Groot skade midde stormweer in Kaap

Opruimingswerk is in Stellenbosch aan die gang nadat talle bome ontwortel is tydens die stormweer. (Foto: Stellenbosch-munisipaliteit/Facebook)

Groot skade is reeds aangemeld in verskeie gebiede oor die Wes-Kaap te midde van stormsterk winde en gure weer en wydverspreide vloede wat voorspel word.

Verskeie paaie in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit is gesluit weens die wind en bome wat ontwortel is. Die Hugenote-tonnel op die N1 naby die Paarl is in albei rigtings vir verkeer gesluit.

Die munisipaliteit se brandweerdiens het ook reeds op veelvuldige brande gereageer. Die brand op Papegaaiberg in Stellenbosch is suksesvol in bedwang gebring. ʼn Brand op Simonsberg by Pniel brand steeds buite beheer en word deur sterk wind in die rigting van Boschendal aangedryf.

Die brand op Paarlberg. (Foto: Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit/Facebook)

Die brand by Keerweder, Drakenstein, woed ook steeds buite beheer en een struktuur is vernietig, terwyl ’n ander gedeeltelike skade opgedoen het. Op Paarlberg is ʼn brand buite beheer en sterk winde is besig om die brand in die rigting van Rhebokskloof te stuur. Daar is volgens die munisipaliteit reeds op meer as 24 brande gereageer.

Maroela Media het vroeër berig die historiese Blaauwklippen-wynlandgoed buite Stellenbosch is tot verdere kennisgewing vir die publiek gesluit nadat stormsterk winde en ʼn brand groot vernietiging gesaai het. Die brand het Sondag in die vroeë oggendure op ʼn buurplaas uitgebreek en na Blaauwklippen versprei en van die wynlandgoed se ikoniese geboue in puin gelê. Die brand woed ook steeds buite beheer.

Honderde mense is intussen dakloos gelaat nadat ʼn brand deur die informele nedersetting by Kayamandi by Stellenbosch versprei en honderde strukture in puin gelaat het.

In die dorp word daar ook opruimings gedoen nadat bome ontwortel en takke afgeruk is. Verskeie paaie is gesluit. Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit is beduidende skade aangerig met dakke wat afgewaai het en verskeie brande wat ook in die omgewing woed.

Die Stad Kaapstad het gesê ’n aantal weerverwante voorvalle is by sy ramprisikobestuursentrum aangemeld. Somerset Mall is gesluit nadat dakplate afgewaai het.

Rampbestuurspanne is ook na die Morkel’s Cottage- en Donkerbos- informele nedersetting ontplooi nadat die dakke van sommige strukture afgewaai het. Die nooddienste is ook na Morkel’s Cottage ontbied nadat beserings aangemeld is.

Dakke het glo afgewaai en is beskadig in Somerset-Wes, Macassar, Mitchells Plain en Clifton. In Macassar, Seepunt en Philippi is talle bome ontwortel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.