Hoërskool Daniëlskuil ‘betreur’ voorval by rugbywedstryd

’n Skermskoot van die video.

Hoërskool Daniëlskuil in die Noord-Kaap sê hy betreur die voorval waartydens een van sy onderwysers Saterdag ná ʼn rugbywedstryd glo deur ʼn hulpafrigter, twee leerders en ouers van dié skool aangerand is.

Jan-George van Straten, waarnemende voorsitter van Hoërskool Daniëlskuil se beheerliggaam, sê die voorval weerspieël nie “die skool se waardes of etos” nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die voorval ná afloop van ʼn rugbywedstryd tussen Hoërskool Daniëlskuil en Hoërskool Kathu plaasgevind het. Sydney Stander, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, het vroeër bevestig dat Christo Kemp, ʼn onderwyser by Hoërskool Daniëlskuil, deur die skeidsregtersvereniging aangestel is om die betrokke wedstryd te hanteer.

Luidens ʼn voorlopige verslag was daar egter ontevredenheid by Hoërskool Daniëlskuil oor hoe Kemp die wedstryd tussen die twee o.15-spanne hanteer het. Kemp is glo eers deur ’n hulpafrigter van dié skool geslaan, waarna ouers en twee o.15-spelers ook betrokke geraak het. Fires van Vuuren, ’n skeidsregter van die Griekwaland-Wes-skeidsregtersvereniging, het self deurgeloop toe hy wou intree.

Spelers van Hoërskool Kathu se eerste rugbyspan het die voorval gesien en Kemp ook te hulp gesnel.

“Die beheerliggaam betreur die beweerde voorval en keur enige vorm van geweld af,” het Van Straten Maandag in ʼn verklaring gesê.

Hy sê die beheerliggaam en die skoolbestuurspan is tans met ʼn interne ondersoek besig aangesien daar leerders van Hoërskool Daniëlskuil by die voorval betrokke was.

“Die skool is gebonde aan ʼn gedragskode vir leerders, beleid en prosedures en kan daarom nie meer besonderhede gee tot en met die afhandeling van die prosesse nie.

“Tans versoek die beheerliggaam dat die skool ruimte gegun word om volledige ondersoeke te doen.”

Van Straten doen ook ʼn beroep op enigeen met inligting of bewysmateriaal om hom by 072 869 5685 te kontak of ʼn e-pos na [email protected] te stuur.

Volgens die onderwysdepartement word Kemp tans in ʼn hospitaal behandel.

Die polisie ondersoek intussen ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Hannelie ·

Uiters swak gedrag!!! Skors die leerders asook die hulpafrigter. Verbied die betrokke ouers vir die res van die seisoen van alle sport. SWAK!!!!!!

Nationalist ·

PATETIES!!! En dit oor iets wat absoluut niks beteken.

MrMagic ·

Selfs geskop ook. Uiters swak gedrag. Ek dink baie mense voel soms lus om die skeidsregter ‘n paar klappe te gee maar hierdie is verregaande.

Casper ·

Skors die hulp afrigter uit alle rugby uit sowel as die spelers wat betrokke was.Dit is die straf wat boewe toekom.

Sam ·

Wel gedaan Kathu se 1ste span. Dat kinders julle moet maniere leer. Pateties Danielkuil.

Lubbe ·

Betreur is al wat julle kan sê??? As jul die regte reelings en reels in plek gehad het dan het dit nie nou gebeur nie. Meeste skole se toeskouers mag en kan nie eens naby die veld kom nie. Nie voor, tydens of na die wedstryde nie. Swak!!!

Frank John ·

Rof en onbeskof, watter sport is so belangrik dat mense mekaar aanrand!!!

Martin ·

Ten minste sorg Daniëlskuil vir hope aksie op asook langs die sport veld…! Dit is uiters swak gedrag deur lae klas mense.

