Groot verwarring oor e-tol duur voort

(Foto: Outa)

Die drukgroep Outa het opnuut benadruk dat hy sal voortgaan om motoriste te verdedig wat ʼn dagvaarding van Sanral ontvang vir uitstaande e-tol-skuld.

Dit volg op kommentaar deur Mampho Modise, adjunk-direkteur-generaal van openbare finansies by die nasionale tesourie, in ʼn onderhoud met die webwerf Moneyweb. Modise het aan Moneyweb gesê “Gauteng het ingestem dat daardie skuld ingevorder moet en sal word”.

Outa bevraagteken egter Modise se opmerking en het dit as verwarrend bestempel aangesien e-tol-skuld deur Sanral ingevorder word en nie deur die Gautengse provinsiale regering nie.

“Wat die dreigement teen diegene met uitstaande e-tol-skuld selfs meer verwarrend maak, is dat Sanral in 2019 opgehou het om dagvaardings teen e-tol-wanbetalers uit te reik, en die meeste van hierdie skuld is nou afgeskryf,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

In Oktober 2022 het die minister van finansies, Enoch Godongwana, die einde van e-tol aangekondig. In Januarie verlede jaar het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, aangekondig dat R6,9 miljard terugbetaal sal word aan diegene wat e-tol betaal het, ʼn stelling wat hy sedertdien herroep het.

Tydens verlede week se provinsiale rede het Lesufi aangekondig dat e-tol teen 31 Maart iets van die verlede sal wees. Hy het ook gesê die Gautengse provinsiale regering het ingestem om R12 miljard aan Sanral se e-tol-skuld te betaal om die saak te finaliseer.

“Ons is meer verward as ooit deur die jongste aankondiging deur Modise. Wie moet ons glo, veral aangesien dit ʼn verkiesingsjaar is met verskillende politici wat soveel verskillende beloftes maak?” sê Duvenage.

Hy het die regering daarvan beskuldig dat hy besluiteloos is en nie sy eie beleid kan toepas nie.

“Tussen Sanral, premier Lesufi, min. Godongwana en die departement van vervoer, blyk dit niemand weet wat werklik aangaan wanneer dit kom by die finalisering van die e-tol-debakel nie.”

Outa sê dit lyk of diegene in die regering wat daarop ingestel is om die e-tol-aangeleentheid uit te rek, die toetshofsaak tussen Sanral en Outa-ondersteuners vergeet het vir dagvaardings wat uitgereik is vir uitstaande e-tol-skuld. Dit is steeds nie afgehandel nie.

Sedert Februarie 2019 verdedig Outa-prokureurs 2 028 sake namens e-tol-wanbetalers wat dagvaardings van Sanral ontvang het, met ʼn totale waarde van sowat R26 miljoen.

Hiervan is 1 929 sake met ʼn algehele waarde van R112,2 miljoen in landdroshowe gebring, met 99 sake in die hooggeregshof ter waarde van sowat R150,3 miljoen.

Een aspek van hierdie saak is om die grondwetlikheid (dus die wettigheid en afdwingbaarheid) van die e-tol-skema te betwis. In Maart 2019 het Sanral se direksie besluit om e-tol-dagvaardings te staak en intussen is al hierdie sake tydelik opgeskort wat die regskwessie onopgelos gelaat het.

 

Duvenage het weer bevestig dat Outa elke motoris wat ʼn dagvaarding van Sanral vir uitstaande e-tol-skuld ontvang, sal verdedig, mits hulle aan Outa die mandaat gee om dit te doen en Outa die geld daarvoor het.

“Ons sal nie bloot die regering se irrasionele plan om skuld in te vorder op sy ondoeltreffende, duur en grootliks onwerkbare stelsel aanvaar nie, veral omdat die regering self aangekondig het dat e-tol opgeskort gaan word,” sê Duvenage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Lesufi is die verwarrring,van LUR van onderwys tot premier.Weet sy ….of toemaar say no more

Papsak ·

Ja nee kyk hierdie verkiesing moet groot veranderings in bring laat die klomp gaan regtig hulle vat net oor op alles mense ek mag nie haat nie maar nouja daar gelaat !!!!!!!

Cassie Carstens ·

Dis duidelik die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie.

Karen ·

Weet enigeen in die regering wat werklik aangaan in die land? Dienslewering is n woord wat niemand meer verstaan nie. Word wakker! Ek is seker Graad een kinders kan beter besluite neem…

Bolandse Nooi ·

SANRAL IS die regering en die regering IS SANRAL. Nog nooit agtergekom nie, huh???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.