‘Herhaalde plundering’ dalk rede dat kragtorings meegee

Die N4 by Simon Vermooten en Solomon Mahlangu is gesluit nadat kragtorings op die snelweg geval het. (Foto: Pro Med EMS)

Die herhaalde plundering en beskadiging van kragtorings langs die N4 in Pretoria was moontlik die rede waarom verskeie kragtorings Sondagaand tydens ʼn storm meegegee en op die snelweg geval het.

Cilliers Brink, Tshwane se burgemeester, was Maandag op die toneel waar hoogspanningskabels regoor die snelweg lê. Die pad is steeds by die Simon Vermooten- en Solomon Mahlangu-afrit vir verkeer gesluit terwyl groot gedeeltes van Pretoria-Oos en Mamelodi nog sonder krag sit.

Volgens Brink het raadslede hom ingelig dat daar al verskeie kere met van dié strukture gepeuter is.

“Daar was oor ʼn tydperk verskeie pogings om die staal te steel wat deel van hierdie kragtorings se struktuur vorm. Daar is ʼn moontlikheid dat dít gisteraand weer hier gebeur het,” het Brink in ʼn video op Twitter gesê.

Foto’s wat intussen op sosiale media gedeel is, wys groot gapings aan die struktuur waar staal vermoedelik afgebreek en gesteel is. Dit kon die stabiliteit van die struktuur uiteraard in gedrang bring.

In ʼn plasing wat in Oktober verlede jaar op Twitter gedeel is, waarsku die gebruiker die Tshwane-metro dat hierdie einste struktuur langs die N4 by Solomon Mahlangu beskadig is en moontlik ineen gaan stort. Dit is nie duidelik of enige herstelwerk daarna gedoen is nie.

Brink het egter Maandag aangedui dat herstelwerk al verskeie kere gedoen is, hoewel dit booswigte nie gekeer het om weer skade aan te rig nie.

“As jy na die struktuur kyk, kan jy duidelik sien waar herstelwerk al gedoen is. Daar is egter ʼn sterk moontlikheid dat hierdie voorval [Sondagaand] veroorsaak is deur misdadige vandalisme.

“Die omvang van die probleem is enorm. Ons kan in dié stadium geen beloftes maak nie, behalwe dat ons lede van die publiek op hoogte sal hou van die assessering en herstelwerk. Die Stad doen alles in sy vermoë om te kyk wat gedoen kan word – waaronder gesprekke met Eskom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jan ·

Jip. Suiwer TERRORISME. Hierdie mafia sindikaat moet gevang word en lewenslank toegesluit word!!!!

Di ·

Meer kriminele in die land as wetsgehoorsame burgers. GROTER vonnisse moet opgele word vir hierdie “terroriste” wat besig is om ons land te verwoes

Jacobus ·

Hoe naïef kan mens wees? Die struktuur ontwerp van oorspronklike torings is geweldig stabiel tot jy EEN komponent verwyder.

Vriendelike Frikkie ·

Ek het fotos gesien vanoggend wat op die toneel geneem is van die herstelwerk. Die sweiswerk is so swak dat die torings sonder verdere sabotasie in elk geval so ineenstort. Daar is ‘n groot behoefte aan kundige ambagsmanne, in die geval, sweisers.

marbacca ·

Op Google Maps stret view kan die spesifieke toring langs die N4 geidentifiseer word – presies soos dit in die foto lyk – en Google Maps se datum vir die foto is Oktober 2022…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.