Inflasie: Dís wat jou bankrekening leegtap

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika se inflasiekoers staan tans op 5,2%, die hoogste vlak sedert November 2018. Die inflasiekoers het in April op 4,4% gestaan.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag gesê die jaarlikse verandering in Mei spruit uit ʼn lae basis in Mei verlede jaar, toe brandstofpryse betreklik laag was. Kerninflasie (wat kos en nie-alkoholiese drankies uitsluit) het verlede maand op 3,1% gestaan en dui volgens StatsSA op die noemenswaardige uitwerking wat kos en brandstof op die algehele inflasiekoers het.

Brandstof

Ondanks ʼn effense brandstofverlaging verlede maand, hoes verbruikers vir brandstof. Die jaarlikse styging het verlede maand tot 37,4% versnel, van 21,4% in April af.

Petrolpryse was verlede maand 41,8% hoër as dieselfde tyd verlede jaar, terwyl jy nou 27% meer betaal vir diesel.

Voertuigpryse was verlede maand 6,5% meer, terwyl die bedryfskoste vir voertuie op ʼn jaargrondslag met 8,9% toegeneem het. Dit was ʼn styging van 0,8% van April tot Mei.

StatsSA sê die prys van voertuigbande het sedert April met 3,3% toegeneem.

Voedselinflasie

Die prys van tamaties is amper 30% meer as ‘n jaar gelede. (Foto: pixabay)

Jaarlikse inflasie vir kos en nie-alkoholiese drankies het van 6,3% in April tot 6,7% verlede maand toegeneem – die hoogste vlak sedert Julie 2017.

Vleis, vis, olie en vette, suikers, lekkergoed en nagereg kos jou boonop nou 6,7% meer as vantevore.

StatsSA sê jaarlikse vleisinflasie klou sedert Oktober verlede jaar aan ʼn vlak bo 6% en het verlede maand toegeneem tot 8,5%. Die prys van visprodukte is ook op ʼn drafstap en inflasie vir dié produkte staan op 7%, ten minste laer as die 8,1% waarop dit in April gestaan het.

Daar is oënskynlik geen keer aan die prys van kookolie, ʼn stapelitem in die meeste kombuise, nie. Die prys van kookolie het sedert Mei verlede jaar met ʼn beduidende 30,3% toegeneem en met 8,5% van April tot verlede maand.

Terwyl die gemiddelde prys van ʼn bottel kookolie in jou winkeltrollie ʼn jaar gelede naastenby R20,99 was, het dit verlede maand amper R30 gekos.

Die hoër pryse van kookolie het die prys van ander olies en vette opgejaag en die jaarlikse koers staan nou op 20% van waar dit in April op 16,7% gestaan het.

Suiker, lekkergoed en nagereg word ʼn groter luukse vir al hoe meer verbruikers. Dit is op ʼn jaargrondslag 8,7% duurder, ʼn styging van die 8% waarop dit in April gestaan het.

StatsSA sê die prys van witsuiker het vinniger gestyg (11,5%) as bruinsuiker (4%). Bruinsuiker het tussen April en Mei egter ʼn hoër maandelikse styging (1,9%) as witsuiker (0,3%) ondervind.

Alkoholiese drankies en tabakprodukte is 5,8% duurder as ʼn jaar gelede. Wynpryse het met 7,2% toegeneem en tabak is 6,6% duurder.

 

Inflasiedruk verskuif

(Foto: Vinpro/Facebook)

StatsSA sê daar was die afgelope jaar heelwat veranderinge in inflasie-aandrywers. In Mei verlede jaar was die hoogste jaarlikse prysstyging vir dienste soos onderwys, versekering, behuising en nutsdienste.

Die jaarlikse koers vir dienste in Mei verlede jaar was 4,1%.

Teen Mei vanjaar het dienste-inflasie tot 2,7% verslap, terwyl die koers vir goedere met 8% toegeneem het.

Vervoer, kos en nie-alkoholiese drankies, drank en tabak het nou die hoogste jaarlikse stygings ondervind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Lourens CFG ·

Ons ondervind al die laaste klompie maande dat voedsel pryse amper weekliks styg. Ons koop al minder voedsel per maand omdat ons SASSA geld net só vêr gerek kan word. Ons koop die goedkoopste kookolie op die rak al smaak dit glad nie lekker nie, en miskien so 4 verlepte tamaties (bietjie goedkoper nog).
Pluspunt, ons gewig is besig om af te kom (nie dat ons baie vet is nie).
;-()

Pot se lepel ·

Kosprys inflasie gaan bly toeneem, of ons gaan honger sit een van die dae. N vriend van my wat groente boer wys my gister:
Kunsmispryse van Feb 2020 tot nou het met 100% gestyg!
Die arme boere kry ook nie die verhogings in voedselpryse nie. O nee, dit hak alles vas by die kleinhandelaars.

piet ·

Ek vind dat die vehoogde BTW nogal ‘n paar verrassings tot gevolg bring as jy so na jou betaalstrokie kyk. 15% is eintlik vrek baie.

deHAS ·

ja, dit is ‘n hele R10.00 wat daai 1% maak op sekere pryse (as ek so vinnig sê).

Dirk Mostert ·

Ja, maar dit laat 90% van die bevolking ook so ‘n bietjie bydra tot belasting.

piet ·

Ek eet bittermin vleis deesdae. Vrek duur. Eiers was eers redelik goedkoop, dit spring ook nou na nuwe hoogtes.

