Herroep van handboek gaan Ramaphosa ‘vriende kos’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa se besluit om sy omstrede wysigings aan die ministeriële handboek te herroep sal hom nie sommer die ANC-presidentskap kos nie, maar “dit gaan hom ’n paar vriende in die kabinet kos,” waarsku ’n politieke kenner.

“Sy kollegas in die kabinet gaan nie gelukkig wees nie. Ek dink wél dit was ’n berekende besluit,” sê prof. Pieter Duvenage, ’n onafhanklike politieke ontleder by Akademia.

’n Storm het losgebars om Ramaphosa se kop nadat die DA onthul het dat ministers en adjunkministers volgens onlangse wysigings aan die ministeriële handboek toegelaat word om ’n onbeperkte bedrag van die belastingbetaler se geld aan te wend om vir hul water- en ligterekeninge by hul amptelike wonings te betaal.

Bykomende ruimte is ook geskep vir die indiensneming van ANC-personeellede in ministeriële kantore – wat belastingbetalers minstens R87 miljoen meer per jaar sou kos.

Toe herroep Ramaphosa Maandag die wysigings sonder om te skop of te skree kort nadat die DA ’n ultimatum aan hom gestel het.

Duvenage vermoed nou Ramaphosa “het sy sommetjies gemaak” voordat hy besluit het om bes te gee. “Dalk gaan dit beter af by Cosatu en SAKP wat in ’n breë alliansie met hom is?

“Ek dink Ramaphosa het êrens ’n morele bewussyn omdat hy ook prokureur van beroep was. Ek dink egter nié hy het [die wysigings herroep] omdat dit die regte ding was om te doen nie. Dit is ’n front.

“Die ministeriële handboek is ’n relatiewe goedkoop ding teenoor ander dinge wat dalk ook aan die gang is … Hierdie stap lei dalk die aandag van groter kwessies af wat hy nie wil aanpak nie.”

Duvenage glo egter die kans is steeds baie goed dat Ramaphosa aan die einde van die jaar tydens die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie weer tot president van dié party verkies sal word. “Ek sien nie ’n alternatief nie. Ek dink selfs diegene wat teen hom is, sal vir hom stem omdat hulle in 2024 [met die nasionale verkiesing] meer stemme met hom gaan kry.”

Duvenage bestempel eindelik die president se herroeping van die wysigings as ’n “strategiese skuif in ’n oorhoofse projek van selfverryking. “Jy het nie hier met ’n professionele regering te doen wat volgens die wette van die land regeer nie. Jy het hier te doen met ’n selfgeregtigde bevrydingsbeweging en sy netwerke wat almal hulself wil verryk.”

Duvenage sê dit is skokkend dat Ramaphosa in April stil-stil wysigings aan die ministeriële handboek aangebring het. “Enige regering met integriteit sou dit onmiddellik gekommunikeer het.

“Die regering dink hulle is deur die ‘heilige bevrydingstryd’ daar geplaas om in Suid-Afrika te regeer. Hulle sien hulself as die sekulêre messias, wat kan doen wat hulle wil. Hulle dink Suid-Afrikaners moet dankbaar wees dat hulle daar is. Die groot verantwoordelikheid en aanspreeklikheid om te regeer is hier volledig afwesig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

domheks ·

DA sal moet mooi kyk of auntie pat nie maar steeds ALLES betaal nie. Jy kan hulle vertrou met so ver soos jy hulle sien.

Republikein in die Wes Kaap ·

MM moet ‘n fonds stig dan kan ons die ministers help met al die uitgawes.

Cherokee ·

Jy het toe ‘n sin vir humor ook Republikein. Nie dat meeste van die kommentators so dink nie:-)

Manie ·

Vir wie probeer hy bluf? Daar is sekerlik reeds mense aangestel?

snaaks ·

Hoe gaan ons weet of hy dit wel herroep het en nog steeds ons geld gebruik

Willie ·

Die opskrif se alles. Gaan meer oor vriende en stemme as wat hulle omgee oor die mense van die land. Burgers word vir die geringste goed opgesluit. Nog nie een van die “binnekring” wat uitgewys is in die Zondo verslag was al in die selle gewees nie. Jy kan hulle glad nie vertrou nie

Di ·

Hulle is erger as ‘n klomp AASVOELS!!! Grootste skelms onder die son. Seker oor hulle nooit voorheen iets besit het nie dat hulle so gierig geraak het

Willem ·

Laat mens dink aan die ou europese koningshuise se ideologie van “Divine Right Of Kings”. ANC dink hulle het n godgegewe reg om te regeer en hulself te verryk ten koste van die mense.

gatgogga ·

“Ek dink Ramaphosa het êrens ’n morele bewussyn omdat hy ook prokureur van beroep was…”.
Ja? Geen twak?

marius ·

Sy stinkryk tjommies sal ‘n ander plan maak wat hy sal goedkeur.

christo ·

Tyd dat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers bevry word van die ANC. Ons word net ‘ bevry ‘ van ons hard verdiende geld aan President en ministers wat veel meer betaal word as hulle Europese eweknieë. Politici verryk hulle self ten koste van die armes.

M ·

Klaar my sg “vriendskap” gekos … als verby …Ek wéét nét dit ….”Die wiel draai en knêrs fyn”

Elize ·

Gaan lees die Bybelboek Miga en julle sal sien dit is al in daardie tyd voorspel wat nou hier aan die gang is. Gelukkig sal diegene geweldig gestraf word wanneer dit hulle tyd is

Janee ·

Ek glo geensins dat hierdie herroeping sal plaasvind. Hy is onbetroubaar en alles sal wel onder die tafel, sonder ophef, uitgedeel word en ons sal steeds betaal….

Suzette ·

Die ou moet dopgehou word – hy is net so skelm soos die res….

pompies ·

Hy het gehoop om vir homself nog n termyn as “Koning” van hierdie riool stelsel te koop, en dat al sy vyande skielik sy ondersteuners gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.