‘Held’ vertel van oomblik toe dogtertjie gegryp word

Dishal Sooku (Foto: Verskaf)

Die man wat verlede week verhoed het dat ’n jong kind helderoordag by ’n restaurant in Florida aan die Gautengse Wes-Rand deur ’n onbekende man gegryp word, beskou homself nié as ’n held nie.

“Kyk, ek is ’n normale mens. Ek het net ’n bietjie ervaring [in joejitsoe] en ek is om dié rede net meer bewus van wat rondom my aangaan. Almal moet ’n soort selfverdediging aanleer. Jy weet nooit wanneer jy ’n verskil kan maak nie,” sê die 38-jarige Dishal Sooku, eienaar van die restaurant waar die voorval plaasgevind het.

In die video van die voorval, wat sedertdien soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, kan gesien word hoe twee vroue en ʼn dogtertjie – glo ʼn ma, haar kind en ʼn vriendin – by ʼn tafel in die restaurant sit. ʼn Man storm dan nader, spring oor ʼn lae reling en kry die kind om die nek beet.

Sooku gryp dan in om die man in bedwang te bring waarna die man later in hegtenis geneem is.

Die man is intussen geïdentifiseer as die 24-jarige Naseem Slamang nadat hy op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot ontvoering en algemene aanranding in ’n hof verskyn het.

Sooku vertel dat hy verlede Donderdagmiddag saam met sy pa by ’n tafel buite sy restaurant gesit het. Sy pa het aanvanklik ’n geraas gehoor toe Slamang by die ingang van die winkelsentrum ingehardloop gekom het. Sooku se pa het om aangesê om versigtig vir dié man te wees waarna Sooku van die tafel af opgekyk het.

‘n Skermgreep uit die video.

“Hy het by die winkelsentrum ingehardloop gekom maar nie in ons rigting nie. Dit was eers toe ek hom in die rigting van die restaurant sien hardloop dat ek natuurlik waaksaam geword het.

“Ek het eers gedink die man kom om ’n selfoon of ’n sak te steel. Ek het nie vir ’n oomblik gedink die man kom om die klein dogtertjie aan te val, leed aan te doen of om haar te ontvoer nie.”

Hy het op daardie oomblik slegs daarop gefokus om die kind te beskerm en niks anders nie. “Ek wou die man net beheer sodat ek die situasie kon beheer.”

Sooku vermoed sy ervaring in joejitsoe is die rede waarom hy so vinnig gereageer het en Slamang in bedwang kon bring totdat sekuriteitswagte op die toneel kon kom en hom in hegtenis kon neem.

Hy vertel dat die dogtertjie histeries gehuil het ná die voorval hoewel sy geen beserings opgedoen het nie. “Ek het haar en haar familie gister (Maandag) gesien en hulle is heeltemal oukei.”

Sooku is verras deur die aandag wat die video in die media ontvang het en hoewel hy dit aanvanklik verwelkom het, het dit later angswekkend geword.

“Dit was natuurlik ’n lekker gevoel maar dit het later scary geword aangesien ons nie seker is of hierdie man deel is van ’n sindikaat nie. Hopelik is hy steeds in aanhouding en groei die voorval tot iets wat inspirerend is vir Suid-Afrika.

“Ek sê altyd: Moenie in paranoia leef nie, maar wees bewus.”

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê Slamang is steeds in aanhouding.

Hy sal na verwagting weer Donderdag in die landdroshof in Roodepoort verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Patch ·

Skrikwekkend! So bly die dogtertjie is ongedeerd en almal wat haar te hulp gesnel het. Ek kan net dink die trauma waardeur die kind en haar mamma moet gaan. Net een plek vir die aanvaller….tronk toe vir hele paar jaar of sommer for life! Dishal, jy is ‘n held! Mamma jy ook want jy het baklei en vasgehou vir jou pragkind.

Roebs ·

Give that man a bells, dink die president moet vir die man ‘n helde toekening gee. Dink ons moet ons mense meer eer oor hulle helde dade

koos10 ·

Dihal, jy wil nie as held bestempel word nie, maar het nie 2 keer gedink om jou eie lewe nie. Broer, dis wat helde doen, en hulle dra nie stywe broeke en kostuums nie. Hulle is mense soos jy! Ek salueer jou!

Verslae ·

Dishal Sooku in my oë is jy ‘n held. Ek sidder om te dink wat met daardie kind kon gebeur het as jy nie ingegryp het nie! Jy kan jouself maar’ n klop op die skouer gee.

Wat op dees Aarde ·

Van waar is die Slamang knaap… In ‘n ander video wat ek gesien het, het hy in ‘n ander taal geraat, nie seker wat die dialek is nie, maar definitief nie van hier nie.

Ferryman ·

‘n Beskrywing van die beskuldigde se gedrag gee my die idee dat hy nie ten volle by sy positiewe was nie.
Die restaurant eienaar moet regtig aangeprys word vir wat hy verrig het. Dit is ook wonderlik dat hy ook so nederig is daaroor. As ek in daai omgewing gewoon het sou ek hom beslis in sy besigheid ondersteun het.

Danie ·

Nou wonder ek wat is die sekuriteit se probleem met Dishal.
Hulle is meer besig om hom weg te jaag as om die vark op die grond vas te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.