Heunis-hoewemoord: Man swaar gestraf

Mariandra en Johann Heunis. (Foto: Verskaf)

Justice Sethlangu (39), wat Dinsdag skuldig bevind is aan die moord op Johann Heunis meer as drie en ’n half jaar gelede in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria, is lewenslank tronk toe gestuur.

Adv. Josie van der Westhuysen, die staatsaanklaer, het gesê Sethlangu is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf plus nog ʼn effektiewe 42 jaar tronkstraf gevonnis.

Sethlangu is skuldig bevind op aanklagte van moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Hy is ook op drie aanklagte van huisbraak met die bedoeling om te roof skuldig bevind.

Van der Westhuysen sê Sethlangu het in ’n kwessie van drie en ’n half maande, tussen 21 Junie en 1 Oktober 2016, by drie huise in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria, insluitend die Heunis-gesin s’n, ingebreek.

Sethlangu is op 5 Junie 2017 in hegtenis geneem na sy vingerafdrukke op twee van dié rooftogtonele gevind is. Geen vingerafdrukke is egter in die Heunis-huis gevind nie. Mariandra Heunis, Johann se vrou, het Sethlangu egter kort daarna tydens ’n uitkenningsparade uitgewys as een van die mans wat verantwoordelik was vir haar man se dood.

Mariandra Heunis saam met Mieke, Mischa, Majandré en AJ in 2017. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig Mariandra het in die hof getuig dat dit nie Sethlangu was wat die sneller getrek het nie, maar dat dit hy was wat die opdrag gegee het. Hý het gesê: “Ah, just kill him, brother”, net voor die skoot geklap het en Johann voor Mariandra se oë gesterf het. Sethlangu se handlanger is nooit vasgetrek nie.

Sethlangu het Dinsdag egter volgehou dat hy onskuldig is.

Johann is op 1 Oktober 2016 voor sy swanger vrou en oudste dogter in hul huis op die Leeufontein-kleinhoewes in Kameeldrift, noordoos van die stad, doodgeskiet. Johann is ses keer geskiet. Hy was met die laaste skoot in die kop geskiet.

Mariandra het vroeër gesê sy is baie verlig dat een van die skuldiges wat verantwoordelik is vir haar man se dood nou finaal vasgetrek is. “Ek kan niks doen om te verander wat gebeur het nie, maar ek voel verlig dat geregtigheid sy gang gegaan het,” het dié weduwee vertel.

Mariandra se hart is vol hoop vir die toekoms en kan nou hierdie nare hoofstuk saam met haar drie dogters en seuntjie afsluit. “Hierdie saak het soos ’n swaard oor my kop gehang,” vertel sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

J ·

Die familienaam Setlhangu lyk asof dit van Mosambiek afkomstig is.

Die ander medepligtiges is dalk in Mosambiek!

De Villiers ·

Mag hy NOOIT uit op parool gelaat word voordat hy nie sy boef vriende se name aan die polisie gee nie…

Gerhard ·

Ja wel, die SAPD is ook nie meer die SAP van ouds nie…daai makker sou soos n kanarie gesing het in die goeie ou dae…

Jorrie ·

Ongelukkig geld daar wat parool betref mos verskillende reels vir verskillende rasse, ek wonder of hulle ook die naasbestaandes van die moorslagoffer gaan vra vir hulle opinie?

Niklaas ·

Dis jammer dat sy mede moordenaars nie gevang is nie. Daardie arme gesin , ek voel so jammer vir die moedertjie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.