Inmaakfabriek se redding verwelkom

Die Langeberg- en Ashton-fabriek is vir eers veilig. (Skermgreep: Tiger Brands)

Die Vryheidsfront Plus en DA het die redding van die Langeberg- en Ashton-fabriek verwelkom aangesien die sluiting daarvan honderde mense werkloos sou laat. Dié fabriek is die grootste inmaakfabriek in Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig dat Tiger Brands, wat die aanleg besit, aangekondig het dat bedrywighede by die aanleg verleng word. Dit beteken dat die fabriek en 4 550 werkgeleenthede voorlopig veilig is – al is dit net vir die volgende seisoen.

Die aankondiging kom nadat Tiger Brands sy werkers, produsente en kliënte in Junie ingelig het dat hy met ʼn 60 dae lange konsultasietydperk begin het met die oog daarop om die fabriek op Ashton, ʼn klein Wes-Kaapse dorpie, te sluit.

“Tiger Brands het nou ʼn lewenslyn van ʼn jaar gebied om die verkoop van dié fabriek te finaliseer. Die sluiting van die fabriek sou ʼn kruppelende ekonomiese effek op die Langeberg-streek gehad het,” het Johnny Steenkamp, VF-raadslid vir die Langeberg- plaaslike munisipaliteit, gesê.

“Die geleentheid is nou geskep vir behoorlike onderhandelings en beplanning om ’n nuwe eienaar vir die fabriek te vind.”

Die party sê hy is ook bly dat hy ʼn rol in dié redding kon speel.

“Die VF Plus kon daarin slaag om sekere beleggers in kontak met produsente van die ingelegde produk te bring en verwag ʼn positiewe uitkoms in die onderhandelings om die fabriek se voortbestaan te verseker. Die VF Plus gee om vir gemeenskappe en besef die erns van werkloosheid in Suid-Afrika.”

Die DA in die Wes-Kaap sê die ooreenkoms wat tussen Tiger Brands, geraakte werknemers, georganiseerde arbeid en ander belanghebbendes bereik is om die aanleg vir nog ʼn jaar oop te hou, baan die weg vir ʼn meer permanente oplossing deur die verkoop van die aanleg.

Belangstellende partye sal sodoende genoeg tyd hê om die nodige kapitaal bymekaar te kry.

“Ons land word deur wydverspreide ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar wat beteken dat ons nie kan bekostig om enige bestaande werkgeleenthede te verloor nie,” het Gillion Bosman, DA-parlementslid, gesê.

“Die ooreenkoms om die Ashton-inmaakfabriek oop te hou moet as ʼn reuseoorwinning vir werkers gesien word, wat nou vir die volgende jaar ekonomiese stabiliteit sal hê.”

Bosman sê die party beskou werk as ʼn bron van waardigheid.

“Ons hoop dat ʼn permanente oplossing om die fabriek oop te hou en werkers se werk te verseker in die volgende jaar gevind kan word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Al die handelsmerke en embleme moet ook verander word. Daar moet niks oorbly wat na Tiger Brands ruik nie.

AJ ·

Waarom wil Tiger Brands die fabriek sluit?

Antwoord:

1. Die arbeidswette maak arbeid so duur dat die fabriek nie winsgewend is nie?
2. Die vakbomde teister die werkgewer deur geweld en intimidasie?
3. Die werkers is onproduktief en tree misdadig op.

Selfde redes waarom talle ander maatskappye gesluit en verhuis het na stabiele lande.

Die mislukkende ANC regime se BEE beleid vernietig die land!

Miskruier ·

Kleiner inmaakfabrieke, meer verspreide inkomste. Al die wereld se voedsel kom, uit ek dink, elf maatskappye.

Yvonne ·

Die unies veroorsaak soveel onrus …dankbaar ek is nie n werk gewer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.