‘Hulle sal nie hiermee wegkom’ – oud-Bok ná aanranding

Grant Esterhuizen (Foto: Grant Esterhuizen/Facebook)

Die voormalige Springbok-rugbyspeler wat Saterdag by ʼn nagklub buite Mbombela (Nelspruit) aangerand is, sê hy sal tot die bittereinde veg dat geregtigheid moet geskied.

“Ek hou nie van boelies nie. Hulle sal nie hiermee wegkom nie,” het Grant Esterhuizen (46) Vrydag aan Maroela Media gesê.

Die aanranding het ná die Rugbykampioenskaptoets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in die Mustangs – The Dancing Place in Mbombela afgespeel.

Volgens Esterhuizen het die twee mans hom sonder rede bygedam en begin aanrand, waarna hy sy bewussyn vir sowat 20 minute verloor het.

Hy is met harsingskudding in Mediclinic Brits opgeneem en is die volgende dag ontslaan.

“Dit gaan elke dag beter. Ek kry so hier en daar nog ’n skoot hoofpyn as gevolg van die harsingskudding wat ek opgedoen het. My lyf raak ook nog af en toe op plekke seer.”

Van die besonderhede van daardie aand is ook nog nie duidelik vir Esterhuizen nie.

Esterhuizen het lede van die publiek op sy Facebook-blad om hulp gevra om die aanvallers aan te keer.

“Daar was baie ooggetuies op die toneel wat gesien wat gebeur het en video’s van die aanranding geneem het.”

Esterhuizen vra dat die ooggetuies hom moet kontak en ook die video’s as bewyse deel. Sy prokureurs het ook ’n brief aan die motorfietsklub gestuur om hul kringtelevisie-beeldmateriaal aan hulle beskikbaar te stel.

“Daar is baie bewyse en getuies teen die mans. Dit is net ’n kwessie van tyd voor hulle vasgetrek word.”

Esterhuizen het ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer by die polisie aanhangig gemaak. Hy het ook ’n siviele eis ingedien, wat sy prokureurs hanteer.

“Ek wil hê die ouens moet die pakslae kry wat hulle verdien. Daar is te veel sulke gevalle waar die rampokkers wegkom en sake deur die regstelsel se krake val.”

Esterhuizen weet nie waarom die mans hom aangerand het nie.

“My beursie en selfoon was nog by my, so dit was nie ’n diefstal nie. Ek dink net ek was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.”

Maroela Media het vroeër berig Esterhuizen het buite die klub gestaan toe een persoon na hom toe aangestap gekom en gesê het hy voel of hy hom wil slaan. Esterhuizen het sy rug na hom gekeer en toe word hy van die kant af geslaan. “Dis eintlik al wat ek kan onthou,” het Esterhuizen vertel.

Esterhuizen het vermoedelik sy bewussyn verloor toe ʼn valhelm hom getref het.

Volgens Esterhuizen was een persoon kort met ʼn yl baard en kort donker hare. Die tweede persoon was ʼn lang, maer man met ʼn donker snor en bokbaardjie. Die langer persoon het ʼn blou-en-swart blokkieshemp aangehad. Albei het motorfietsbaadjies aangehad.

Esterhuizen het in 1996 vir die Blou Bulle begin speel en in 2000 sy debuut gemaak as ʼn plaasvervanger vir die Springbokke teen Nieu-Seeland by Jade-stadion in Christchurch. Hy het in sewe toetswedstryde gespeel tydens die 2000-rugbyseisoen. Hy het Suid-Afrika in 2003 by die sewestoernooi verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

LIEZL ·

Presies, en wat soek ‘n ‘ou’ man in ‘n Nagklub in elk geval en as jy gekuier het, dan staan mens nie vir niks buitekant rond nie. Jy verlaat die plek en jy gaan na jou motor en gaan huis toe. Dis net moeilikheid soek

Waarnemer ·

Grant ek hou duim vas jy gaan die lafaards opspoor…..

KatjieDeKat ·

Snaakse storie hierdie. Dalk was die ou wat hom geslaan het, dronk. Of eenvoudig net n moeilikheidmaker. Ek kies nie kant nie, sal net graag eers wil hoor wat al die betrokke partye se stories is.

piet ·

Ek dink nie so nie. As hy skoor gesoek het of meer betrokke was hier sou hy nie so ‘n ophef gemaak het van die storie nie.

John ·

Dit is duidelik dat mense nie almal die bikers ken nie. Ek veralgemeen nie maar daar is van die clubs wat net moeilikheid maak as daar drank is. Ek was self in die 80 en 90 jare in so ñ club. Ek nooi julle uit om na een van die saamtrekke te gaan Dan praat ons weer

007 ·

John jy was baie jare laas daar. Ek is nou al 15jr by die BMW inland Club in Bloemfontein. Nog nie een bakleiery gesien of van gehoor nie. Ons is nie almal so nie.

Leana ·

Ek weet darem nie. Kan nie glo dat enige iemand sommer net vir ‘n persoon sal se ek is lus om jou te slaan en dan die persoon bydam nie. Te veel in die storie wat nie vir my sin maak nie. Is hy regtig so onskuldig soos hy maak of hy is?

Wanda ·

Presies.Glo nie by is onskuldig nie.Niemamd gaan net skoor soek vir nika nie

piet ·

Glo my jy kry die tipe van rubbish (noem hulle sommer skollies) wat na jou toe sal loop en ‘n bakleiery wil begin sonder dat daar vooraf ‘n voorval was.

Di ·

SKUIM van die aarde! DRANK speel dalk n groot rol in wat hier gebeur het. Party mense gedra hulle mos soos varke as hulle gesuip raak

Willie ·

Dit is ‘n skande dat jy onnodig aangeval word deur boewery! Die lot moet op hulle herrie kry!

Wanda ·

Nee wat ek is jammer maar geen ou gaan net sy rug draai op iemand wat skoor soek nie,. Ek dink hy het huller gevloek die dat hulle hom geslaan het. Nou is hy kamsig onskuldig shame en soek aandag

Leon ·

Maak nie sin. Hy weet nie wie het hom aangerand maar stel n siviele eis in. Teen wie ??

Republikein in die Wes Kaap ·

Die een ou is kort en dik, die ander ou is lank en maer. Klink soos twee kreature uit die Rocky Horror Picture Show. “Let’s to the time walk again.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.