Hillbrow-polisiestasie nié beroof terwyl beamptes slaap

Argieffoto: SAPD

Die Gautengse polisie het Woensdag bevestig die Hillbrow-polisiestasie in Johannesburg is nie deur dwelmverslaafdes beroof terwyl die beamptes wat aan diens was glo geslaap het nie.

Dié polisiestasie is die jongste slagoffer van fopnuus wat daarop uit is om internetverkeer op ʼn webwerf met “nuus” te genereer en só ʼn inkomste uit webadvertensies te verseker.

Die “berig”, gepubliseer op gossipmillsa.com, beweer die stasie is van vuurwapens, kos en gesteelde goedere waarop beslag gelê is, beroof terwyl die beamptes geslaap het.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het die “berig” verwerp en as fopnuus afgemaak.

“Geen goedere of vuurwapens is by die stasie geroof terwyl beamptes geslaap het nie,” het Dlamini gesê. “Polisiestasies, veral kliëntedienssentrums, word altyd deur lede beman om na klagtes om te sien. Om aan diens te slaap, is nie aanvaarbare optrede nie en is strafbaar ingevolge die Suid-Afrikaanse Polisiediens se regulasies.”

Dlamini het gesê streng toesig en beheer is maatreëls wat ingestel is om te verseker dat beamptes altyd met integriteit en op ʼn manier wat die polisie tot eer strek diens lewer.

Hoe onderskei ʼn mens tussen ware en fopnuus? Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, deel dié nuttige wenke:

  • Kyk of jy kan sien wat die oorspronklike bron van die nuus of nuusbrokkie is. Indien geen bron aangedui is wat jy kan nagaan nie, moet liefs nie aanstuur nie.
  • Is daar ʼn datum by die nuusbrokkie of artikel? Soms is fopnuus nie soseer vals nie, maar wel ou nuus. Maroela Media het in 2015, byvoorbeeld, ʼn storie gedoen oor vloede in die Krugerwildtuin. Tydens die droogte in 2016 het iemand op dié ou storie oor die vloede in ons argiewe afgekom, en dit weer begin versprei asof dit nuwe nuus is. Die storie het rekordlesersgetalle gehaal. As die persoon wat dit oorspronklik begin versprei het of die derduisende mense wat dit daarna gedeel het, die moeite gedoen het om na die datum te kyk, sou hulle gesien het dis ʼn stokou storie.
  • Kom die storie op ander plekke ook voor? Die stories in fopnuus is gewoonlik van verregaande aard – ongelukkig nie iets wat dit in SA noodwendig kwalifiseer as fopnuus nie. Maar sulke verregaande nuus word onmoontlik nie net deur een nuusbron gedra nie. ʼn Groot storie word baie vinnig deur alle gerekende nuusmedia opgetel en gepubliseer. As die storie waaroor jy wonder dus nie ook op ander mediaplatforms voorkom nie, is dit waarskynlik fopnuus.
  • Is die URL (die webadres) van die storie korrek? Fopnuuswebwerwe se webadres is dikwels geregistreer om byna dieselfde te lyk as ʼn ander, gerekende nuuswebwerf, om jou om die bos te lei. ʼn Voorbeeld is die fopnuuswebwerf http://t1meslive.co.za, teenoor Times Live se korrekte adres, http://timeslive.co.za– hier is die i met ʼn 1 vervang, en as jy nie mooi kyk nie, kyk jy dit maklik mis.
  • Maak op Twitter ook seker gebruikersname is korrek gespel. Dis maklik om ʼn Twitter-naam te skep wat ampertjies dieselfde lyk as ʼn ander persoon (gewoonlik ʼn meningsvormer) sʼn, maar net met ʼn karakter verskil. Gaan die gebruiker se profiel na om seker te maak dis die ware Jakob wie se twiet jy deel.
  • ʼn Nuuswebwerf wat sy sout werd is, gee altyd erkenning aan bronne van inligting. Indien ʼn storie geen verwysings na bronne bevat nie, of indien elke storie bloot verwys na “anonieme bronne”, is daar ʼn slang in die gras.
  • Kyk na die advertensies wat op die webwerf voorkom. Advertensies op fopnuuswebwerwe sal dikwels produkte van twyfelagtige aard adverteer (byvoorbeeld pornografiese inhoud of dobbelwebwerwe). Ware nuuswebwerwe se advertensies is darem gewoonlik van geloofwaardige, bekende maatskappye en produkte.
  • Doen navorsing oor die skrywer van die artikel. Soek op die internet vir ander artikels wat ook deur die persoon geskryf is, en maak seker hy of sy werk vir ʼn nuusinstansie waarvan jy weet en wat jy vertrou.

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies van 2002 spesifiseer dat die Internetdiensverskaffersvereniging (of ISPA) ʼn mandaat het om webwerwe wat vals inligting publiseer, te sluit. Indien jy op ʼn webwerf afkom wat fopnuus publiseer, meld dit aan by die ISPA. Heelwat van die fopnuuswebwerwe wat ʼn paar weke gelede nog in bedryf was, is reeds nie meer aktief nie. Ongelukkig skiet nuwe fopnuuswebwerwe soos paddastoele in hul plek op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Magda ·

Op Facebook gaan dit net so lekker. Almal “share” net die vals inligting wat deur kom. Ek glo as dit nie op Netwerk24 of Marloe Media was nie dan is dit nie waar nie.

Piet Pompies ·

Ek het al jare terug geleer, wat uit my skoonma se mond kom is fopnuus…. lol

zahn ·

Mens kan amper by die lysie voeg: Kyk na die waaarskynlikheid daarvan. Nee wag, dan kan hierdie storie mos waar wees?

Frikkie Vingerslinger ·

Ja… het gister met kollegas gepraat… ons is van opinie dat dit wel gebeur het, want dis makliker om net te sê “fopnuus” as om die realiteit te erken…. selfse soos die IPID sage….

Ai ·

Sekerlik het n polisie statue sekuriteits kameras? Wys ons beeld materiaal dan sal ons jou glo.

jean ·

Whahahahaha!!!!!!!…..Wees verseker…hulle het geslaap!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.