Humor is deel van ons DNS

(Foto: Amanda Sofia Pellenz/Unsplash)

Humor is amper so oud soos die mensdom self – selfs Griekse wysgere soos Plato en Aristoteles (nou nie juis ouens wat as grapmakers bekend staan nie!) het eeue gelede al oor die kenmerke van humor gefilosofeer.

Professor Jarries van Jaarsveld, voormalige hoogleraar in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, reken die mens is waarskynlik só aanmekaargesit dat humor deel van sy wese is. “Daar is humor in alle tale en kulture, wat beteken dat dit dalk ’n genetiese substraat het.”

“Tipiese” Afrikaanse humor?

Is daar egter iets soos “tipiese” Afrikaanse grappe en humor? “Daar is situasies wat eie is aan die kultuurwêreld van die sprekers en net deur hulle verstaan sal word,” verduidelik professor Van Jaarsveld.

“Dit word veroorsaak deur historiese of plaaslike gebeure, plaaslike gewoontes soos byvoorbeeld die Engelse pub-stories, die grammatika van die taal, dinge wat die sprekers ken en verstaan, gedeelde kennis en agtergrond en intertekstualiteit. Daar is byvoorbeeld humor wat glad nie vertaal kan word nie (of baie moeilik) as gevolg van dinge soos woordspelings en ironiese antonieme. Ek dink elke taal het sy eie unieke humorsin. Humorsin is in ’n leefwyse of leefwêreld ingebed, en is op sosiale en interaktiewe reëls en ook gewoontes gebaseer.”

En hoe lyk Afrikaanse mense se humorsin – is grappe wat rondom die braaivleisvuur vertel word régtig so eie aan ons kultuur?

“Grappe en humor is nie net deel van ons kultuur nie, maar ook van ons geskiedenis en identiteit,” meen Su-an Müller-Marais, bekroonde radio-omroeper, mediapersoonlikheid en Afrikaans.com-ambassadeur.

“Dit gaan hand aan hand met konserte, vakansie, Bosveld en braai, of sommer net by die werk rondstaan en die lewe verwerk.”

Die skrywer Jaco Jacobs, bekend vir sy grappieboeke, snaakse stories en rympies vir kinders, stem saam. “Afrikaanse mense het so ’n ryk kultuur van stories vertel, waarvan grappe ’n groot deel is. Ek onthou byvoorbeeld hoe ek met die program Spies & Plessié op TV grootgeword het – die fokus was op grappe en humor, maar met meesterstorievertellers aan die woord onder leiding van PG du Plessis en Jan Spies. Dit sal so ’n jammerte wees as dié storie- en grapverteltradisie moet uitsterf.”

Margit Meyer-Rödenbeck in die Maroela Media-ateljee.
(Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Margit Meyer-Rödenbeck, aktrise en komediant bekend vir haar karakter Dowwe Dolla, beklemtoon ook die rol van stories. “Ek dink storievertel is ’n groot aspek van ons Afrikaanse humor, soos wat Spies en Plessié, Stoepstories en OppieStoep só goed bewys.”

Sy reken daar is nog ’n eienskap van Afrikaanse humor wat eervolle vermelding verdien: “Een ding wat ek wel van ons nasie kan sê: Ons kán vir onsself lag. Wel, die meeste kan, maar ons het ook altyd die stywelip-suutjiespoepers.”

In watter opsigte verskil ons humorsin van ander tale en kulture s’n? “Ek dink daar is nogal iets unieks aan die manier hoe ons kuier-kuier grappe kan vertel,” reken Jacobs.

“Waar ’n paar Afrikaanse mense saambraai of -kuier, sal daar byna sonder uitsondering kort voor lank ’n grapverteller of twee keelskoonmaak. Ek dink ons soort humor wentel ook nogal sterk rondom hierdie tradisie van grappe vertel – selfs die Afrikaanse grappe wat mense deesdae op WhatsApp en TikTok deel, getuig hiervan.”

’n Lekker taal vir grappe vertel?

As ’n mens aan bobaas grap- en storievertellers soos Jan Spies, Pieter Pieterse en Tolla van der Merwe dink, of aan hedendaagse Afrikaanse komediante soos Schalk Bezuidenhout, Marc Lottering, Andries Vermeulen, Jonathan (Radio Raps) of Dowwe Dolla, is daar beslis een ding wat soos ’n paal bo water uitstaan: Afrikaans wéét hoe om sy lagspiere behoorlik te bult.

