Hof gevra om by Eskom-stakings in te gryp

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag sy regspan opdrag gegee om ’n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof in te dien ten einde wetstoepassers te dwing om op te tree teen stakende werknemers van Eskom.

Nie-stakende werknemers spook tans om die ligte aan te hou terwyl hulle glo deur hul stakende kollegas gedreig en geïntimideer word.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê sommige van dié vakbond se lede wat vir Eskom werk, het vir werk opgedaag net om later deur stakers met knuppels en stokke uit hul kantore gejaag te word.

“Hulle is by hul huise geïntimideer en daar is selfs gedreig dat hul huise afgebrand sal word as hulle werk toe gaan. Van die operateurs se huise is met petrolbomme aangeval. Toegang tot kragstasies word versper en bande gebrand. Selfs ʼn voertuig is aan die brand gesteek,” sê Hermann.

Eskom het vroeër vandag gesê hy het reeds ’n interdik bekom. Die kragvoorsiener is nietemin genoop om fase 6-beurtkrag te implementeer aangesien hy nie te midde van die stakings aan die land se vraag na elektrisiteit kan voldoen nie.

Hermann sê die sogenaamde onwettige en onbeskermende stakings by Eskom is g’n stakings nie, maar eerder ekonomiese sabotasie en ʼn daad van terreur.

“Kragstasies is nasionale sleutelpunte en hierdie sleutelpunte word aangeval,” sê Hermann.

Hy wys dan daarop dat Eskom ’n noodsaaklike diens is.

“’n Terreurdaad word gedefinieer as die ontwrigting van ʼn noodsaaklike diens, fasiliteite of stelsel. Doelbewuste optrede om die ekonomie te destabiliseer en om ekonomiese verliese te veroorsaak is alles dade van terreur.

(Argieffoto: GCIS)

“Hierdie situasie kan nie soos ʼn normale onderhandelingsituasie hanteer word nie. Dit is veel ernstiger as net ʼn onwettige staking.”

Armand Greyling, regs- en risikobeampte by AfriForum, beaam dit.

“Ons glo dat wetstoepassers, onder wie die polisie, reeds moes optree om die dreigende staking by die geraakte kragstasies hok te slaan.”

AfriForum vermoed boonop dat die polisie binnekort genoop gaan word om die Suid-Afrikaanse Weermag se hulp in te roep om die situasie by Eskom se kragstasies onder bedwang te bring.

Hermann wys ook daarop dat die regering te midde van die chaos in sy afwesigheid skitter.

“Boewe is besig om ons, ekonomies gesproke, gyselaar te hou en daar is geen teken van die wetstoepassers nie. Eskom het ʼn interdik teen die saboteurs, maar die polisie doen niks nie. As die polisie dit nie kan hanteer nie, moet die weermag ons kragstasies beveilig. Ingevolge die wet wat sleutelpunte beheer, is daar ʼn plig om die sleutelpunte te beskerm.

“Talle eenhede is gereed om weer in bedryf gestel te word, maar daar is nie mense wat die eenhede operasioneel kan maak nie. Van die werknemers bly net weg en ander word van die werk weggehou. Dit op sigself is ekonomiese sabotasie en die oortreding van wetgewing wat sleutelpunte beskerm.

“Die boewe moet in hegtenis geneem, vervolg en opgesluit word. Hulle oortree die wet.”

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het Dinsdag ook sy misnoeë met die situasie uitgespreek.

“Hierdie onwettige nywerheidsaksie by Eskom raak nie net sy bedrywighede nie, maar benadeel ook ’n hele land. Miljoene Wes-Kapenaars is in die middel van hierdie dispuut vasgevang.”

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê pres. Cyril Ramaphosa behoort in te gryp.

“Dit is eenvoudig verstommend dat die ANC-regering en energieregulerende liggame te midde van ’n nasionale noodgeval in die elektrisiteitsektor ’n lustelose en traak-my-nieagtige benadering aanneem. Daar is duidelik ʼn gebrek aan dringendheid om blywende oplossings vir die krisis te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Pieter9 ·

Nou tyd om van die kriminele element ontslae te raak; ontslaan hulle.

Kokerboom ·

Hierdie is geen grap! Ons land is onder beleg en ons grap daaroor!!!Drastiese Dringende regstellende optredes NOU nodig!! Dwing President om terug te kom en krisis te bestuur. Sy mense vernietig alles.

Strandloper ·

Ons weet tog hys kop en een mis met alles. Dit is oor sy toedoen waar ons nou sit!!!!

Kobus ·

Ons president? Ingryp? Hy was juis ‘n vakbondleier. Hy sal nooit optree nie, sal eerder nog ‘n kommissie aanstel. Useless

Nettie ·

Dankie Afriforum.

Hoeveel die weermag sal kan help, weet ek nie. Maar in “normale” lande sou die situasie LANKAL onder beheer gebring gewees het deur die regering, polisie en weermag indien nodig.

Wat de dinges doen ons regering aan die situasie???? Waarvoor dink hulle word hulle betaal????

Rayman ·

Moet maak soos Margaret Thather gedoen daai tyd in Engeland, pos al hierdie unies want dit gaan SA heeltmal vernietig.
Dit raak nou regtig belaglik dat die unies on die land kqn maak wat hulle wil

Cherokee ·

Onthou net wanneer julle Margaret Thatcher op die hande dra, sy het ‘n terroriste organisasie by name anc toegelaat om ‘n hoofkantoor in London te bedryf, vanwaar terrorisme in SA beplan en uitgevoer is.

Wiehan ·

Dis tyd dat die unies wat die onwettige stakings reel in die hof gebring word en skadevergoeging betaal. Wanneer gaan groot firms begin dagvaar. Raak aan iemand sê geld en jy sien hoe vinnig hulle kan verander

krodedil ·

Duidelik is jy oningelig. Geen unie het ‘n staking uitgeroep nie. Dis Eskom werkers wat self tot aksie oorgegaan het.

SjN ·

Hou op praat en tree daadwerklik op teen die stakende kaders.

Madz ·

Follow the money…. in die geval begin by die rede’s vir die stakings & loadshedding – daars meer hier agter as wat die blote oog kan sien en ALS begin by die ANC regering….

Sonneblomkind ·

Maklik. Arresteer die wat nie wil werk nie en ander dreig. Stel mense aan WAT WIL WERK.

Yvonne ·

Dalk is hierdie alles nog deel van die staatskaping deur die regering…….die swye kan enigiets beteken…..optredes is halfhartig

marius ·

Hofstukke in die hool is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie . Dit is onuitvoerbaar . Daar word vir die polisie gelag . Wie gaan vir die balju luister ?

Owlie ·

Daar hoort n wetgewing te wees wat bepaal dat indien die land n sinkende skip word en gebuk gaan onder die afwesigheid van eerbare, eerlike, hardwerkende president en ministers hulle hulself uit hul pos ontslaan het. Wat is n skool sonder n goeie eerbare eerlike hardwerkende hoof – ‘n lee gebou. Wat is n land sonder goeie eerlike eerbare hardwerkende president en ministers???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.