Groot klopjag by Safa-kantoor

Danny Jordaan (Foto: safa.net via ANA)

Die Valke se afdeling vir ernstige kommersiële misdaadondersoeke het Vrydag op die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se hoofkantoor in Nasrec, Johannesburg, toegesak en onder meer beslag gelê op ʼn skootrekenaar, eksterne hardeskywe, ʼn geheuestokkie en dokumente.

Die klopjag volg op bewerings van diefstal en bedrog van R1,3 miljoen wat volgens die Valke met Danny Jordaan, Safa se president, verbind word.

Volgens kol. Katlego Mogale, die Valke se woordvoerder, word daar beweer dat “Safa se president [Jordaan] tussen 2014 en 2018 organisasiehulpbronne vir sy eie persoonlike gewin gebruik het, insluitend die huur van ʼn private veiligheidsmaatskappy vir sy persoonlike beskerming, asook ʼn openbare betrekkinge- maatskappy sonder die magtiging van Safa se direksie”.

Jordaan het na bewering ook Safa se statute oortree, met die gevolg dat Safa ʼn verlies van R1,3 miljoen gely het.

Mogale het nie verder oor die saak uitgebrei nie.

Maroela Media sal meer inligting bekend maak sodra dit beskikbaar is. ʼn Navraag is ook aan Safa gerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Dis reg, ondersoek en sluit toe as skuldig!! Maar wanneer kry zuma sy beurt??????

SjN ·

Wat het geword van hy en ene Fikile se R10 miljoen omkoop geld vir die sokkerbod die tyd?

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat het geword van Jennifer Ferguson se klagtes teen hierdie kêrel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.