Hulp stroom in vir Vernon Koekemoer

Linda Coetzee, Cassie Booyse (oftewel Vernon Koekemoer) se lewensmaat van die afgelope nege jaar, gesels in die Jacaranda FM-ateljee oor sy toestand. (Foto: Skermgreep)

Jacaranda FM en die Good Morning Angels-program het Woensdagoggend die geldelike las van Cassie Booyse – bekend as Vernon Koekemoer – se mediese uitgawes met ʼn skenking van R30 000 ligter gemaak.

Dié bedrag word aan Booyse geskenk uit die Good Morning Angels-fonds, het omroeper Martin Bester aan Linda Coetzee, Booyse se lewensmaat van die afgelope nege jaar, gesê.

Coetzee het Woensdagoggend in die Jacaranda FM-ateljee gesels oor Booyse (66) se toestand. Hy lê sedert 17 September in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg nadat sy gesondheid skielik drasties begin agteruit gaan het.

Hy is die afgelope twee jaar bedlêend nadat hy drie onsuksesvolle heupoperasies in dieselfde hospitaal ondergaan het. Maroela Media het vroeër berig Booyse het ná die laaste operasie in Februarie vanjaar weer infeksie gekry en hy kon sedertdien nog glad nie weer loop nie.

Volgens Coetzee het Booyse vyf jaar gelede ophou werk weens sy gesondheidsprobleme.

Linda Coetzee en Vernon Koekemoer. (Foto: Verskaf)

“Ek weier om op te gee op Cassie. Dit is nog nie sy tyd nie. Ek glo daar is hoop,” het sy emosioneel aan Bester en sy span gesê.

Malcolm Wentzel, die bekende TikTokker en sakeman, het ook namens die FKN Army R20 000 aan Booyse geskenk. Die FKN Army is ʼn sosialemediabeweging wat gestig is om behoeftiges te bemagtig.

ʼn Groep Suid-Afrikaners wat in Nederland woon het ook hand in die sak gesteek en het ʼn skenking van R15 000 aan Booyse gemaak.

“Ons is ʼn groep mense in Nederland wie se harte geroer is deur Vernon Koekemoer se verhaal,” het ene Wian in ʼn telefoonoproep gesê.

“Good Morning Angels is ook in verbinding met ʼn topspesialis wat gratis vir Cassie sal ondersoek en ook gratis toetse sal doen om die omvang van sy probleme en die behandelingspad vorentoe te bepaal,” het Bester gesê.

Booyse het in 2008 oornag ʼn sensasie op die internet geword nadat ʼn foto van hom by ʼn musiekfees, met ʼn kortbroek, geknoopte hemp, mullet en glasie in die hand, versprei het. Hy is “Vernon Koekemoer” gedoop en die foto is wêreldwyd versprei.

Volg dié BackABuddy-skakel om vir Cassie Booyse geldelik by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

OW ·

Engele is met ‘n rede ooral op aarde op strategies plekke geplaas met ‘n doel.Baie sterkte aan Cassie en sy familie.

Net ek ·

Dis lekker om te lees hoe goed mense vir ander is. Sterkte vir die herstel pad.
Hoop nie hierdie ontaard ook in ‘n moddergooiery en beskuldigings soos die Muller seuntjie se storie nie.

Vanessa ·

Ek kan nie verstaan waarom dokters die beroep kies as hulle geen passie het vir wat hulle doen nie. Doen hulle dit dan net vir die geld. Hoe maak mens so fout. Dis ‘n mense se lewens waarmee jy speel. Hoe sal jy voel as dit jy was!!!!!! Dis onaanvaarbaar. Nadat my moeder in die hospitaal (privaat hospitaal) opgeneem is en ek gesien het waardeer hulle mens sit, sterf ek eerder by my huis. Dit sluit die susters in wat onbeskof en gevoelloos is. As jy nie gemaak is om ‘n dokter/suster te wees nie gaan soek iets anders. Vir die wat dit vir die regte redes doen ons dank julle vir alles, soos die spesialis wat sy dienste nou gratis aanbied. Prys die Here vir iemand soos jy, ons het meer dokters soos jy nodig.

Delia ·

Vanessa, ek praat nie nou hier van Vernon nie. En oor toewyding van mediese personeel, stem ek met jou saam. Daar is egter 2 kante aan baie sake.
Onthou ook dat post operatiewe chirurgie dikwels misluk, omdat pasiënte nie die post operatiewe bevele volg nie. Dis dan maklik om dr te blameer as die uitkoms onsuksesvol is.

George ·

Dan gebeur dit ook dat die patiente, hospitale die liefde vir hul werk wegvat. As ek kyk na hoe baie mense die susters behandel, dr’s ingnoreer en dan later kom moan, nee wat. Ek dink meeste begin met n passie, wat later doodgemaak word in die werksplek.

Delia ·

George jy het n punt beet. Ek was 40 jaar in die mediese veld

Johann ·

Jy veralgemeen darm nou woes en wyd? Neem aan jy doen jou werk ook net omdat dit jou passie is? Word nie daarvoor vergoed nie? En NEE ek praat nie die betrokke Dr(s) wat aangejaag het goed nie.

Woef ·

Ek wonder of jy jouself ook na die sosiale media haas as iemand se loodgieter ook nie die probleem opgelos kry nie, of verwag dat hy dit gratis moet doen?

Wildemien ·

Diegene wat vir die regte redes die mediesel professie wil betree, kry nie toelating nie. Die antwoord is eenvoudig.

JohanR ·

Wat ek nie kan verstaan dat die ou wat die eerste twee operasies op gemors het, gaan ook die derde operasie doen? Ek sou lankal vir die ou ontslae geraak het.

gpsa ·

Stem saam Johan maar dink nie hulle kan kies wie aan hulle opereer daar nie. Hoop die Dr weet nou wat fout gegaan het en doen dit reg die keer.

Christine ·

Hoekom word die ou toegelaat om te opereer? Wat sê tipe spesialis is hy wat 3 x fouteer? Hoe kan die staat van hom gebruik maak om mense in soveel pyn te sit?

Antjiese5c ·

Dit mag dalk wees dat die operasies reg gedoen is maar sy ligaan die materiaal wat hul gebruik het reject. En in n staats hospitaal is die opsies maar min vir mense sonder geld. Hartseer dat ons goverment niks reg kan bestuur nie.

TRP ·

Verwarm my hart as iemand gehelp kan word. Dankie aan elkeen en ek hoop van harte sy pyn is sommer spoedig beter.

Plaasnooi ·

Fantasties !
Ek wens mense wil ophou sê dat ons ‘n nasie is wat nie kan saamstaan nie !

Marcello ·

Dit is skokkend as ‘n mens hoor van gevalle in Staats Hospitale. In die week het ek verneem van iemand wat ek baie goed ken, het sy vrou in kraam ingegaan, volgens die personeel van die Hospitaal was sy nie “reg” nie, sy is huistoe gestuur, om ‘n ruk later weer terug te keer, die baba het toe al reeds van sy eie ontlasting ingekry, a.g.v. die feit dat die Ma te lank in kraam was. Dit is ‘n skande hoe mense in staats Hospitale behandel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.