Die feit dat Afrikaans die taal van diverse gemeenskappe en kulture is, maak volgens Müller-Marais die moontlikhede vir humor nog meer opwindend. Sy reken Afrikaanssprekendes verskil oor kleur- en sosiale grense “min genoeg dat ons mekaar kan verstaan, en genoeg dat ons vir mekaar kan lag.

“Die verskeidenheid dialekte van Afrikaans skep ’n lieflike speelgrond vir humor – dis soos ’n boetie of sussie waarmee ons gek kan skeer. Ons praat dieselfde taal, maar ons klink en dink bietjie anders.

“Ek dink Afrikaanssprekendes is meer reguit, minder skrikkerig, maak meer gereeld grappe en neem ook minder aanstoot as ander nasies. Ons ‘oefen’ dus meer gereeld ons humorsin. Verder leen ons ryke taal haar ook maklik tot dubbelsinnighede – iets wat ek persoonlik nie kan weerstaan nie.”

En wat van die klassieke Van der Merwe-grappe in Afrikaans, en die Brakpan- en Vernon Koekemoer-grappe wat soms opduik? “Ek dink dit word ’n soort kode wat mense deel wanneer hulle die grappies vertel,” sê Jacobs.

“Nes almal die reëls van ’n klop-klop- of blondinegrap ken, is ’n Van der Merwe-grap of ’n Vernon Koekemoer-grap later ’n soort genre op sy eie – die stereotipe is deel van die ingeboude humor van die grap. En daar is natuurlik ’n gesonde dosis Afrikaanse selfspot in dié soort grappies.”

Raad vir grapmakers

’n Grap kan natuurlik hóé snaaks wees, maar as dit nie reg vertel word nie, kan dit lelik platval. So, hoe hou jy die gehoor aan jou voete wanneer jy jou volgende braaivleisvuur-grappie vertel? Wie beter as Meyer-Rödenbeck om raad te gee!

“Mense lag as jy jouself blootstel en die grappe dikwels ten koste van jouself is. ’n Goeie komediant het nie net tydsberekening nie, maar ook hope chutzpah. Baie van die humor is nie noodwendig wat jy sê nie, maar hoe jy dit oordra.

“Uit ervaring weet ek, as jy komedie doen, moet jy hard voorberei, jou materiaal moet baie goed wees en jy mag nie ’n beat mis nie. Jy moet onmiddellik beheer van jou gehoor neem; as jyself onseker is en aan jou materiaal twyfel, verloor jy hulle dadelik. Die geheim is dus: goeie materiaal en voorbereiding.”

Heilige koeie

Jaco Jacobs (Foto verskaf)

Maar alle grappies vir eers op ’n stokkie – waarom duik daar so gereeld grappe oor “onvanpaste” onderwerpe op? Die Zuma-sage, die Covid-pandemie en die onlangse plundery in KwaZulu-Natal is immers nie regtig iets om oor te lag nie … en tog maak mense lustig grappe daaroor.

Professor Van Jaarsveld beskou dié wrang soort humor in ’n positiewe lig. “As ons vir onsself kan lag, of vir die situasie waarin ons verkeer, het ons nog nie gaan lê nie. In die huidige drukkende omstandighede is hierdie soort lag broodnodig, anders is depressie almal se voorland.

“Ek dink baie van ons hedendaagse grappies werk ook met die meganisme van verligting – al is dit soms net tydelik – van die verskrikking wat Suid-Afrika geword het met moorde, verkragtings, negatiewe berigte en mense op sosiale media. Om meer te lag, kan ons volkie glad nie kwaaddoen nie.”

Jacobs reken dit is darem nie net hier by ons wat dié soort donker humor gereeld kop uitsteek nie. “Oorsee is hierdie soort ‘onvanpaste’ grappe, dikwels in die vorm van memes of selfs in stand-up comedy, ook ’n algemene verskynsel. Ek dink dit is mense se manier om moeilike, uitdagende tye ietwat draagliker te maak.”

’n Glimlag in deurmekaar tye

In vandag se deurmekaar tye moet ’n mens die rol van grappe en humor nie onderskat nie.

