Groot styging in petrolprys verwag

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) voorspel slegte nuus vir motoriste in Maart met die prys van diesel, petrol en paraffien wat na alle verwagting teen volgende Woensdag gaan styg.

Gegrond op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds is die verwagting tans dat die prys van 95-oktaan-petrol en 93-oktaan-petrol tussen R1,22 en R1,27 per liter gaan styg en die prys van diesel met sowat 28 sent per liter.

Die prys van paraffien sal na verwagting met 16 sent per liter styg.

Op grond van die data sal ʼn liter 95-oktaan-petrol in die binneland in die nuwe maand van R21,68 per liter tot R22,90 per liter klim, terwyl die prys aan die kus van sowat R21,03 per liter tot R22,25 per liter sal styg.

“Die prysstyging van internasionale olieprodukte dra tussen 76 en 82 sent by tot die verwagte styging in plaaslike brandstofpryse, terwyl die rand se verswakking teen die Amerikaanse dollar sowat 46 sent bydra,” sê die AA.

“Die petrolprysstyging is beduidend en sal ʼn negatiewe impak op huishoudings se begrotings hê. ʼn 50 liter tenk brandstof sal na raming R61 meer kos om vol te maak, of R244 as dit vier keer gedurende die maand volgemaak word, wat ʼn aansienlike prysstyging is.”

Die AA doen ʼn beroep op brandstofverbruikers om hul brandstofverbruik noukeurig te monitor en om te begroot volgens die nuwe brandstofpryse.

“Om beter brandstofverbruik te verseker, maak seker jou voertuig is goed onderhou en in goeie meganiese toestand, beplan roetes noukeurig en vermy swaar verkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stofdonkie ·

Ek kan nie meer begroot vir die prysverhoging nie, ek sal dan heeltemal moet ophou eet om die verhoging te kan bekostig

Sandra ·

Ek het gedreig om ‘n poegie te koop, maar dit gaan ook te duur wees om sy tenkie vol te maak. Sal maar perd moet opsaal, weet net nie waar ek dit gaan stal nie

marius ·

Hoe dan anders . Hulle moet bloed uit die klippe tap om hul sakke vol te stop . Die kaders se begrotings aandeel moet betaal word andersins gaan hulle soos gewone menses moet leef en dit kan nie toegelaat word nie .

WILLEM ·

Belasting betaal staking sal dalk help om die oe oop temaak.

Rooi rissie ·

Dit gaan alreeds so swaar met almal in die land wat probeer oorleef en dan wil hulle nog die laaste bietjie broodkrummels wat oor bly op die tafel van ons ook nog weg vat. Waar gaan alles eindig? Die koeie is droog gemelk die mense sukkel om n bestaan te maak met alles wat so vrek duur is in die land.

mynie ·

Vermy swaar verkeer. Sal probeer, maar beurtkrag op huis toe tyd in die middag werk nie lekker saam nie.

Danie ·

Laat hy kom ons sal net moet spaarsamig te werk te gaan alle onnodige ritte vermy meer beplan en glo my ons kan en kan en moet net saamwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.