Huldeblyk aan Maclear-boer: Wêreld het meer soos hý nodig

Francis Davidson (Foto: Facebook)

“Vir ʼn 74-jarige man was my pa nog fiks en gesond. Hy was ʼn besige man en het nog aktief geboer. Daarom is sy dood vir ons baie swaar.”

Só vertel Craig Davidson oor sy pa, Francis Davidson, wat Dinsdag in die hospitaal dood is, sowat ʼn maand nadat hy lank op sy plaas in die distrik Nqanqarhu (Maclear) aangehou en gemartel is.

Volgens Craig het sy pa nog daagliks te voet of te perd teen die berge opgegaan waar hy ʼn stuk veld gehuur en waar ʼn paar van sy beeste gewei het.

Francis Davidson (75). (Foto: Verskaf)

Davidson was nie bang om op sy oudag sy hande vuil te maak nie en het graag trekkers en landbou-werktuie reggemaak. Hy het as stokperdjie ook graag outydse trekkers herstel.

“Daar lê nog ʼn trekker se enjin op die plaaswerf waaraan hy besig was om te werk.”

Hy het ook vir boere in die omgewing planters en spuite gekalibreer en het die afgelope jaar op ʼn enkele dag 300 skaap vir ʼn projek help doseer.

“Hy was nie ʼn welgestelde man nie en het van die hand tot die mond geleef deur die geld wat hy vir loswerkies gekry het. Maar hy was ʼn baie hardwerkende man.”

Francis en sy vrou, Heather (Foto: Facebook)

Drie mans het Davidson op 26 April op sy plaas oorrompel, hom erg aangerand en gemartel. Die boer het erge kopbeserings tydens die aanval opgedoen en moes twee breinoperasies ondergaan. Hy het ook massiewe spiertrauma en brandwonde opgedoen.

Davidson se familie het einde Mei aan Maroela Media gesê hy sukkel nog met kognitiewe vaardighede en was fisiek uiters verswak. Hy het nie meer sy eie naam onthou nie en ook nie sy familie herken nie.

Dit is vir die familie moeilik om te aanvaar dat Francis op só ʼn wrede manier van hulle weggeneem is.

“Hy het nog lus vir die lewe gehad en dit is van hom gesteel.”

Davidson en sy vrou, Heather, het ʼn gelukkige lewe op die plaas gehad en hy was ʼn geliefde boer in die Oos-Kaap, vertel sy seun.

“Hy het geen vyande gehad nie. Hy was baie vriendelik en het nie gou kwaad geraak nie. Hy het graag gelag – die lagplooie op sy gesig getuig daarvan.

[Foto: Verskaf]

“Hy het ook altyd tyd gehad om ʼn geselsie met enigiemand aan te knoop – van die veewagter tot die hond.”

Daar is nog nie ʼn datum vir Davidson se roudiens bepaal nie omdat die nadoodse ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Glen Velleman, Heather se seun, skryf op Facebook dat Davidson dankbaar vir die klein dinge in die lewe was.

“Ons sal altyd jou stories onthou wat jy met soveel passie vertel het. Die wêreld het meer van jou sagmoedige menswees en karakter nodig,” skryf Velleman.

Francis se dogter, Tara Davidson, skryf sy is dankbaar dat sy haar pa se hande die laaste paar weke kon vashou en vir hom kon sê hoe lief sy vir hom is.

[Foto: Verskaf]

Yamkela Fanaphi, Thembelani Mazibuko en Andile Dyani sal Dinsdag in die landdroshof op Nqanqarhu verskyn wanneer ʼn klag van moord by die klagstaat gevoeg sal word.

Fanaphi het deeltyds as plaaswerker vir Davidson op die plaas gewerk.

Craig het tot dusver elke hofsaak bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Delia ·

Oom, ek is so verskriklik jammer dat Oom so aan die einde van Oom se lewenspad moes kom. My hart huil vir Oom se pyn en vrees wat Oom moes ervaar in daardie aanval. Ek hoop Oom se familie kry dit op n manier reg om die woede en ook die verlies te verwerk.
Rus sag oom.
Sterkte aan die familie vir die hofsaak.

Papsak ·

Gee hom of hulle wat so moor vir ons dan sal ons hulle wys wat met hulle gedoen gaan word so hartseer vir al die boere wat so wreed dood gemaak word hy brjaart wat het hy hulle gedoen vra ek hulle nie mense nie maar wreed soos n dier

Vonkprop ·

Kom ons noem hierdie aanvalle wat dit is. Dit is polities gedrewe rassistiese aanvalle op witmense om ons te intimideer. Die aanvallers is te bang om een een te kom en kom in groepe om oumense aan te val. Hoe lafhartig en pap moet jy wees om dit te doen. En die jonger boere wat aangeval word en wel nog kan terugbaklei word dan van rassisme aangekla as die aanvallers op hulle moses kry. Dit is tyd dat ons saamstaan en uitskree wat hierdie aanvalle regtig is. Ons kan, mag en sal dit nie langer duld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.