‘Identiteit lê nie in punte, prestasies en opinies nie’

(Foto: Verskaf)

“Ken jou waarde, weet waarvoor jy werk, en weet dat jou identiteit nie deur punte, prestasies of opinies bepaal word nie. Moet ook nie jou tyd mors op dinge wat nie waarde toevoeg of mense wat nie jou waarde raaksien nie.”

Só gesels Johané Fritz, oudleerder van Helpmekaar Kollege, en een van vyf leerders aan dié skool wat nege onderskeidings in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen in 2022 behaal het.

Maak persoonlike welstand prioriteit

Fritz het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels (eerste addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Spaans (tweede addisionele taal), verdere studies gevorderde wiskunde – “standaard” en verdere studies wiskunde – “elective”. Sy het boonop 100% in wiskunde behaal.

“Ek het van kleins af ʼn liefde vir syfers en is gelukkig dat dit natuurlik vir my is. Dis soos ʼn spesiale taal wat ʼn mens leer praat, ontdek en moet oefen. Soos die gesegde lui: wiskunde leer ʼn mens dat daar ʼn oplossing vir elke probleem is. Net só is die lewe. Soms moet ʼn mens stoei as die winde loei, maar daar is vrede in die storm as jy eers die stryd of struikelblok in jou kop oorbrug.”

Fritz, wat beplan om later vanjaar BSc Fisika in Texas in die VSA te studeer, gaan vir die eerste ses maande vanjaar sendingwerk as deel van YWAM (Youth With A Mission) in Potchefstroom doen.

Johané Fritz (Foto: Verskaf)

“Geloof is ʼn onlosmaaklike deel van wie ek is. ʼn Anker wat my geleer het om nie in die berg voor my vas te kyk nie, maar te fokus op dit wat in my hand is en dan my beste in dít te doen. Geestesgesondheid is ʼn brandpunt van ons tyd. Dit is só nodig om jongmense toe te rus om pleks van prestasies na te jaag eerder na hul persoonlike welstand – liggaam, siel én gees – om te sien,” sê sy.

Sy is opreg dankbaar vir die Helpmekaar Kinderleidingdepartement se opvoedkundige sielkundiges en beraders wat ʼn belangrike rol speel om weerbaarheid te vestig, ʼn vangnet te bied en rigting vir dikwels deurmekaar tieners te gee. “Die onderwysers gaan ook uit hul pad om buite die beperkings van 40 minute-periodes die ekstra myl te loop. Hulle wys jou nie wát om te sien nie, maar wáár om te kyk.”

Fritz, wat nie net op sportgebied nie maar ook in drama en dans uitgeblink het én onderhoofmeisie was, glo in ʼn roepingsgedrewe lewe waarin ʼn mens moet (terug)gee. “Elke dag bevat ʼn stukkie Jesus. Wees en lééf daardie stukkie en deel dit uit dankbaarheid met dié om jou.”

Matriek nie einde, maar opwindende begin

Nico Olivier is ʼn kranige redenaar en trekklavierspeler, én spog met nege onderskeidings op sy matriekrapport vir Afrikaans, Engels (eerste addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, rekeningkunde, verdere Studies gevorderde wiskunde “standaard” en verdere studies wiskunde “elective”. Hy het ʼn tiende A-simbool, vir ekonomie, net-net op 79% gemis.

 

Olivier, wat aanvanklik ʼn landbourigting wou volg en daarvan droom om eendag op sy eie stuk grond te boer, beplan om eers kapitaal vir dié droom bymekaar te maak deur BCom Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. “Ek glo dié studierigting sal my met die risiko- en finansiëlebestuursvaardighede toerus om eendag ʼn sukses van enigiets – ook ʼn boerdery – te maak.”

Volgens hom het die samelewing ʼn verkeerde ingesteldheid rondom matriek. “So baie mense praat van ‘jou laaste jaar’. Dié fokus op finaliteit plaas nie net ʼn demper nie, maar onnodige druk en spanning op matrikulante.”