Meyer-Rödenbeck som dit in vier woorde op: ontlading, wegvoer, vergeet, genees. “En ongelooflik belangrik: As ons verleer om te lag – en dit kan maklik gebeur – is ons in die moeilikheid.”

Müller-Marais reken ook al probeer uitdagings soos die koronapandemie om ons samesyn en lag te steel, dit tyd is dat ons ophou om ons teen die negatiewe dinge soos politiek en sosiale media vas te staar. “Dis tyd om weer terug te keer na die basics van wie ons is: ’n klomp verskillende, gebroke mense aan die suidpunt van Afrika, wat na vrede en regverdigheid smag, en net wil kyk hoe die son oor ons pragtige land sak, met ’n lafenis in die hand en ’n vleisie op die kole, terwyl ons aan ’n volgende grappie dink om te vertel.”

’n Grappie ’n dag …

Professor Van Jaarsveld verskaf ’n klompie – heel wetenskaplike – redes waarom ’n lagsessie (en ’n goeie grap!) goed is vir jou welstand en gesondheid.

  • Lag is aansteeklik: As jy by ’n groep laggende vriende aansluit, sal jy ook lag. Dit sal jou help om betrokke te voel – een van die groep – en jou laat goed voel.
  • Lag verlig stres: Wanneer jy lag, is daar ’n sametrekking van ’n hele hoop spiere wat bloedvloei en suurstofinname verhoog. Dit stimuleer die hart en die longe en genereer endorfien, dopamien, serotonien en oksitosien (goedvoelhormone) wat jou fisiek en emosioneel laat ontspan.
  • Lag verhoog immuniteit: Volgens ’n studie by die Indiana State School of Nursing kan hartlike gelag moontlik die natuurlike selle wat siektes in jou liggaam aanval – ’n tipe witbloedsel – vermeerder wat weer kankerselle kan aanval.
  • Lag verhoog deursettingsvermoë: Dit bied aan jou die moontlikheid om teenslae as natuurlike vordering, eerder as ’n negatiewe uitkoms te sien. Sulke mense is baie gelukkiger. Om oor jou eie foute te lag laat jou besef om foute te maak is menslik en jy hoef jou nie daaroor te verknies nie.
  • Lag is medisyne vir depressie: Depressie kan ’n geestesingesteldheid word as ’n mens nie af en toe objektief na jouself kan kyk nie. Jy is so in jou sielkundige en emosionele probleme vasgevang dat jy nie uit dié gat kan kom nie. Om met ’n ander perspektief te kyk en die humor daarin raak te sien, het oneindig terapeutiese waarde. Selfs geforseerde lag laat hormone, neuropeptiede en dopamien in die liggaam vry, wat goed is vir jou gemoed.
  • Lag verlig pyn: Laggende mense het nie minder pyn nie, maar hulle rapporteer dat hulle minder gepla word deur die pyn. Dit help om die ongemak daarvan te verduur.

Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 is ons op soek na die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye. Boonop staan jy die kans om een van twee vakansies na Mauritius te wen met die komplimente van World Leisure Holidays*! Kom lees meer oor dié kompetisie hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Die aand toe FB en WhatsUp van lyn af was het daar 8 mense aan tafel gesit vir ete, ek het net 5 van hulle geken, die ander 3 beweer hulle bly al 2 jaar by ons.

A ·

“Die Zuma-sage, die Covid-pandemie en die onlangse plundery in KwaZulu-Natal is immers nie regtig iets om oor te lag nie”

Mens moenie spot oor Covid nie, ek weet van ‘n voormalige pasiënt wat dit gehad het, breinskade gely het en tot vandag toe glo hy het die Amerikaanse verkiesing gewen.

melaney ·

Jammer vir jou A. Jy kom seker uit Brakpan en droom van ‘n lewe in die VSA. Jy moet maar president van Brakpan bly. Ons sal binnekort vir jou stem. lol

Spook ·

Die ander ou wat “gewen” het, weet egter nie dat hy het gewen nie. Ek dink nie die voormalige pasïent is verkeerd nie.

Lesly ·

Met Facebook wat van lyn af was, het ek met my vrou gesels. Sy blyk ‘n aangename persoon the wees. Ek het ook uigevind dat sy nie meer by Volkskas bank werk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.