryd vir die regte van ouers van dié babas. Volgens Smith is hul regspan gereed vir die saak om in die Konstitusionele Hof aangehoor te word en hoop hulle dat geregtigheid sal geskied.

Die organisasie Cause for Justice (CFJ), wat as vriend van die hof by die saak betrokke was, meen die hofsaak se sentrale vraag handel oor die inherente waarde (of waardigheid) van menslike lewe en wat dit beteken vir die manier waarop menslike oorskot behandel moet word.

“Terwyl CFJ hierdie uitkoms gevier het, was die organisasie ook verbaas dat die hof arbitrêr en sonder rede versuim het om hierdie reg uit te brei na alle ouers. Ouers wie se baba voor geboorte sterf weens menslike ingryping, het steeds nie die reg nie – en word wetlik verbied – om die oorskot van hul baba te ontvang vir doeleinde van ʼn begrafnis.”

Volgens CFJ is daar geen rasionele grondslag vir hierdie ontkenning van regte aan ouers wat die menslikheid van hul baba wil erken en hul groot verlies betreur by wyse van ʼn begrafnis nie. “Ewe kommerwekkend is dat die uitspraak oënskynlik aan ouers die mag gee om te bepaal of ʼn baba wat voor geboorte sterf, wettiglik as ʼn ‘mens’ erken word of nie. CFJ beskou dit as ʼn ernstige onreg: Ons menswees kan nie afhanklik wees van iemand anders se wil om ons te laat lewe al dan nie, óf van die manier waarop ons sterf nie (hetsy deur natuurlike oorsake of weens menslike ingryping).”

CFJ het aansoek gedoen om ook in die Konstitusionele Hof-saal as vriend van die hof toegelaat te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gerhard ·

Volgens dit kan ons maar alle begrafnisse stop.
Ouers sien vir maande uit na n kind wat in die lewe gebring word. Gun hulle maar die kans om afskeid te neem?

Esme ·

Ouers, neem julle baba’s en gee hulle ‘n begrafnis. Oor die lange duur verlig dit die pyn van die reuse verlies en julle, as ouers, neem beheer oor julle geliefde baba’s se lewens. As die Staat in beheer is, is dit gewoontlik chaos.

Karina ·

Dit is my vlees en bloed, die baba was vir weke deel van my, ‘n baba is nie “mediese afval” nie. Dit was ‘n God geskape klein mensie besig om te groei na ‘n volwaardige mense. Hulle sal durf waag om my baba net “weg te gooi” Dank die Heer dat ek drie gesonde swanerskappe gehad het, nou pragtige volwassenes met eie kinders. My hart breek vir Moeders wat hul babas voor geboorte moes afstaan aan die dood, dan word hy/sy as ‘mediese afval’ behandel. Geen wonder hierdie CancER government het aborsies goedgekeur nie, omdat die babas nog nie mense is nie. Skande, my hart breek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.