Gru-ongeluk eis hoogswanger onderwyseres

(Foto: Michelle Nel/Facebook)

ʼn Gru-ongeluk op die N1 in Centurion naby die Brakfontein-wisselaar het Dinsdagmiddag die lewe van ʼn 30-jarige gr. 1‑onderwyseres van Laerskool Lydenburg geëis. Michelle Nel was boonop hoogswanger met haar tweede kind, ʼn seuntjie, wat na verwagting in Maart sy opwagting sou maak.

CERT-SA, ʼn nie-winsgerigte en openbare begunstigde organisasie, sê in ʼn plasing op Facebook dat hul span in Centurion omstreeks 12:50 na die toneel ontbied is.

“Met ons aankoms op die toneel het ons op die sportnutsvoertuig afgekom wat op sy dak gelê het en oor twee bane van die snelweg versprei was.”

Nel se ma, Barbara du Plooy, en haar tweejarige dogtertjie, Carli, was glo saam in die motor toe die tragiese ongeluk plaasgevind het.

Nel is na bewering uit die voertuig geslinger. Sy en haar ongebore baba het ernstige beserings opgedoen. Haar ma en Carli het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel.

(Foto: CERT/Facebook)

“Ten spyte van onmiddellike mediese aandag, het ʼn hoogswanger vrou tragies aan haar beserings beswyk voordat sy per helikopter na ʼn vlak 1-traumafasiliteit geneem kon word,” lui die plasing op CERT-SA se Facebookblad.

“Aangesien die presiese omstandighede van die voorval nog onduidelik is, het wetstoepassingsowerhede ʼn ondersoek van stapel gestuur om die presiese besonderhede vas te stel.”

Die snelweg was vir etlike ure gesluit.

“Ons gedagtes is by almal wat deur hierdie tragiese voorval geraak is. Ons doen ʼn beroep op almal om versigtig te wees op die paaie en veiligheid ten alle tye te prioritiseer.”

(Foto: CERT/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Yolandie ·

Hoe tragies, my innige simpatie aan haar man…..familie en vriende. Mag julle in die hartseer tyd vertroosting by die Here vind. Sterkte vir julle.

Cherokee ·

Daar is dus tye wanneer ‘n veiligheidsgordel wel ‘n doel dien. Die feit dat sy hoogswanger was, het dalk die gebruik daarvan verhoed of bemoeilik. So jammer of van so iets te lees.

Skappie ·

Sterkte aan haar gesin, en almal wat haar geken het. Mag onse liewe Heer julle almal styf vashou in hierdie moelike tyd wat nou vir julle voorle.

Hendrik ·

Dit is baie tragies dat hulle die lewe verloor het. Elke dag sien ek hoe motors wansinnig jaag deur Brakfontein en dit is ‘n wondewerk dat daar nie meer ongelukke is nie. Met die Gauteng Metro Polisie wat net langs dit pad rond sit en taxi’s intimideer. Die taxi’s is baie min deur Brakfontein en dit is net hoëspoed SUV, bakkies en kouriers wat tussen ander deur jaag.

Antoinette ·

Ek wonder of die ou babatjie darem gered kon word. As haar datum vermoedelik Maart was is daar tog kans dat die kindjie per keisersnee gered kon word.

Bolandse Nooi ·

@Antoinette, hulle sê die ma (dus die baba ook) is op die toneel dood voor hulle haar kon vervoer per lug-ambulans na die naaste Vlak-1 (kritieke sorg) fasiliteit. As sy maar net haar veiliheidsgordel gedra het … 8½ maande swangerskap maak dit sekerlik moeilik, maar dan sou sy nie uit die voertuig geslinger gewees het nie en dalk net oorleef het.

Niklaas ·

Ai , dis darem so tragies. Sterkte aan die pappa en die ander familie. Innige simpatie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.