Hond aflaai-storie is onwaar, sê Netcare

Die foto wat op Facebook versprei word.

ʼn Netcare-personeellid het vroeër vandeesweek na vore gekom om inligting te verskaf oor waninligting en foto’s wat op sosiale media versprei is dat sy haar hond langs die pad in Boksburg wou aflaai.

Volgens dr. Nceba Ndzwayiba, Netcare se direkteur oor menslike hulpbronne en transformasie, het die maatskappy ʼn ondersoek van stapel gestuur oor die saak met volle samewerking deur die personeellid. “Die ondersoek het bepaal dat die verbyganger wat stilgehou en die personeellid gekonfronteer het, nie verstaan het wat aangaan nie en verkeerde afleidings gemaak het,” het Ndzwayiba gesê.

“Ons kollega het vroeër vandeesweek, ná die voorval, vrywillig die Dierebeskermingsvereniging (DBV) genader om ʼn inspeksie by haar huis te kom doen. Netcare het die formele brief gesien wat die DBV uitgereik het na afloop van die ondersoek. Volgens die brief is ʼn inspeksie Donderdag gedoen van die betrokke persoon se honde – een swart borderkolliereun en ʼn rottweiler-reun. Albei honde is gesond en het toegang tot kos, water en skuiling,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig ’n Facebook-plasing met ’n foto van ’n vrou in ’n Netcare-uniform wat glo ’n hond langs ’n pad wou aflaai, word wyd op sosiale media versprei. Die vrou het die hond terug in haar motor gelaai en weggery nadat sy gekonfronteer is, word in die plasing beweer.

“Ons kollega se weergawe van die voorval dui daarop dat sy rondgery het en een van haar honde was saam met haar in die motor. Die gesin het onlangs ʼn traumatiese kriminele voorval beleef en sy voel veiliger met die hond by haar in die motor. Sy het gesê die hond het egter begin neul en sy het stilgehou om na die dier om te sien. Dit is in dié stadium dat die verbyganger stilgehou het en haar gekonfronteer het. Sy het die hond in die motor teruggelaai en huis toe gery.”

Die verbyganger het sonder toestemming foto’s geneem en dit aanlyn gedeel met haar eie afleidings dat dit ʼn poging was om die hond langs die pad agter te laat. “Ons kollega is publiek belaster en sleggesê.”

Weens die publiek se ontsteltenis oor die ongegronde voorval is die gesin nou te bang om met hul eie motor rond te ry – uit vrees vir teistering of dat hulle aangeval kan word. Hulle het besluit om regstappe te neem teen die individu wat die voorval verkeerd vertolk het en hulle groot skade berokken het deur valse bewerings.

“Dit is ʼn verskriklike beproewing vir ons kollega en haar familie. Netcare reël berading om hulle te help om dié traumatiese ervaring te oorkom,” het Ndzwayiba gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Phillip ·

Ek het do iets vermoed toe ek die foto met die bakkie in haar hand sien. Daardie hond lyk goed versorg.

Keelvol ·

Dis omdat daar mense is wat verveeld met hulle self is. Hulle sien n ding en kom onmiddelik tot die verkeerde gevolgtrekking. Hierdie wat mense sommer net ander mense afneem moet stop.

Dries ·

Hoop en vertrou dit is die ware storie. Gee haar maar die voordeel van die twyfel

Zara ·

Ek is jammer, ek was ook een wat n oorhastige opinie gehad het. Sterkte

Cherokee ·

Dankie vir die erkenning, Zara. Jy is een van min indien nie die enigste, wat dit erken. Kommentators praat graag agter mekaar aan, en dàn word dit dikwels kommintare.

Sandra ·

So jammer dat sommige mense sosiale media toe hardloop sonder om hulle feite na te gaan. Laat dit ‘n les wees vir ander.

007 ·

Laat die fotograaf betaal vir haar onnosele foutjie. Laat dit vir haar n les wees.

Cherokee ·

Nee, waarskynlik was dit goed bedoel. In deernis met diere wat weggegooi word. Het mos gesê somtyds word dit kommintare.

FBS ·

Ons sien die perfekte voorbeeld van emosie teen oor die werklikheid. Die sondebokke is gewoonlik mense wat altyd die emosionele en verkeerde in andere sien in plaas van die werklikheid te soek en dit na te jaag. Ons sien dit ook gereeld by die DBV wat aanhou om emosie aan te blaas inplaas van om eers te bepaal wat die werklikheid is. Hoeveel keer het ons dit nie gelees oor berigte van wildboere se probleme wat aan geblaas was en nooit die waarheid was nie.

Zollie ·

Ek het mos gesê ek gaan lekker kry as die storie onwaar is. Die mense wat so op die wa gespring en die vrou skuldig bevind het moet omverskoning vra. Hulle het nog niks in die lewe geleer nie.

Nie Verbaas ·

Ek hoop dat die persoon wat haar verkla het aan die pen gaan ry. Sulke dinge ontstel diereliefhebbers geweldig en dan is die arme vrou onskuldig.

Elmarie ·

Daar’s hy, soos ek op vorige berig genoem het dis maklik om haar op te spoor en háár kant te hoor. Pas op tog voor mens te gou afleidings maak!

Harley Davidson ·

Net taniepetoors het gesê die vrou het dalk die hond water gegee,ons is so kwaad en gefrustreer oor ons omstandighede in hierdie piesang Republiek dat dit seker al manier om stoom af te blaas is om net die slegte te glo in pleks van jy is onskuldig tot skuldig bevind.

Tanniepetoors ·

Nes ek gedink het. Bemoeisieke mens wat niks van honde af weet nie en loop en moeilikheid maak vir ordentlike mense.

Danie ·

Dit is lankal tyd dat n persoon wat op hierdie wyse belaster word, optree.
Ek hoop hierdie dame laat die saak sy pad loop en dat die skuldige(s) behoorlik gestraf word waar dit saakmaak, in die beursie.
Geld kan nie maklik die skade wat aangerig is oornag uitwis nie maar n ordentlike vergoedingsbedrag sal n duidelike boodskap uitstuur en dis waaroor dit nou gaan.

Yvonne ·

Die bakkie met water..etc…is n aanduiding dat die dame met sorg opgetree het..ai die mensdom darem

pompies ·

Ek hoop die familie maak n saak teen die een wat die foto geplaas het en leer haar n les. Te veel mense is te vinnig met hulle selfoon kameras en versprei net n klomp nonsens soos ook op die kommentaar van hierdie blad.

VaalDonkie ·

En ek het so baie afduimpies gekry oor ek haar verdedig het

melaney ·

Die vrou was darem lelik uitgeskel op sosiale media. Kry haar jammer.

Karina ·

Die hond wou seker maar net bietjie “water afgeslaan het” Mense maak te gou verkeerde afleidings.

Alma ·

Mense wil tog altyd so vinnig “name and shame”, nou gaan die dame agter die foon ge”name and shame” word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.