Honderde groet Potch-beesboer ná aanval by slagpale

Koos Van der Leeuw. Foto: Verskaf.

Koos Van der Leeuw. Foto: Verskaf.

“Hy was ʼn held. Hy het die koeëls gevat wat vir my en die seun bedoel was.”

Só herroep Koos van der Leeuw (68), ʼn bekende beesboer en sakeman van Potchefstroom in Noordwes, se vrou, Marietjie, verlede week se gebeure toe haar man by die dorp se slagpale in die kop geskiet is.

Meer as 1 000 mense het Dinsdag by die NG kerk Suiderkruis bymekaar gekom om dié “groot gees” vir oulaas te groet.

Van der Leeuw is verlede Dinsdag in ʼn Johannesburgse hospitaal dood nadat hy vroeër die dag tydens ʼn saketransaksie deur rowers voor sy vrou en ʼn sakevennoot se seun geskiet is.

Marietjie het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle was omstreeks 05:45 by die slagpale om met Jaco de Villiers (23), die seun van ʼn jarelange sakevennoot van Krugersdorp, sake te doen.

“Vier mans in ʼn blou Subaru, sonder ʼn registrasienommer, het skielik daar stil gehou. Die bestuurder het in die motor bly sit en drie gewapende mans het uitgespring en op Jaco afgestorm,” het Marietjie gesê.

Die mans het De Villiers gedwing om op die grond te lê en hom van die kontant wat in sy besit was beroof.

“Ek het in die bakkie agter die stuurwiel gesit. Koos het die mans gesien en sy vuurwapen gegryp. Net nadat hy dit oorgehaal het, het hulle altesaam vier skote op hom en my gevuur. Hy is ʼn held. Sy optrede het my en die seun se lewe gered.”

Die verdagtes het ná die skietery van die toneel gevlug en is steeds soek. Marietjie en De Villiers is nie gewond nie.

Paramedici van ER24 het Van der Leeuw met ʼn kopwond in ʼn plas bloed langs sy bakkie aangetref.  Hy is op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na die Mediclinic Potchefstroom geneem waarna hy met ʼn helikopter na Mediclinic Sandton in Johannesburg geneem is vir gevorderde behandeling. Hy het daar aan sy beserings beswyk.

Marietjie het gesê die gemeenskap se ondersteuning ná die tragiese voorval was “fenomenaal”. “Ons is oorweldig met boodskappe, blomme en mense wat kos aangedra het. Die gemeenskap was absoluut fantasties.”

Sy het gesê haar man was wonderlik en ʼn eerlike sakeman wat vir sy gesin en boerdery geleef het. “Hy was baie regverdig en mense het hom gerespekteer. Daar was ʼn magdom mense by sy gedenkdiens wat bewys hoe baie hy vir almal beteken het.”

Marietjie het gesê hulle is baie tevrede met die polisie se ondersoek tot dusver, al is niemand teen Dinsdag nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Ons is gister ingelig dat die polisie goeie leidrade het wat hulle opvolg.”

Sy het gesê die polisie het hul eie leidrade bymekaar gekry, ondanks ʼn R10 000-beloning wat die familie uitgeloof het vir inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming sou lei. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en roof.

Van der Leeuw word oorleef deur sy vrou, kinders Mornette en Karel en hul eggenote en vier kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Winston ·

Die man was n held en is deur vier aanvallers geskiet. Sterkte aan sy familie en naby vriende. Hierdie tipe moordenaars moet uitgeroei word. Dit is altyd met groot hartseer dat ek moet lees van nog n boer wat vermoor word.

George ·

Mense plaas geld elektronies oor of op n ander manier , MOET NIE groot bedrae geld kontant trek by banke nie , die gemors krimenele le oorals rond en agter volg jou as jy baie kontant by jou het .
Lees die nuus dit gebeur gereeld . WEES VERSIGTIG ASSEBLIEF

Nunez ·

Feit bly staan, of dit ‘n kontanttransaksie was of nie, het geen mens die reg om ‘n ander persoon se lewe koelbloedig te neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.