Gugulethu-slagting: Wes-Kaap eis prioritisering

Lindela Mraqisa (Foto: Verskaf)

Ná 10 sterftes in minder as ʼn week eggo die DA in die Wes-Kaap die versoeke van Gugulethu-inwoners vir meer misdaadbekampingshulpbronne in die gebied, en ʼn ondersoek na die onvermoë van die SAPD om betekenisvolle misdaadintelligensie in te samel en daarop te reageer.

Vier mans en ʼn vrou is Saterdagaand in Gugulethu oorlede. Dit het die dodetal in die gebied op 10 te staan gebring ná vyf mense vroeër die week in ʼn afsonderlike voorval oorlede is. Maroela Media het vroeër berig ao. Lindela Mraqisa, ʼn beskermingsbeampte van die adjunkminister van polisie, was Saterdagaand een van die slagoffers.

Geen inhegtenisnemings is tot dusver bevestig nie.

“Hierdie moorde vorm deel van ʼn groter neiging tot massamoorde wat die SAPD oënskynlik nie kan voorkom nie,” sê Gillion Bosman, die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid. “Die Wes-Kaap ly onder ʼn chroniese ondertoewysing van SAPD-hulpbronne met minder as 20 000 SAPD-beamptes in die provinsie in 2023. Die Gugulethu-polisiestasie is boonop een van die polisiestasies wat landswyd die grootste gebrek aan hulpbronne ly met ʼn polisie-tot-bevolkingskoers van 1:874. Dit beteken dat een SAPD-lid verantwoordelik is vir die veiligheid van byna 1 000 inwoners – ʼn onmoontlike taak.”

Bosman sê die Wes-Kaapse regering het alles in sy vermoë gedoen om die area veiliger te maak.

“Beamptes van die wetstoepassingsbevorderingsprogram (Leap) is sedert 2020 deurlopend na die Gugulethu-polisiestasie ontplooi waar hulle bystand gelewer het in inhegtenisnemings, patrollies, en die beslaglegging van dwelmmiddels en onwettige vuurwapens. Die SAPD-begroting vir die 2023- finansiële jaar is byna dubbeld die gelykwaardige deel wat aan die hele Wes-Kaap toegeken is. Die Wes-Kaapse regering kan, soos sake nou staan, dit eenvoudig nie alleen doen nie.”

Bosman sê dit is hartverskeurend om nog sterftes en geweld in ons gemeenskappe te sien, sonder enige teken van verbetering. “Dit is noodsaaklik dat die SAPD betrokke raak en noodsaaklike hulpbronne verskaf sodat ʼn betekenisvolle impak op grondvlak gemaak kan word. Wanneer polisiëring na provinsiale vlak afgewentel word, sal die DA Seker maak dat dieselfde data-geleide benadering tot misdaadbekamping, wat deur die Wes-Kaapse regering bekendgestel is, op alle polisiëringsgebiede in die provinsie toegepas word.

“Ons sal die bestuur van die Wes-Kaapse polisie nooi om besonderhede oor misdaadbekamping in die provinsie aan die staande komitee oor gemeenskapsveiligheid te verskaf. Ek wil seker maak dat vrae oor dié kwessie aan die SAPD gestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Ja ongelukkig skitter BAIE van die SAPD lede in hulle afwesigheid! Hulle is self te besig met onderduimse dinge. Kyk maar net na die statistiek oor hoeveel kriminele polisielede al aangekeer is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.