Hof moet nou stakers stuit

Die Steve Tshwete -plaaslike munisipaliteit se kantoor in Middelburg. (Foto: CoGTA/Facebook)

Inwoners van Middelburg in Mpumalanga neem nou sake in hul eie hande om ’n einde aan dié dorp se swarigheid te bring.

’n Plaaslike prokureur het Maandag ’n aansoek om ’n dringende interdik by die hooggeregshof in Middelburg ingedien in ’n poging om die sporadiese munisipale stakings in die dorp stop te sit en dienslewering te herstel.

Die aansoek word vroeg volgende week aangehoor.

Die prokureur, André Brandmuller, vra in sy persoonlike hoedanigheid as inwoner van Middelburg van die hooggeregshof om onder meer ’n stokkie voor die onbeskermde staking van munisipale werkers te steek én ’n einde te bring aan die gewelddadigheid teenoor werkers wat wel te midde van die stakings opdaag vir werk.

Hy vra ook in die aansoek dat die stadsraad – wat daarvan beskuldig word dat lede hul plig versuim om te verseker dat dienste aan belastingbetalers gelewer word – ontbind word.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van Middelburg meen die dorp word gyselaar gehou, sedert munisipale werkers aan die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit 11 maande gelede sporadies begin staak het.

Talle dienste is die afgelope maand te midde van die jongste staking tot stilstand geruk. Dit sluit in dienste by die lisensiekantoor, wat beteken dat geen lisensies uitgereik of hernu kan word nie. Intussen kan geen eiendomsoordragte gedoen word nie. Vullis word ook nie verwyder nie, terwyl diegene wat vrywillig inspring en die strate probeer skoonmaak, aangeval word.

Twee mense is die afgelope tien dae deur sekerheidswagte tydens ’n staking doodgeskiet.

“Die werklikheid is dat die munisipaliteit niks aan onwettige en onbeskermde stakings doen nie. En die munisipaliteit en stakers weier om met mekaar te praat.”

Middelburg vroeër die jaar. (Foto verskaf deur VF Plus)

Brandmuller het homself as bemiddelaar beskikbaar gestel. Daar het egter niks van gekom nie. “Die werkers het my aanvaar as bemiddelaar, maar niemand anders wil praat nie.”

Nico Denner, ’n inwoner op die dorp, sê inwoners ondersteun Brandmuller se aansoek om ’n interdik.

“Brandmuller het die inisiatief geneem om die aansoek in te dien. Ons het verlede week ’n petisie opgestel en het reeds 3 000 handtekeninge ingesamel. Ons ondersteun sy aksie en hy ondersteun ons petisie.

“Ons as inwoners doen nou ons eie stappe omdat die politieke partye niks doen nie. Dit is al wat ons nou kan doen.”

Brandmuller glo hy het ’n redelike kans dat die hof ’n interdik gaan toestaan.

“Ons is uiteraard in die hande van die hof en die hof moet besluit of hy die aansoek wil aanhoor. Maar hulle behoort na ons te luister.”

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die stakings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

Tipies, jy sien net die politieke partye voor dit stemtyd is. Verder is meeste van hulle “MISSING IN ACTION” Gemeenskappe moet opstaan teen hierdie nonsens en Munisipaliteite moet NIE deur hulle bestuur word nie. MEESTE munisipaliteite is BANKROT en word ondersoek vir korrupsie en wanbesteding. Meeste van hulle in beheer van munisipaliteite is ONBEVOEG, LUI, USELESS EN SKELM

domheks ·

Stel mense aan wat WIL werk! Die goed kry te maklik hulle sin. Somtyds nog ‘backpay’ ook.

GWS ·

Hierdie toestand sleep al JARE voort in Middelburg. Ek onthou toe ek een dag deur Middelburg moes ry sewe jaar terug was daar daardie tyd ook munisipale stakings en kon ek nie in die hoofstraat ry nie agv vullis wat die straat vol gelê het met bande wat ooral brand. Ek is bly dat daar mense is wat nou iets aan die situasie wil doen!

duiweboer ·

Moet nie vir die (on) dienste betaal nie. As daar nie geld is om salarise te betaal nie Sal die perde vinnig begin werk, maar dit is lekker om te staak en jou salaris te verdien

Samuel ·

Mens kan net hoop en bid dat Brandmuller se saak gaan slaag. Dankie dat hy vir die inwoners opstaan.

Oosieoos ·

Betaal hulle af en stel die baie kundige mense aan wat werk soek

marius ·

Die spul steur hulle nie eers aan die polisie nie . Wat gaan ‘n stuk paper beteken ?

Nico ·

Dit is hulle kultuur wil alles verniet hê so nie word alles verwoes dit is hoekom hulle niks het nie.

Japie ·

Hier in Middelburg dink die DA hulle plig is om gebarste waterpype en loadshedding te rapporteer. Die VF+ maak nie eers die piep van `n muis nie. Die vorige VF+ verteenwoordigers wat hulle kant gebring het is na die verkiwesing, waarin hulle hard gewerk het sonder rede vervang. Die huidiges handhaaf so lae profiel ons ken nie eers hulle name of gesigte nie maart trek salaris elke maand. Die EEF is sy ou opstokerige self. Die res is ook maar stil. Die ANC sit hande gevou. Waarvoor het ons mense gestem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.