Herstelwerk vorder fluks ná ‘Cabanas’ brand

Die tydelike ontvangsgebied by die Sun City Cabanas-hotel. (Foto: Sun City/Verskaf)

Byna twee weke nadat die Sun City Cabanas-hotel in ʼn rookwolk gehul is weens ʼn brand op die perseel, doen dié hotel weer soos gewoonlik fluks sake.

Brett Hoppe, bestuurder van Sun City, sê die brand het erger gelyk as wat dit werklik was en nadat ʼn omvattende ondersoek gedoen is, is daar vasgestel dat die hotel geen wesenlike skade opgedoen het nie.

ʼn Tydelike ontvangsgebied word egter gebruik terwyl die hotel se gewone ontvangsentrum herstelwerk ondergaan.

“Ons instandhoudingspan werk onverpoos om te verseker dat enige tekens van die brand verwyder word,” sê hy.

“Ons is baie dankbaar dat die brand erger gelyk het as wat dit eintlik was en dat niemand beseer is nie,” sê Hoppe.

Die brand het byna twee weke gelede in die kombuis van die hotel uitgebreek. Hoewel dit vinnig geblus is, het dit reeds deur die ventilasiekanale beweeg en tot by die ontvangsgebied en sommige kantore versprei.

Sun City se brand- en reddingsdienste was op bystand by ʼn nabygeleë geleentheid en het die brand binne minder as ʼn uur in bedwang gebring.

Volgens Hoppe is geen ander dele van die hotel geraak nie en kon gaste steeds in die hotel gehuisves word.

“Drie dae ná die brand kon gaste reeds weer by die hotel inteken.”

Na verwagting sal al die herstelwerk aan die Sun City Cabanas-hotel teen die middel van volgende maand afgehandel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Weereens n bewys dat dit gedoen kan word binne n kort tyd, die klomp kaders kan nie eens n sinkgat langs die N12 pad in 3 jaar herstel nie.

Papsak ·

Hoe brand alles nou so vinnig dit word gedoen maar hulle sal mos niks erken nie maar hulle doen dit ons voel nog soos winter son kan niks aan die brand laat raak nie regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.