Ikoniese geboue op historiese Blaauwklippen in puin gelê

Blaauwklippen se herehuis is in puin gelê deur die brand. (Foto: X)

Die historiese Blaauwklippen-wynlandgoed buite Stellenbosch in die Wes-Kaap is tot verdere kennisgewing vir die publiek gesluit nadat stormsterk winde en ʼn brand groot vernietiging gesaai het.

Die brand het Sondag in die vroeë oggendure op ʼn buurplaas uitgebreek en na Blaauwklippen versprei en van die wynlandgoed se ikoniese geboue in puin gelê.

Volgens die bestuur van Blaauwklippen het die brand na die historiese herehuis, wat uit 1789 dateer, versprei voor dit ook na Jonkershuis, wat uit 1720 dateer, en die kapel, wat in 2018 gebou is, versprei het. Al drie geboue is in puin gelê.

Blaauwklippen se herehuis is in puin gelê deur die brand. (Foto: X)

Ses brandbestrydingspanne, waaronder Blaauwklippen se rampbestuurspan en die van naburige plase, was binne minute op die toneel om die brand, een van vyf in die omgewing, te probeer blus. “Met winde van tot 139 km per uur het die brand verwoesting gesaai, maar daar is gelukkig geen beserings aangemeld nie.”

Blaauwklippen is Stellenbosch se oudste wynplaas en dateer uit 1682.

“Dit is inderdaad ’n hartseer dag vir Blaauwklippen aangesien erfenisbakens in die verskriklike brand vernietig is, maar die hartseer word makliker gemaak deur die dankbaarheid dat geen lewens verlore gegaan het nie en ons gee erkenning aan die vinnige ontruiming en heldhaftige pogings van ons personeel wat verseker het dat niemand beseer is nie,” het die bestuur gesê.

Die wynlandgoed sal om veiligheidsredes tot verdere kennisgewing vir die publiek gesluit wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cassie Carstens ·

Sjoe, dis hartseer. Wonder wat was die oorsaak van die brand?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.