Hof erken Seleka Barolong-familiehoof

Kgosatsana Gabo Moroka. (Foto: AfriForum)

Prinses Gabo Moroka is Maandag deur die Vrystaatse hooggeregshof as regentes van die Seleka Barolong- tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu, oos van Bloemfontein, erken.

Dít volg nadat die appèlhof in April ʼn historiese bevel in die guns van die koninklike familie van die Barolong Boo Seleka- tradisionele gemeenskap toegestaan het nadat leierskap vroeër deur Ace Magashule, voormalige premier, na ʼn dispuutgroep oorgedra is. Die koninklike familie is deur AfriForum ondersteun in hul aansoek om verlof tot appèl en dié appèlsaak.

Die Vrystaatse premier (tans Sisi Ntombela) is verder deur die hof beveel om die nodige stappe te doen om Moroka se erkenning te finaliseer. Die respondente, onder wie die premier, moet ook die koste van die aansoek betaal.

Die premier het die aansoek oorspronklik teengestaan, maar ʼn kennisgewing van onttrekking asook berusting by die hofbevel is etlike dae later ingedien.

Moroka en die koninklike familie is deur AfriForum in dié dringende hofaansoek ondersteun om die premier te verplig om Moroka as regentes van die gemeenskap te erken nadat die premier herhaaldelik nie op die familie se aansoek om erkenning gereageer het nie.

Die koninklike familie se stryd om hul regmatige plek as leiers van die gemeenskap te behou het in 2013, ná die afsterwe van hul familielid, opperhoof Gaopalelwe Moroka, begin. ʼn Dispuutgroep, wat ontevrede was met die aanwysing van ʼn vrou as opperhoof, het die regmatigheid van die familie bevraagteken en in stryd met die familie getree.

Magashule het die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -Eise destyds opdrag gegee om die dispuut te ondersoek. Op grond van ʼn baie gebrekkige verslag deur die kommissie het Magashule besluit om die leierskap van die regerende koninklike familie te beëindig en die leierskap na die dispuutgroep oorgedra.

Die appèlhof het op 31 Maart 2022 egter ten gunste van die koninklike familie beslis en die kommissie se verslag en die premier se besluite is ter syde gestel. Die koninklike familie het prinses Gabo Moroka op 3 April as regentes geïdentifiseer en op 10 April ʼn aansoek om erkenning by die premier ingedien.

Barend Uys (middel) saam met lede van die Barolong Boo Seleka- koninklike familie. (Foto: AfriForum)

“Die familie het die hof gevolglik op ʼn dringende grondslag genader om te verseker dat Moroka die gemeenskap tydens die hersamestelling van die Vrystaatse Provinsiale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers, wat op 14 Junie [môre] plaasvind, kan verteenwoordig,” het Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking, gesê.

Moroka het Maandag gesê dat dié leierskapstryd nooit oor ʼn individu gegaan het nie.

“Ons familie het dié gemeenskap as leiers oor geslagte heen gedien. Die dienende leierskap is die kern van ons identiteit as koninklike familie. Ons het deurgedruk, deur die genade van die Here, om die nalatenskap van die geslagte wat ons voorafgegaan het, te eer.

“Die grootste taak lê nou vir ons voor: om ons gemeenskap in ʼn reformasieproses te lei om ʼn voorspoedige toekoms en die bewaring van ons kulturele identiteit te verseker.”

Band tussen Afrikaners en Seleka Barolong

Uys sê daar bestaan ʼn “onsterflike vriendskap tussen Afrikaners en die Seleka Barolong”.

“Dit was vir AfriForum ʼn voorreg om aan die vriendskap herinner te word en dat dié vriendskap hernu kon word deur samewerking. Ons het ʼn plig om ons kinders ook van dié geskiedenis te vertel en dit as grondslag te gebruik om goeie verhoudings te bou en só ʼn voorspoedige toekoms vir die kinders van ons gemeenskappe te verseker.”

Volgens Uys was dié koninklike familie dieselfde familie wat die Voortrekkers destyds ná die Slag van Vegkop (1836) gehelp het om na veiligheid, terug tot by Thaba ’Nchu, te trek.

“Die voorlopige Voortrekker-regering en die tweede Voortrekker-regering is al twee by Thaba ’Nchu verkies, omdat hulle veilig gestaan het in die gebied van kgosi Moroka II van die Seleka Barolong. Dieselfde gemeenskap en leierskap het ook in die tyd van pres. Jan Brand van die Oranje-Vrystaat saam met die Vrystaters in oorloë met die Basotho geveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cathy ·

Hier is mos nou ‘n baie mooi voorbeeld van hoe mense van verskillende rasse vreedsaam met mekaar kan omgaan. Wat ‘n wonderlike, vredevolle land sou ons nie gehad het as almal maar net so verdraagsaam met mekaar was nie. ‘n Riem onder my hart.

Di ·

Wys ons net dat dit nie net blankes is wat ly onder die die korrupte ANC Kaders nie. Hulle gun nie eers party van hulle eie mense iets in hierdie land nie, skryende skande!

De Villiers ·

Dit is agv hierdie storie dat ek my Afriforum lidmaatskap gestop het.

Hoe baat die plaaslike gemeenskap hierby?

Hoekom speel Afriforum saam met hierdie mense prinses, prinses?

Al waaroor dit gaan is die maandlikse inbetaling in hul bankrekening.

Tradisionele leiers is deel van die probleem!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.