Groot kommer oor ‘afgryslike toestande’ by Groblersdal-hospitaal

Ná ʼn onlangse besoek aan die Groblersdal-hospitaal in Limpopo het die DA ʼn dringende versoek aan die Menseregtekommissie (MRK) gerig om die “afgryslike toestande” by dié hospitaal te ondersoek.

Lindy Wilson, die DA se provinsiale leier in Limpopo, sê die toestande by die Groblersdal-hospitaal is ysingwekkend en bedreig die gesondheid en welstand van sy ongeveer 200 pasiënte.

“Die hospitaal is heeltemal te klein en kraampasiënte word in beknopte ruimtes ingeprop. Hierbenewens word hoogswanger vroue gedwing om op matrasse op die vloer te slaap. Die situasie is so erg dat selfs rusbanke gebruik word om die oormaat pasiënte te akkommodeer.”

(Foto: Verskaf)

Wilson sê die infrastruktuur is verwaarloos en besig om te verkrummel en dat opgraderings by die hospitaal nog nooit deur die departement van gesondheid in Limpopo gedoen is nie.

“Ernstige uitdagings staar die hospitaal in die gesig weens die toestroming van pasiënte uit omliggende gebiede, en weens ongelukke op besige paaie soos die N11 en R25 naby die hospitaal.”

Volgens Wilson het die hospitaal aanvanklik 22 beddens gehad. “Nou het die hospitaal 53 beddens wat in dieselfde klein ruimte ingedruk is. Die hele hospitaal het net twee teaterbeddens en nie een daarvan werk behoorlik nie.

“Boonop is ernstige personeeltekorte, insluitend ʼn tekort aan dokters, verpleegsters, ambulanspersoneel, skoonmaak- en tuinpersoneel ook groot rede tot kommer. Die hospitaal het 11 ambulanse maar kan weens personeeltekorte slegs twee gebruik.”

Wilson sê die hospitaal sit met verouderde en stukkende toerusting, ʼn tekort aan toerusting soos steriliseerders, broeikaste en verwarmers, ʼn gebrek aan noodsaaklike mediese voorraad en ʼn behoefte aan meer beddens in al die sale.

“Die DA sal aan Phophi Ramathuba, LUR van gesondheid in Limpopo, skryf om die opknapping van hierdie hospitaal te prioritiseer en om dringend aandag te gee aan die ernstige personeel-, bed- en toerustingtekort.”

Maroela Media het navrae aan die departement van gesondheid in Limpopo gerig en terugvoer sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

skurweberg ·

As die eerste kartetse val sal ons ook sê dit gaan sleg in SA.

Theunis ·

Swak en pateties deur die ANC, vir hulle (sic) is dit meer belangrik om in te meng met dit wat in die midde ooste gebeur as om na hulle eie mense se belange om te sien, dit wat in Groblersdal gebeur is ‘n goeie bewys van volksmoord……. Waar is CR en Panga in die geval? Dit is maklikker om jou vinger na iemand anders te wys as om jou eie probleme te herken… Nog erger is die mense (sic) wat hulle in bewind stem!!

Andre ·

…het hulle al na die LUR vir Gesondheid se huis gekyk en sy luukse voertuig?
Die A en C is tè slim vir julle!

Nettie ·

Ek sien hulle kon nuwe borde om die vaksienes te adverteer aanbring, maar nie onderhoud aan die hospitaal nie?

Dup ·

Derde Wêreld sal ons word.Stukkende geboue,stukkende paaie en stukkende alles.

Peter ·

99.9% van staatshospitale lyk en is so, courtesy of the ANC, piesang republiek

Anel ·

Hulle dink deker dat dit beter gaan gaan as die NHS deurgevoer word. Dan kan hulle net van die private hospitale gebruik!!!!!

Bekkie ·

En dit als vandag ANC oorgeneem het, geld misbruik het en nogsteeds doen!

OU SAAR ·

Gaan kyk ń biki na die Harry Surtie hospitaal in Upington.
Dis veronderstel om een van die bes toegeruste staatshospitale in die land te wees.
Op ń warm dag kan die kwik maklik tot 45°C styg indien nie hoër nie. Daar is geen verkoeling meer in daai hospitaal nie.
Nou as dit 45° buite is, hoe voel dit nie binne, sonder ventilasie nie.
Ek en hopelik die meerderheid Suid Afrikaners hoop vir ń groot verbetering op alle gebiede in ons land na die komende verkiesing. MENSE MOET NET REG STEM

Andries ·

Jy kan nie ‘n huis bou sonder fondamente nie en as die staasgesondheidstelsel so lyk sal die NGV nie eers vensterhoogte bereik voor dit inmekaar stort nie

Chopper ·

Dit het nie ewe skielik gebeur nie. Hoekom het hierdie politieke party dit nie al lankal aan die groot klok kom hang nie, net nou voor ‘n verkiesing wil hulle punte score. Wil net hulle “job” behou, voel vere vir ander mense. Alle politikusse is presies dieselfde!!

George ·

@Peter, beslis nie 99.9% nie. Wanneer was jy laas in n staatshospitaal, daar is talle wat bitter mooi en goed is, ja die minderheid, maar die getalle uit die duim suig is belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.