Hof hoor skokgetuienis oor Venter-moord  

Gerhard Jansen van Vuuren (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

’n Ooggetuie wat die dag van Andrea Venter (25) se moord op die toneel was, het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg getuig dat Gerhard Jansen van Vuuren aan haar erken het dat hy Venter se keel afgesny het.

Die ooggetuie, wie se naam op bevel van die hof nie gepubliseer mag word nie, het getuig sy het op 2 Mei 2011 by die Sibaya Sands-sekuriteitskompleks in Randburg op Venter se grusame moordtoneel afgekom. Sy vertel hoe sy tot vandag toe nie dit wat sy daardie dag waargeneem het, sal vergeet nie en steeds daarvoor berading kry.

Die ooggetuie het getuig sy het daardie dag net na 06:00 wakker geword toe sy ’n vrou buite om hulp hoor skree het. Sy was ’n inwoner van die Sibaya Sands-kompleks en het op die derde verdieping gewoon. Venter was ook ’n inwoner van dié kompleks.

“Ek het by my woonstel se voordeur uitgegaan om te kyk wat aangaan. Ek het ’n man by die kompleks se uitgangshek sien staan. Sy rug was na my toe gedraai,” het sy getuig.

Die man en vrou is op kringtelevisiebeeldmateriaal van die kompleks geïdentifiseer as Jansen van Vuuren en Venter. Die materiaal is as bewysstuk een in die hof ingedien.

Volgens die getuie het sy met die trappe af in die rigting van Jansen van Vuuren gehardloop en ’n duideliker beeld van hom gekry.

“Die man (Jansen van Vuuren) het afgebuk en die bolyf van ’n vrou (Venter) vasgehou. Aanvanklik het ek gedink sy het dalk flou geval en hy probeer haar help, maar toe ek nader loop, het ek die mes in sy hand gesien. Ek het ook gesien die vrou in sy arms se keel was heeltemal oopgesny en daar was net bloed waar jy kyk.”

Die getuie het gesê sy het Jansen van Vuuren gevra wat gebeur het. Hy het volgens die getuie opgekyk en vir haar gesê: “Ek het haar (Venter se) keel afgesny omdat sy nie wou ophou skree nie. Ek het ook my eie keel oopgesny.”

Sy het getuig Jansen van Vuuren het sy keel vir haar gewys, waarna sy ’n tree teruggeneem het en die polisie in haar woonstel gaan bel het.

’n Tweede ooggetuie – wie se naam ook nie gepubliseer mag word nie – het Dinsdag getuig hy was ook op die toneel en het gehoor hoe Jansen van Vuuren die bogenoemde woorde aan die ander ooggetuie gesê het.

Gerhard Jansen van Vuuren konsulteer met een van sy regsverteenwoordigers, Jaco Krüger (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Thulani Ndlovu, ’n sekuriteitsbeampte wat die oggend van die moord by die kompleks aan diens was, het Maandag getuig dat hy gesien het hoe Jansen van Vuuren vir Venter met ’n mes agternasit en haar keel oopsny. Volgens Ndlovu het Jansen van Vuuren daarna dieselfde mes gebruik om sy eie keel oop te sny.

Ndlovu het getuig dat Jansen van Vuuren die mes ook in sy (Ndlovu se) rigting gewys het.

Matthew Watermeyer, ’n paramedikus wat op die toneel gereageer het, het ook Dinsdag getuig ’n swart gordel wat soos ’n karategordel lyk, is op die toneel gevind.

Die eerste ooggetuie het Woensdag getuig sy het gesien hoe Jansen van Vuuren dié gordel – wat om Venter se nek was – afgehaal het.

Andrea Venter se pa, Dries, en haar broer, Kobus, vertel die hofsaak krap weer ou wonde oop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dit is voordat Jansen van Vuuren langs Venter op die grond gaan lê het, het die getuie gesê. “Ek kon hoor hy sukkel om asem te haal en sy nek het erg gebloei.”

Die polisie en paramedici het daarna op die toneel opgedaag en Jansen van Vuuren hospitaal toe gehaas. Venter is op die toneel dood verklaar.

Watermeyer het Dinsdag getuig dat daar verskeie items onder Venter se liggaam gevind is, waaronder ’n vuisyster, motorsleutels, bankkaarte en kontant.

Die staat roep Donderdag sy laaste getuie in die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Angel ·

Hy was gereed om met haar te sterf , maar die skuim moet altyd agter bly.

Toy ·

Dit is wreed en om te hoor sy het gehardloop vir haar lewe en niemand kon haar help nie.

Lubbe ·

Die man moes al lankal toe gesluit word sonder parool. Hy hoort nie ons samelewing nie.

Lillian ·

sy het so lank probeer om hom te ontduik, en te vlug van hom en op die ou end het hy haar gevind en sy walgdaad uitgevoer … dis jammer dat hy oorleef het.

Lood ·

In gevalle soos hierdie is dit jammer daar is nie meer doodstraf nie…..

Wondermaarnet ·

Hoekom karring aan ‘n saak as hy skuldig is? Sluit toe.

Annelize ·

Arme, arme oom Dries, om hierdie wrede detail te moet aanhoor. Mag hierdie ding nooit weer die buitekant van ‘n tronksel sien nie.

Swerwer ·

Natuurlik sal dit ou wonde oopkrap, en net weer dieper wond. Wilde diere vang en dood ander vir kos, dit is hul habitat maar ‘n wese wat so brutaal iemand anders se lewe neem is erger as ‘n wilde dier.

Renier ·

Wys net watse erge graad van lafaard die vent is as hy met n “knuckleduster” na n girl se huis is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.