Inflasie laagste in twee jaar; nog dalings verwag

(Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Kenners het die jongste inflasiesyfers verwelkom, en nie net omdat dit nou die laagste is in twee jaar nie, maar omdat dit dalk dui op verdere dalings in inflasie in die toekoms.

Inflasie het in Julie op 4,7% gestaan en volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) is die syfer die laagste sedert Julie 2021, toe die koers op 4,6% gestaan het.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê hierdie koers is veel beter as wat verwag is, en tans lyk die inflasievooruitsigte in Suid-Afrika “belowend”.

“Die dalende neiging in die inflasiekoers sal waarskynlik vir die res van die jaar voortduur, met inflasie wat steeds binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se 3-6%-inflasieteikenband sal bly,” sê hy.

“Hoewel die dalende inflasiekoers positief is, bestaan ​​daar steeds opwaartse risiko’s vir die inflasievooruitsigte, insluitend die kwesbare rand en Eskom se elektrisiteittariewe.”

Tog, sê Parsons, is daar ʼn “voldoende” en “aanhoudende neiging van verbetering in die inflasievooruitsigte” om te regverdig dat die monetêre beleidskomitee rentekoerse weer onveranderd laat volgende maand.

Meer geld in sakke

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê die daling in inflasie sit nou meer geld terug in werkers se sakke.

Maroela Media het vroeër berig dat voedselinflasie verslap het. Die jaarlikse koers vir voedsel en nie-alkoholiese drankies het in Julie op 9,9% gestaan (laer as die 11% van ʼn maand tevore) en die jaarlikse inflasie van brood en graan het (van 15,5% in Junie) op 13,1% te staan gekom. Mieliemeel, ʼn belangrike stapelitem vir miljoene Suid-Afrikaners, se prys het van Junie tot Julie met gemiddeld 0,7% gedaal.

StatsSA doen egter in Julie en Augustus ook ʼn opname van munisipale tariewe. Die indeks vir behuising en nutsdienste het tussen Junie en Julie met 2,8% toegeneem en gemiddeld betaal huishoudings nou 14,5% meer vir hul elektrisiteit.

Die tarief vir water het met 9,6% toegeneem en eiendomsbelasting met 2,9%.

“Dit is taai tye vir werkers, en daarom eis Uasa dat die regering die prysbepaling van nutsdienste soos water en elektrisiteit hersien om die las te verminder,” sê Moyo.

“Brandstofpryse sal na verwagting volgende maand vreet aan enige beskikbare inkomste wat werkers gedurende Julie gehad het.”

Die ANC het intussen gesê dat hy sal voortgaan om belangrike ekonomiese data te monitor en “die impak wat dit op die lewens van ons mense het te evalueer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harley Davidson ·

As ‘n verbruiker moet ek sê ek beleef dit nie wanneer ek kos soos vleis, groente en kruideniersware koop nie.

Samuel ·

Ek weet nie waar die pryse verlangsaam nie. Beslis nie waar ek woon nie.

J. J. ·

Wie terg hulle, kry mense, eerlike mense, wat weet hoe om die tipe goed uit te werk. Die pryse styg dan amper elke dag, hoe kom inflasie af?

De Bok ·

Laer inflasie beteken nie dat pryse ophou styg nie, net dat dit stadiger styg.

Kirst ·

Ek sal graag wil sien wat is in die mandjie waarop hulle hierdie inflasiekoers bereken. Dis vir seker nie dieselfde as wat in ons gesin se mandjie is nie. ‘n Pak Simba skyfies het bv ‘n jaar gelede R13 gekos. Nou kos dit R20. As my wiskunde my nie in die steek laat nie is dit 53% jaar op jaar.

OU SAAR ·

Dis nou alles goed en wel en seker goeie nuus.
Maar hier waar ons bly sien ek nie dat kospryse in die winkels aangepas word nie. Inteendeel, alles bly net so of raak selfs eerder duurder. Winkeleienaars redeneer natuurlik dat die mense gewoont is om die pryse te betaal, so kom ons hou dit maar so, meer geld in MY sak…
Dis nog steeds leeuwêreld daar buite en ek sien nie dat die leeu van plan is om te gaan lê nie…

jmboonzaaier ·

Ek dink Maroela Media moet sy eie ondersoek doen om voedsel inflasie te bepaal.
Bogenoemde syfers is misleidend. Die inflasiekoers het nog steeds toegeneem met 4.7% en is 0.1% hoër as Julie 2021.
Voedsel inflasie, basiese mandjie, styg baie meer as die aangegewe inflasie.
Waarom word minisipale dienste uitgesluit terwyl dit deel is van die maand tot maand uitgawe.
Sê maar net!

Manie ·

Wanneer SSA oor inflasie praat, probeer hulle ‘n rooskleurige prentjie skets, terwyl dit baie vêr van die werklikheid is. Inflasie berekeninge moet op alles bereken word, dus kommoditeite en dienste, want dit is per slot van sake waarvoor die verbruiker betaal. Indien alles in aggeneem word,bv munisipale diense, elektrisiteit, versekering, kos, brandstof, klerasie, mediese bydraes, sekuriteitskostes, skoolfondse ens, dan verander die prentjie.

mattk ·

Petrol- en dieselpryse styg, randwaarde neem af en dan probeer hulle die nonsens aan ons vertel. Iewers lieg iemand kliphard vir die publiek. Houers word kleiner terwyl pryse styg. Bestaan die mandjie van goedere dalk nou net uit mieliemeel, hoenderpote, pakke met opgesnyde vleisbene en soja produkte?

Antjie1 ·

geen ekstra gelde in ons sakke nie, nie met die rentekoerse wat elke liewe maand feitlik styg nie, hulle bluf hulle self as hulle dit glo

Papsak ·

Asb pryse styg by die uur kry mense wat pryse kan uit werk waar sien hulle daling in inflasie kry n bril kyk weer niks daal nie asb kom by julle lueg man klaar !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.