Hoofregter, parlement vergader

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Luca Sola/AFP)

Die parlement se voorsittende beamptes het Woensdag met hoofregter Raymond Zondo by Constitutional Hill in Johannesburg vergader.

Die vergadering het glo “vrug afgewerp”.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), het dié vergadering met Zondo belê ná sy onlangse opmerkings oor die inwerkingstelling van die aanbevelings van die kommissie na staatskaping en bedrog en korrupsie in die staatsdiens.

Maroela Media het verlede week berig Zondo het by ʼn seminaar oor die tydperk ná staatskaping gesê dat daar ʼn jaar nadat die laaste verdoemende bevindings in die vier jaar lange ondersoek na korrupsie in die staatsdiens onder oudpres. Jacob Zuma aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is, nog geen vordering gemaak is nie.

Die hoofregter het ook gesê indien staatskaping vandag dalk weer gebeur, sal die parlement dit steeds nie kan stuit nie.

Die parlement het daarna teruggekap en gesê Zondo se uitlatings het geen meriete nie en ondermyn die beginsel oor die skeiding van magte.

Maar luidens ʼn gesamenlike verklaring wat laatmiddag uitgereik is, was die vergadering tussen die parlement se voorsittende beamptes en Zondo “gekenmerk deur openhartigheid, wedersydse respek, hoflikheid en waardering vir die rolle van die instellings wat hulle verteenwoordig.”

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Masondo en Zondo het glo ook vanmiddag ooreengekom om voortaaan gereelde vergaderings te hou om “sake van wedersydse belang” te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SjN ·

Zondo se opmerkings is presies korrek , die kaders wil dit nie erken en verantwoordelikheid vat nie. Waarheid maak seer. Tree op asb.

Delia ·

Regter Zondo. Wees versigtig en moenie koffie drink tydens die vergaderings.

Kobus ·

Weet nie waarom regter Zondo steeds bereid is om met die klomp korruptes te vergader nie. Hy moes sy waardigheid behou het en die opdrag van die parlement verwerp het. Hy het sy werk gedoen, die parlement / ANC nie. ‘n Jaar later, miljoene spandeer en dan sit almal wat uitgewys is steeds in hulle poste. Te dikvellig om skuld te erken

Amelia ·

en gaan enige iemand nou tronk toe nee wat ek glo nie was net weer gepraat en gepraat niks gaan steeds gebeur nie

Hendrik ·

Waarom moet daar eers onder hul sitvlak vuur gemaak word. “Openhartigheid en wedersydse respek” is in die geval eerder dikvelligheied.

domheks ·

CR moet nou maar self opdok vir die Zondo kommissie se uitgawes. Hy het hulle aangestel om ondersoek in te stel nou doen CR NIKS! Laat hy maar die $$$ uithaal en belastingbetalers se geld terug betaal.

Jacobus ·

CR het hulle nie aangestel nie, Jacob Zuma het. Toe JZ se naam genoem word toe wil hy dmv hofsaak vir Zondo uitkry. Het gelukkig nie geslaag nie.

Martie Smartie ·

Dis funny ne. Twee ANC kaders verteenwoordig die parlement in n uittrap sessie vd hoofregter. Lg speel nou waghond oor die parlement. Lg is te bang om ‘n onafhanklike antikorrupsie kommissie te stig want hulle is vrot v korrupsie. Nou polisieer hulle hulself. Wat n grap.

Marcello ·

Give this man ‘n “Bell’s” , hy is reg, want hierdie mense is skuldig, maar verder gebeur daar niks, bv. een so geval was Brian Molefe ??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.