Matriek is in werklikheid die begin van ʼn splinternuwe en opwindende lewensreis, meen hy. “Jy kry jou bestuurslisensie, betree die volwasse wêreld en kry hope verantwoordelikhede by. Deur dit eerder as ʼn nuwe begin te beskou, ontsluit ʼn mens nuwe energie, motivering en dryfkrag. Dan is dit nie meer ʼn kort tydjie waarin jy ʼn massa inligting moet baasraak voor ʼn mensgemaakte uurglas uitloop nie, maar die begin van ʼn fase sonder tydsbeperking waarin jy ʼn onbeperkte magdom wonderlike dinge kan ontdek en leer,” sê Olivier.

Nico Olivier (Foto: Verskaf)

Dit is presies met dié ingesteldheid waarmee Olivier sy matriekjaar aangepak het. “Ek het elke oggend eers in die natuur met my hond gaan stap en genoeg stil tye geskep om myself daaraan te herinner dat dit oor vandag gaan: wat ek vandag in geloof kan baasraak. ʼn Mens het af tye nét so nodig soos druk tye – in elkeen leer ʼn mens iets oor jouself en staal dit jou vir die lewe wat wag.

“Ek lees tans die boek Factfullness deur Hans Rosling en besef dat ons ʼn negatiewe wêreldbeskouing het wat dikwels net op die foute om ons fokus. Dit is so dat alles in Suid-Afrika nie perfek is nie, maar ons kan nie armoede oplos, korrupsie uitwis óf die ligte aanhou as ons nie eers die stelsel herstel nie. Die boom sál weer groei en vrug dra as die wortelstelsel gesond is.”

Herinneringe is blywend

Keira Lombard spog ook met nege onderskeidings en gaan verskeie oud-Helpies in die BCom Aktuariële Wetenskappe-klas aan die US raakloop. Sy het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels (eerste addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, ekonomie, verdere studies gevorderde wiskunde “standaard” en verdere Studies wiskunde “elective”.

Keira Lombard (Foto: Verskaf)

“Helpmekaar het ʼn baie vol program en ʼn mens leer gou dat tydmors jou niks in die sak bring nie. Trouens, deur behoorlik te beplan, haal jy baie spanning van jou skouers af. Voor jy jou oë uitvee, is ʼn toetsreeks, hokkietoernooi en skoolfunksies in een week heeltemal haalbaar. Kan jy skielik al die geleenthede aangryp wat ʼn skool soos Helpmekaar bied én baie balle gelyktydig in die lug hou.”

Lombard is dankbaar dat sy op skool reeds kon leer om druk te hanteer. “Ek glo dit gaan my baie in my studies én loopbaan help. My pa sê altyd ʼn mens moet hard werk om ʼn punt te bereik waar jou geld vir jóú begin werk. Daarom sal ek alles in die stryd werp en hard werk om die droom van my eie firma te verwesenlik.”

Volgens Lombard moet matrieks weet dat dit oukei is om foute te maak. “Onthou, punte en prestasie is vlietend, maar die herinneringe wat ʼn mens maak, kan niemand van jou wegneem nie. Maak daarom die beste van elke oomblik. Droom groot én lag gereeld.”

Fokus op die fondasie

Ook Xander Nel gaan hom vanjaar by die US aanmeld vir Aktuariële Wetenskappe. Nel het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels (huistaal), wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, ekonomie, Frans (tweede addisionele taal), en sport- en oefenkunde.

Nel onthou sy eerste dag by Helpmekaar soos gister. “Ek het van ʼn klein dorpie af gekom, in die koshuis ingetrek en was ʼn introvert. Skielik is ek omring deur gees, hope vriende, die roetine van studietye en enige aktiwiteit waarvan jy kan droom.”

Wat vir hom uitstaan, is die dissipline wat die koshuislewe hom geleer het. “Ek was nie die fluksste leerder of fiksste atleet nie, maar het gou geleer om die vaste studietye uit te koop en danksy raakrugby smiddae as die son sak al meer op my fisieke welstand te begin fokus.”

Nel was dol oor avontuursport waar spanne moet fietsry, met ʼn kano vaar en draf – en spesifieke punte met behulp van ʼn kaart bereik. “Dit het my denke verskerp, my planmatig leer dink, en ek het later geleer dat jy, deur net in die klas op te let, die meerderheid van die werk onder die knie kan kry sonder om jouself soveel studiespanning op die hals te haal.”