Werner ·

Sop Gaan later n eksotiese dus word pap en Tuk is ons voorland

Belinda ·

die ergste is die feit dat as jy iets goedkoop sien, is dit mos deesdae koop 3 en betaal “dit… dit forseer mense om oordadig te spandeer vir goed wat hul ook nie eitnlik nodig het, of soveel van iets te he nie.
die winkels maak mens net so arm siende hul daai verkoops tegniek gebruik.
…. en soms is dit nie eers so goedkoop om in “bulk”te koop nie. maar maak die boere dood, ons gaan nog lekker honger lei…

piet ·

Ja en die ander storie is dat die pakkies al kleiner word maar die pryse styg steeds teen ‘n geweldige trant. Pay more for less.

VaalDonkie ·

Jy moet ophou by Woolies koop. Shoprite se kos smaak dieselfde.

Rian ·

Ek is honger, gaan koop kos, en dan moet ek n deel van die faktuur totaal aan die staat oorbetaal in die vorm van btw. Dit maak nie sin nie en is blote plundering van die gepeupel se geld, dié wat nog geld het. Btw op karre, meubels, tv, ens. verstaan ek, maar op kos!

Cindy ·

jip, dit terwyl jy klaar moes hoes voor jou geld in jou bank geland het – dis eintlik om van te huil

Piet parys ·

Presies my punt . Toilet papier ook jy trek dit dan deur jou ……

Francois Le Cochon ·

As invoerbelasting op voedsel afgeskaf word, sal kospryse drasties daal.

piet ·

Hulle sal dit nie doen nie want die plaaslike vervaardigers en regering raak mos lekker spekvet. Kyk nou net die skandes met die vrugte. ‘n Abnormale goeie oes maar sien ons dit as plaaslike verbruiker? Nee, ons moet tevrede wees met substandaard gholballetjies vir appels wat ten hemele geprys is. Dis ‘n skande. Die plaaslike vervaardigers voel vere vir die plaaslike mark solank hulle net kan geld maak oorsee. Ek se voer vleis op grootmaat van plekke soos Brasilie in sodat ons darem ten minste ‘n bekostigbare vleisie kan eet. Ek het lank terug gevriesde hoenderlewertjies van Brasilie gekoop en dit was goedkoop. Die gehalte was 5-ster.

Francois Le Cochon ·

Ja, vleis uit Brasilie, Argentinia en Australie en kaas uit Frankryk en Ierland sal halfprys wees as invoerbelasting afgeskaf word.

Dirk Mostert ·

Koolstofbelasting wat bydra tot energie-koste en suikerbelasting wentel ook deur na voedsel en drank. Ek sien nie dat enige van die twee enige positiewe uitwerking het nie.

Dirk Mostert ·

Ek het ewe min vertroue in die amptelike inflasiekoers as in die jaarlikse matriekresultate.

houopkruip ·

Stem.
Die berekening van die inflasiekoers is DEKADES agter/verouderd.
Ek weet – is heeltemal vertroud daarmee.
Verstaan nie hoekom mense met media blootstelling (bv gewone ekonome) dit nie aan die groot klok hang nie.

Phumba ·

Kyk op Telegram, facebook en whats up, daar is baie groepe wat gestig word om direk by die boere/ vervaardigers te koop.
Jy bespaar baie op die vrugte, groente, suiwel en soms vleis produkte terwyl die boere beter pryse kry – wen wen.
Mense, dit help nie om te kla nie

Begin hand in eie boesem steek.

Johan ·

Nie verbaas wees nie, die wat weet hoe ekonomie werk het dit van die begin af voorspel. Dis hoe ons betaal vir die covid regulasies. Gelukkig vir ons almal het dit gekeer dat ons die virus kry, ek haal aan van die bende hier ” jy kan nie n prys op mense se lewens sit nie”, wel mense lees weer, dit is die prys wat ons nou betaal. Wag tot die skade aan ekonomie die lewensverwagting afbring (wat waarskynlik klaar gebeur), dan betaal ons met mense se lewens vir julle regulasies. Lekker nè. Elke regulasie het n reuse inpak, iets simpel soos om kinders tuis te laat bly veroorsaak dat die ouers nie kan werk nie. Lockdown het Miljoene uit hul werk, die regulasie verwoesting aan die ekonomie gaan aan. Punt is, dit is wat ons betaal vir regulasies…was dit die ekonomie werd om n paar verswakte, mense met n paar jaar oor, se lewens gered?

VaalDonkie ·

Rooivleis is nou 30% duurder hier by ons as wat dit in Desember was. Daai mense moet weer hul sommetjies oordoen.

Piet parys ·

Ja insetkoste ook so net die staat wen met btw wat hulle kry

christo ·

Die amptelike inflasiekoers en die werklike inflasiekoers verskil hemelsbreed. Statistieke kan maklik gemanipuleer word soos dit die staat pas.

Piet parys ·

Ja al wat die regering doen om die inflasie af te bring soos altyd is om die goedere waarop inflasie bepaal word met ander te vervang wat nie gestyg het nie en dan dit her bereken en dan is inflasie weer 3% MAKLIK NÉ

Nico ·

Die groot probleem is die Internationale geldmagte die super rykes wat dit doen. Dit is mense soos die Rockerfellers, die Oppenheimer’s en so meer. Die illuminatie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.