Lesly ·

‘n Nuwe laagtepunt in SA skole rugby. Net wanneer jy dink dat mens sekerlik nie laer kan daal nie, dan bewys ‘n sekere element van die samelewing jou hopeloos verkeerd

Wielspore ·

Ag nee regtig, met ‘n rugby game is die spelers se adrenalien vlakke hoog, selfs van die mammas en pappas wat langs die veld op en af hardloop se are bult van opgewondenheid. Vuisgevegte tussen spelers gedurende die game en tussen ouers is niks vreemd en dit gebeur al jare. Dit het niks met aparheid of rassisme te doen. Na die tyd is die spelers pelle in die aantrek kamer en almal lag oor die harde game.

Peter ·

Skors die spul lewenslank, dis agterlik. Getuig van geen opvoeding nie.

twaalfboor ·

As hulle dit ñ vuisgeveg noem, dan weet ek nie. Die siel wat skop na die skeidsregter mis die “doelpale” met ñ myl.

Johan ·

Vandat lyfstraf verbode is, skop skoolkinders ‘n onderwyser wat op die grond lê. Uiters swak opvoeding.

Nettie ·

Die polisie ondersoek die saak. Ek is bly. ‘n Man is in die hospitaal. Mnr. Kemp, ek hoop u herstel gou. Sterkte.

Hennie Biebouw ·

Verstaan ek dit nou reg, Christo Kemp, ʼn onderwyser by Hoërskool Daniëlskuil, is deur ’n hulpafrigter van Hoërskool Daniëlskuil geslaan, waarna ouers en twee o.15-spelers van Hoërskool Daniëlskuil ook betrokke geraak het. So die skeidsregter is deur sy eie skool se personeel , ouers en kinders aangerand? Nou ja, “klas” het nie trappe van vergelyking nie…..

Cobus ·

Ek het in 1978 gematrikuleer by Hoerskool Kathu en was trots deel van die 1ste rugby span. Ons sou nooit so laag gedaal het nie. Dis ‘n absolute skande!

Dup ·

Ek was ñ paar naweke terug op ñ klein Karoodorp waar dit net so woes langs die rugbyveld,(laerskool seuns), gegaan het.Uiters aggresiewe tuisdorp ouers.Op ñ stadium het een van die skool se afrigters op die veld gestorm en een van sy eie spelers ñ pak slae gegee.Daar is ook heeltyd op spelers en skeidsregters geskree.Ongelooflik maar waar!

Lillian ·

Swak, swak, swak! ek skaam my oë uit my kop vir my eie mense!

Marinda ·

Ek sien 2 kriminele hier. n Swart reus met n wit hemp en n swart leerder aan die regterkant van die video wat die skeidsregter soos n lafaard van agter af slaan waarna hy val. Ek dink mie dis so moeilik om hulle uit te ken nie

Johan ·

Ek sien ses lafaards wat die ref aanval, die vet lumel met die wit trui is daai tiepe wat altyd betrokke raak. hy kan skaars loop maar as daar n geveg is waar hulle in die meerderheid is sal hy handloop om iemand te slaan. dit is nou n stuk gemors. hoop hulle word toegesluit.

Nico ·

Dit is ‘n bewys van die skool se swak dissipline asook die beheerliggaam. Uiters swak!!!
Verbied die oures by enige rugby wedstryd, ek sien daar is ook swartes betrokke, wat ‘n skandaal.

Herman ·

Ek sien jou Wielspore kom van anderkant die spoor af en slinger deur die sjebeen ook. Ek stem saam dat dit al jare lank gebeur, maar gewoonlik by klubs in areas waar die vlakke van opvoeding en morele standaarde so bietjie laer was. Dit hoort nie tuis op die sportveld tussen beskaafde mense nie. Dis in elk geval ‘n klomp slapgatte wat een ou pak. Hoop hulle aanvaar hulle straf ook in dieselfde “sportmangees”.

Nadia ·

Nou weet ons hoekom kinders optree vandag Soos hulle doen. Die voorbeeld begin by die huis

Maryna ·

Die hulpafrigter? Nou watse tipe voorbeeld is hy vir die seuns wie hy afrig? Nee genade, dis swak man!

Michal ·

Wel, Christo en Fires, n man leer net op een manier, so maak n voorbeeld van hierdie hooligins, breek hulle beursies, praat (talk is cheap) en jammer se verander nie gedrag nie, breek hulle beursies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.