Xander Nel (Foto: Verskaf)

Hy vertel van sy belangstelling in kragoptel en sy droom om eendag aan die Wêreldkampioenskap deel te neem. Dis egter nie waar sy drome en toekomsplanne eindig nie. “Ek beplan om tydens my studies as kelner te werk om geld bymekaar te maak om te belê en finansieel onafhanklik te word. Ek wil ook my vaardighede in sosialemediabemarking opskerp en rekenaars saam met ʼn vriend bou om ʼn ekstra inkomste te verdien.”

Nel meen die Helpie-onderwysers wat die ekstra myl loop, laataand boodskappe antwoord en selfs hul pouses opoffer om raad te gee, was die deurslag vir sy welslae. “Daar is nie iets soos ʼn dom vraag nie en ook nie ʼn alternatief vir harde werk nie.”

Volgens hom is daar soveel hoop en potensiaal in Suid-Afrika, maar moet daar weer op die basiese dinge gefokus word. “Dit help nie om entrepreneurskap aan te moedig as ons nie eers die ligte kan aanhou nie.”

Nel stem saam met Nico Olivier dat die fokus moet wees om die fondasie van die land, die wortel van die probleem, reg te ruk. “Eers dan sal die ekonomiese las en druk op mense verlig word en kan Suid-Afrika sy regmatige plek as die spreekwoordelike broodmandjie van Afrika inneem.”

Leer het geen vervaldatum

Reyneke Jacobsz gaan vanjaar BCom Regte by Wits studeer en het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels (huistaal), wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, geskiedenis, ekonomie, inligtingstegnologie en verdere studies gevorderde Afrikaans. Jacobsz het ʼn tiende A, in verdere studies Engels, net-net op 77% misgeloop.

“Ek het ʼn geweldige wye belangstellingsveld,” sê hy. “Ek is bietjie van ʼn IT-nerd aan die een kant en ʼn letterkundeliefhebber aan die ander kant. Net so lief vir rekenaars bou as vir Mary Shelley se Frankenstein, Etienne le Roux se Sewe dae by die Silbersteins en Loftus Marais se digkuns.”

Vir Jacobsz is Helpmekaar se fokus op selfstandigheid, onafhanklikheid, self leer en doen, van die waardevolste lesse wat hy op sy lewensreis neem. “Die Helpie-onnies se verbintenis en verhouding met die leerders lê op ʼn veel dieper vlak as leermeester en leerling. Wye denke en voortdurende leer, sonder grense en beperkings, word juis aangemoedig.

“Ek is gevolglik ʼn groot voorstander van lewenslange leer, dat leer nie ʼn vervaldatum het nie, maar iets is wat jou horison verbreed, jou menswees verdiep en ʼn hulpmiddel is waarmee jy ander se lewe kan verryk.

Reyneke Jacobsz (Foto: Verskaf)

“Dit is glad nie waar dat as jy ʼn skip gemis het, ʼn geleentheid vir goed verby is nie. As jy hard genoeg werk, kan jy jou eie toekoms op enige plek skep en in enige omstandighede aanpas. Ons kla hopeloos te veel en hardloop as deel van ʼn emigrasie-pandemie veels te vinnig weg op soek na groener weivelde.

“Dis óns verantwoordelikheid om vir ʼn slag vas te byt en oplossings vir probleme te soek – net daar waar jy is. Ons moet te midde van die inligtingsera die waarde van objektiwiteit besef én die gevare van subjektiewe menings raaksien. Feite teenoor menings opweeg. Ons is voorts dikwels te bang om norme en konvensies te bevraagteken en stroomop te swem.”

Daarom, sê Jacobsz, is sy droom om op ʼn plek te kom waar hy ander kan help – of dit nou as prokureur of advokaat is. “Niemand hoef in middelmatigheid vasgevang te leef nie. Wees oplossingsgedrewe pleks van probleem-gerem. En moet nooit met minder as wat moontlik is tevrede wees nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Mensig! So praat slimbekke mos en nogal in pragtige Afrikaans! Ons is trots op julle! Voorspoed!

Andre ·

Kan ons nie maar hierdie pragtige mense, en daar is nog baie ander, in die regering opneem nie. Sterkte vir julle almal vir die toekoms.

skurweberg ·

Gelukkig weet ek dat dit nie gaan oor kwantiteit nie, maar oor KWALITEIT,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.