‘Hou repokoers onveranderd,’ pleit kenners

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Sommige ekonomiekenners is dit eens dat die Reserwebank die repokoers onveranderd op 8,25% moet hou.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee vergader weer Donderdag en daar word verwag dat die sentrale bank helaas die rentekoers opnuut met nóg 25 basispunte gaan verhoog.

Dít ten spyte daarvan dat die inflasiekoers in Junie vir die eerste keer in meer as ʼn jaar uiteindelik onder 6% (en binne die Reserwebank se teikenband) geval het.

Waldo Krugell, ʼn professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit, sê sommige lede van die monetêre beleidskomitee is moontlik ten gunste van nog een – en hopelik laaste – verhoging.

“Hulle het die middelpunt van die teikenband in gedagte en is bekommerd oor inflasieverwagtinge wat in die tweede kwartaal nog op 6,5% gestaan het.

“Die wisselvalligheid van die rand hou ook ʼn risiko in.”

Krugell sê ander lede van die komitee is aan die ander kant dalk gereed om die pas te markeer.

“Ekonomiese aktiwiteit is gedemp en sake- en verbruikersvertroue is laag.”

Krugell sê indien hy in die monetêre beleidskomitee gedien het, sou hy ten gunste van ʼn onveranderde repokoers gestem het.

“Ek dink die hoë rentekoerse het dit reggekry om die vraag te demp en maatskappye vind dit moeilik om pryse verder te verhoog. Inflasiedruk is minder en die swakker internasionale ekonomie gaan prysdruk verder verminder.

“Noudat pres. Wladimir Poetin van Rusland nie na die Brics-beraad kom nie, is daar selfs hoop vir die rand. Die Reserwebank kan veilig ʼn rentekoersblaaskans waag en wag vir die volgende ronde data.”

Die Reserwebank het die repokoers sedert November 2021 al tien keer met altesame 475 basispunte verhoog. Volgens die bank sal ʼn verhoging in die repokoers inflasie stuit én verhoed dat die rand se waarde verder daal.

Die finansiëlediensteverskaffer Everest Wealth glo egter om slegs op rentekoersverhogings staat te maak om die rand se waarde te probeer beskerm, is nié die oplossing nie aangesien politieke en ekonomiese onstabiliteit die skuld dra en vuisvoos verbruikers eindelik daarvoor boet.

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth, sê die sentrale bank moet besef dat die laaste tien repokoersverhogings nie die verwagte vrugte afgewerp het nie.

“Die rentekoersverhoging in Mei het die rand sy swakste vlak nog teenoor die dollar laat bereik. ʼn Verdere rentekoersverhoging is dus nie die antwoord om die rand se waarde te probeer beskerm nie. Die swakheid van die rand is die gevolg van die regering se slegte besluite.”

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het onlangs ʼn beroep op Enoch Godongwana, minister van finansies, gedoen om dringend met die Reserwebank oor die rentekoersverhogings te vergader.

Godongwana het intussen aangedui dat hy nie die sentrale bank kan voorsê nie.

Van Zyl sê dit is ironies dat die ANC by die Reserwebank wil ingryp om nog ʼn rentekoersverhoging te verhoed, terwyl hy grotendeels die oorsaak van die probleem is. “Dit is die regering se makro-ekonomiese beleid en ander selfgeskepte krisisse wat die probleme veroorsaak.”

Genoeg nou

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê die las op verbruikers, huiseienaars en huiskopers is eenvoudig net te hoog. “Benewens die styging in die prys van elektrisiteit en ander dienste, moes hulle reeds 475 basispunte in rentekoersverhogings absorbeer.”

Seeff glo die hoër rentekoerse het in werklikheid meer skade as goed gedoen.

“Eiendomsverkope het gedaal omdat die mark die rentekoersverhogings weerspieël. Selfs die Kaapse mark, wat sterk was, ondervind ʼn afname in verkoopsvolumes aangesien minder kopers nou aktief is. Die las is te hoog vir verbruikers en huiskopers.

“Dit is nou genoeg.”

Van Zyl meen ook verdere rentekoersverhogings gaan katastrofies vir verbruikers wees. “Die rentekoers moet eerder nou stabiel gehou en dan stelselmatig afwaarts aangepas word. Verbruikers is vuisvoos weens die afgelope ruk se skerp stygings in die rentekoers, asook skerp stygings in kospryse, die brandstofprys, kragpryse en ander lewenskoste. Dit is tyd om verbruikers te beskerm voor die laaste strooi die kameel se rug breek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Maak ministers se gelde minder en laathulle self begin betaal vir hulle huise en sovoorts. Alles verhoog en die vet katte eet net.

anneke ·

Dis nie net die kenners wat pleit nie, dis ons gewone mense op straat wat ook pleit, wat eenvoudig nie meer kan byhou nie. Ons is nie sleg nie, ons is nie lui nie, net gewone mense wat alles ‘reg’ doen maar net nie kan byhou met alles nie.

efjy ·

Presies hoe word inflasie bekamp deur beskikbaarheid van finansies duurder te maak as gevolg van rentekoers verhogings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.