‘Houvrou of trouvrou’-wenner kerf eie lewenspaadjie uit

Cherith Langenhoven, wenner van die tweede seisoen van ‘Houvrou of Trouvrou’. (Foto: Verskaf)

As die oudste deelnemer aan die tweede seisoen van VIA se trefferreeks, Houvrou of trouvrou, het Cherith Langenhoven se lewenservaring telkens in haar guns getel, ondanks die etiketghoeroe Emsie Schoeman wat as beoordelaar haar puntetelling gereeld ʼn lelike knou toegedien het.

Al was sy aanvanklik onseker en uiters senuweeagtig voor die kameras, het sy mettertyd besef sy kan haar jonger mededingers se energie kombineer met haar eie ervaring, vertel dié Kapenaar aan Maroela Media.

Cherith (41) het met die prysgeld van R300 000 huis toe gegaan deur stof in Danica Vandenheede (26) van die Kaap en Monique Best (23) van Brits, Noordwes, se oë te skop. Vandenheede en Best het onderskeidelik tweede en derde op die punteleer geëindig.

Nastassja Ras (38) van Pretoria is in die eerste seisoen as wenner gekies. Dié slag het die aktrise Simoné Pretorius die aanbiedersrol by Christi Panagio oorgeneem.

Die akteur Sean-Marco Vorster en omroeper Sherlin Barends het ook weer as beoordelaars opgetree.

“Ek het beslis die samelewing se vooropgestelde idee uitgedaag dat jy nie trouvrou-materiaal of oor die muur is as jy op 40 nog ongetroud is nie. Ek het bewys jy hoef nie ʼn getroude vrou te wees om van waarde te wees nie,” sê Cherith, ʼn navorsingsielkundige van beroep.

Hoewel die prysgeld ʼn welkome meevaller is, was dit nie die grootste motivering vir haar om vir die VIA-program in te skryf nie.

Sy is verlede jaar self met post-traumatiese stresversteuring gediagnoseer en het vir ʼn lang tydperk deur ʼn depressiewe episode geworstel. As beroepsielkundige was dit vir haar belangrik om na haar eie geestesgesondheid om te sien sodat sy weer haar beroep kon hervat.

Cherith lei ‘n avontuurlustige lewe. (Foto: Verskaf)

“Om aan die program deel te neem, was ʼn manier vir my om weer myself te herstel, en te evalueer waar ek myself in my lewe bevind. Die program is ook meer lighartig en gesinsgeoriënteerd, en dit is ʼn heilsame omgewing waar ʼn mens beskermd is. Dit het gelyk of die program by my waardes pas.”

Sy wou ná haar depressie nie net oppervlakkig herstel het nie, en het haar deelname aan Houvrou of trouvrou as ʼn geleentheid beskou om te wys waardeur sy kan kom.

“Ek wou nie die helfte van die mens wees wat ek voorheen was nie, en hierdie was my kans om ten volle te herstel. Ek glo wel die dieper betekenis oor hoekom ek deelgeneem het, het eers later gekom.”

Cherith het in die Paarl grootgeword, maar bieg dat dit moeilik was om tydens die verfilming van die program deurlopend Afrikaans te praat.

“Al is ek ʼn gekwalifiseerde Afrikaanse onderwyseres, is dit my tweede taal. Ek is egter baie bekwaam in die taal, maar my tong was uit oefening uit. Ek het besef hoe moeilik dit is om jouself in jou tweede taal uit te druk.”

Dat vroue beter raak met ouderdom, is gewis, benadruk Cherith. “My lewenservaring en die bagasie wat ek daagliks met my saamdra in terme van ondervinding, is iets wat beslis in my guns getel het.”

Die jonger deelnemers se energie was egter aansteeklik, sê sy. “Ek is ongelooflik dankbaar vir die vars energie wat die deelnemers saam met hulle gebring het, want dit het my herinner dat ek eens op ʼn tyd ook daardie persoon was, en ek wou dit graag weer wees.”

Cherith reis graag. (Foto: Verskaf)

Hoewel Cherith graag uit die publieke oog sou wou verdwyn, wil sy ook ʼn rolmodel wees vir vroue wat dieselfde agtergrond as sy deel.

“Ek wil vir ander vroue wys, jy hoef nie op 16 swanger te raak en te trou, of by dwelms betrokke te raak, net omdat dit is wat almal anders doen nie. Jy kan jou eie paadjie in die lewe uitkerf, en ʼn lewe van avontuur en opwinding lei.”

Houvrou of trouvrou is op DStv Catch Up te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Cherith, ek het van die begin af vir jou ge-“cheer”, nie alleen omdat jy ook van die Pêrel af kom soos ek nie, maar omdat jy juis die mens is wat jy is. 9/10 van die ander dames is baie “aangeplak” en kunsmatig. Maar hallie-ha, nee meisie! Onse mense van die Pêrel issie so nie. Kyk, as jy grootgeword het in Charleston Hill, op die Rug, Denneburg en daai plekke, is Afrikaans mos ‘n vloekwoord. Maar ons weet: in onse harte IS ons Afrikaans, moenie skaam wees om te sê jy het in ‘n Afrikaanse gemeenskap grootgeword nie!

Karoo ·

Ilze, ek staan saam met jou, dis vir my “afbreekend” teenoor dames.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.