Hammanskraal: Tshwane takel drinkwaterprobleem

Die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke. (Foto: ActionSA)

Die Tshwane-metroraad se stadsbestuurder moet binne 60 dae ʼn plan voorlê om behoorlike drinkwater aan inwoners van Hammanskraal te lewer.

Die Openbare Beskermer (OB), adv. Koleka Gcaleka, het haar verslag oor die watersituasie, wat gevolg het op ʼn ondersoek ná ʼn cholera-uitbreking in die gebied, vandeesweek bekend gemaak. Talle mense is dood en verskeie ander moes hospitaalbehandeling weens die uitbreking ontvang.

Gcaleka het in haar ondersoek bevind die stad het versuim om inwoners van Hammanskraal van skoon water te voorsien wat geskik is vir menslike gebruik. Die Menseregtekommissie het vroeër al, in ʼn afsonderlike ondersoek in 2019, ook bevind die kraanwater in die gebied is nie geskik vir menslike gebruik nie. Inwoners kla egter al jare lank oor die probleem.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, het die verslag verwelkom en gesê die stad het reeds begin om remediërende stappe, soos aanbeveel, te doen.

“Ek het by die aanvang van my ampstermyn al gesê die wanfunksionaliteit van die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg is ʼn klad op die stad se gewete, ook dié van vorige administrasies.”

Die aanleg is hidroulies en organies oorlaai en besoedel die Apiesrivier en water verder stroomaf. Brink sê as die aanleg vroeër al opgeknap is, soos die stad se meesterplan in 2004 aanbeveel het, sou groot uitgawes en lyding vermy kon word.

“Die stad kan nie verander wat in die verlede gebeur het nie, maar ons kan daaruit leer en verantwoordelikheid aanvaar om die probleem reg te stel. Die remediërende stappe wat die OB aanbeveel het, strook met dit wat die stad reeds in vennootskap met die departement van water en sanitasie onderneem het,” sê Brink.

Die burgemeesterskomitee monitor hierdie vennootskapsooreenkoms en ʼn volledige verslag met stappe sal voor die einde van die maand aan die raad voorgelê word.

“Die stad het R450 miljoen toegewys vir die opknapping van die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg oor die volgende drie jaar. Dit sluit in R150 miljoen vir elke boekjaar. Prioriteit sal gegee word vir die afhandeling van fase 1-opgraderingswerk en om die fase 2-opgraderings van stapel te stuur.”

Brink sê ook die samewerking met die departement van water en sanitasie is deurslaggewend vir die sukses van die projek, asook die voortgesette finansiering van kapitaalprojekte deur die nasionale regering.

Die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika sal as onafhanklike inwerkingstellingsagent optree.

“Ons hou vol dat geen tenders toegestaan word aan enige maatskappye wat betrek word by korrupsie of staatskaping nie,” sê Brink.

“Ons moet nou almal saamwerk om ʼn blywende oplossing tot voordeel van die mense van Hammanskraal te vind. Die stad sal die besonderhede van die verslag verder bestudeer en verseker ons doen ons belofte aan die mense van Hammanskraal gestand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lettie ·

Dankie mnr Brink. U is ‘n yster. Staan vas in wat u reeds bereik het.

Oosieoos ·

Hulle het soveel probleme geerf dat dit onmoontlik is om regstellinde aksie te doen. Verhaal eers die fondse privaat van die vorige bestuur.

domheks ·

Dankie Cilliers Brink! Mens kan sommer sien daar is ‘n plan op die tafel. Iets wat nooit by cANCer gedoen was nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.