Gupta-inhegtenisnemings wyd verwelkom

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Die inhegtenisneming van die Gupta-broers in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is uit verskeie oorde verwelkom.

Atul en Rajesh Gupta word daarvan beskuldig dat hulle die sentrale figure in die staatskaping van talle van Suid-Afrika se staatsdepartemente was. Hulle het in 2018 uit die land gevlug, nadat die Zondo-kommissie sy ondersoekwerk na die grootskaalse bewerings van korrupsie begin het.

“Ons hoop dit is inderdaad die begin van inhegtenisnemings en die vervolging van diegene wat – plaaslik en oorsee – ons land jare lank geplunder het en regstreeks verantwoordelik is vir die lyding wat talle Suid-Afrikaners vandag in die gesig staar,” sê Siviwe Gwarube, die DA se nasionale woordvoerder.

Die DA sê dit is nou uiters noodsaaklik dat ʼn deursigtige proses gevolg word.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het egter reeds gewaarsku dat die uitleweringsproses nog geruime tyd kan duur. Die Gupta-broers kan dit boonop teenstaan.

“Ons sal eers weet of dit suksesvol was die dag as die Gupta-broers in Suid-Afrika aankom, waar hulle tereg sal kan staan op die aanklagte teen hulle.”

Groenewald sê indien die vervolgings suksesvol is, sal dit Suid-Afrika se beeld aansienlik verbeter en die indruk wek dat die regering ernstig is daaroor om vermeende staatskapers vir hul misdrywe verantwoordelik te hou.

Die drukgroep Outa het die inhegtenisnemings bestempel as ʼn groot stap vorentoe – en sê dit gaan hopelik lei tot selfs meer inhegtenisnemings.

Die broers word onder meer betrek by die Nulane-korrupsieskandaal in die Vrystaat. Aanklagte is teen hulle aanhangig gemaak nadat Iqbal Sharma, direkteur van Nulane Investments, glo ʼn tender van R25 miljoen ontvang het om ʼn lewensvatbaarheidstudie oor die omstrede Estina-suiwelprojek te doen. Die opname is aan Deloitte uitgekontrakteer en die maatskappy is R1,5 miljoen daarvoor betaal. R21 miljoen is daarna aan Islandsite Investments oorbetaal, ʼn maatskappy waarvan Atul en Rajesh en hul vroue direkteure was.

Adv. Stefanie Fick, verbonde aan Outa se aanspreeklikheidsafdeling, sê hulle hoop Suid-Afrika en die VAE sal saamwerk om die broers se uitlewering te versnel.

“Ons het nog altyd gesê dat die stryd teen korrupsie veerkragtigheid vereis. As die oppergesag van die reg toegelaat word om sy loop te neem, gaan diegene wat betrek word eindelik hul dag in die hof kry.

“Dit lyk of hierdie dag vir die Gupta-meesterbreine om die draai is,” sê Fick.

Rudie Heyneke, Outa se hoofondersoeker na staatskaping, het ook die inhegtenisnemings verwelkom en sê dit gaan ʼn einde maak aan bespiegeling oor waar die broers hulle bevind.

“Met hul inhegtenisneming uit die pad, hoop ons dat nog inhegtenisnemings en spoedige vervolging sal volg.”

Die departement van justisie het die inhegtenisnemings in ʼn verklaring bevestig en gesê “besprekings tussen verskillende wetstoepassingsowerhede in die VAE en Suid-Afrika oor die pad vorentoe, duur voort. Die Suid-Afrikaanse regering sal voortgaan om met die VAE saam te werk”.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement, het aan eNCA gesê die uitleweringsproses sal wel nou begin.

“ʼn Interpol-kennisgewing word gewoonlik uitgestuur om voortvlugtendes van geregtigheid te vind. Dit lyk of daardie proses nou sy einde bereik het.

“Daarna tree die uitleweringsproses in wat van ons vereis om ʼn kennis van uitlewering aan die Emirati-regering te gee. Hulle [die Gupta-broers] sal gewoonlik in ʼn hof moet verskyn, waar die uitleweringsproses begin,” het Phiri gesê.

Suid-Afrika en die regering van die VAE het in 2020 die uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande bekragtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Vettiemaragartos ·

So toevallig? Net na die inbraak en diefstal klagtes teen Rhamaparra op die lappe kom word die Ghuptas, wat hoe lank al in Dubai wegkruip skielik in hegtenis geneem. So by my koolkop!!!!

Marisa W ·

Die tydsberekeing is vir my vreeslik verdag – word die aandag nou hiermee van ons agbare president afgelei?

domheks ·

Goed so! Hulle moet nou al die zuptas in die tronk kry! Hier is heelwat hier in SA!

Dup ·

Die Guptas word gearresteer maar hulle heer en meester loop nog vry rond in SA.

Michael ·

Hul heer en meester is Ramaphosa, hy was getaak om Eskom reg te ruk

My siening ·

Wat van die Zuma kinders hulle hero’s is nou die nuwe singers. Lekker nou gaan hulle mekaaar go!

Samuel ·

Watter kans is daar dat ons hopelose vervolgingsgesag daarin gaan slaag om die Guptas suksesvol te vervolg??

Boer ·

Zuma en die Guptas gaan saam met Schabir Shaik ‘n golf toernooi speel. Al die dodelike siekes saam.

Kobus ·

Sal graag wil sien hoe die howe in Indie werk. Gaan die menere ook soos hulle lakei kat en muis met die howe speel of gaan ons ‘n demonstrasie sien waar die howe daar nie met hulle laat mors nie.

Swerwer ·

Alles in die ANC se vermoë sal gedoen word om die hul “leiertjies” te beskerm en die blik op bedrog af te lei na iets anders. En so sit Zuma en smile te lekker met die dat hy nog nie agter tralies is nie. Swak, uiters swak

stargazer ·

Daar. Gaan. Niks. Hiervan. Kom. Nie. Die “baas brein” loop al meer as 20 jaar hof. Niemand gaan ooit tronk toe nie. Kaput

Mariana ·

Sal liewer nie asem ophou nie, die soort krimineel kom maklik weg in SA. Daar gaan nog baie gebeur voor hulle dalk agter tralies is. Kyk maar vir Zuma, hy lag nog al die pad en kry net nie sy dag in hof nie. Hoekom sal dit anders wees met die Guptas. Nee wat kom ons kyk maar wat gebeur. Maar ja dis beslis tyd dat die spul nou tot punt kom.

Yvonne ·

Hier gaan gesloer word…..hopeloos te veel risikos in vir our people

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.