Hommeltuig-ongelukke só hokgeslaan

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kenny Eliason/Unsplash)

Die toenemende gebruik van hommeltuie om pakkies te vervoer, sal nou aansienlik makliker wees nadat ʼn navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn botsingsvoorkomingsalgoritme vir onbemande lugvoertuie ontwikkel het.

Die navorsing is gedoen in ʼn poging om die outomatisasie van hierdie voertuie nog verder te bevorder en te verhoed dat hommeltuie in die lug met mekaar bots. Die nuwe navorsing sal help dat hommeltuie, wat pakkies by onafhanklike bestemmings in baie besige stedelike omgewings moet aflewer, ʼn seepgladde vlug kan onderneem.

Die algoritme stel hommeltuie in staat om allerlei soort botsings met stilstaande en dinamiese voorwerpe te voorkom, terwyl die hommeltuie steeds hul posisies, snelhede en voorgenome vlugbane in komplekse omgewings kan navigeer.

Die afgelope paar jaar is ʼn toename in die gebruik van hommeltuie aangeteken. Hierdie aanvraag na onbemande lugvoertuie het egter ʼn aantal uitdagings vir outomatisasie geskep.

Dr. Lauren Meiring het onlangs haar doktorsgraad in Elektroniese Ingenieurswese aan die US behaal en het in haar tesis samewerkende botsingsvoorkomingstrategieë vir onbemande lugvoertuie ontwikkel.

Volgens Meiring word daar nie algemeen van voorkomingstelsels gebruik gemaak om botsings tussen hommeltuie te voorkom nie.

“Sommige hommeltuie wat kommersieel beskikbaar is, pas botsingsvoorkoming toe, maar net vir stilstaande voorwerpe. Wanneer hulle wel met hierdie stelsels toegerus word, is dit gewoonlik om ʼn gespesialiseerde taak te verrig en is dus nie noodwendig van toepassing op onafhanklike hommeltuie wat individuele take verrig nie,” sê sy.

“Daar word aangeneem dat hierdie hommeltuie langtermynroetes volg, soos om tussen pakhuise te vlieg. Wanneer ʼn botsing op hierdie roetes voorspel word, werk al die hommeltuie saam om te beplan en om korttermyn-botsingsvoorkomingsbane te volg. Hulle gebruik horisontale, vertikale of driedimensionele bewegings om botsings met mekaar te voorkom, met die terrein wat staties is met dinamiese hindernisse.”

Die huidige botsingsvoorkomingstegnologieë wat in die kommersiële lugruim gebruik word – Traffic Alert and Collision Avoidance System (TCAS) en Ground Proximity Warning System (GPWS) – volg egter reëlgebaseerde, nie-samewerkende en ontkoppelde benaderings wat nie vir hommeltuig-botsingsvoorkoming in lugruimtes met komplekse oppervlakke en baie opeenhopings geskik is nie.

Meiring sê haar benadering vereis nie dat hommeltuie moet saamwerk om dieselfde doel te bereik nie; hulle moet slegs met mekaar in verbinding wees en net lank genoeg saamwerk om ʼn botsing te voorkom.

“Die twee algoritmes wat ek geskep het, is hibriede van die twee algemeenste benaderings tot botsingsvoorkoming, naamlik die gesentraliseerde en die ontkoppelde benaderings. In die gesentraliseerde benadering beplan alle voertuie roetes om saam die botsing te vermy en in die ontkoppelde benadering word dit individueel gedoen. Gesentraliseerde strategieë is die betroubaarste en die beste, maar is stadig, terwyl die ontkoppelde strategieë minder betroubaar, maar aansienlik vinniger is,” sê sy.

“Die simulasies wat ek uitgevoer het om die doeltreffendheid van my algoritmes te toets, het getoon dat albei algoritmes op hierdie strategieë kon verbeter deur sommige van hul tekortkomings uit te skakel, terwyl dit meestal hul sterkpunte behou het.”

Meiring hoop dat hierdie navorsing al hoe meer hommeltuie in staat sal stel om in meer lugruimtes ingeskakel te word – veral kommersiële lugruimtes, deur moontlike opsies te verskaf om botsingsvoorkoming te verseker.

“Hierdie soort strategie kan help om hommeltuie meer algemeen, veiliger, en meer nuttig te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kaplyn ·

Hierdie Dr. Lauren Meiring is nou ‘ voorbeeld waar die ANC regering ‘n uitstekende ingenieur deur 6 kubane sal vervang. Dr Meiring baie geluk met jou doktorgraad in Elektroniese ingenieurswese!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.