Insleep-man sterf toe groot groep op geldwa toeslaan  

Foto: @2105tp/Twitter

Nagenoeg 12 persone wat in vier voertuie gery het, het ʼn insleepvoertuigbestuurder doodgeskiet wat hul agternagesit het nadat hulle ʼn geldwa in Johannesburg beroof het.

Die verdagtes het ʼn geldwa van die sekerheidsmaatskappy G4S Vrydag omstreeks 8:00 aangeval nadat veiligheidswagte geld by OTM-masjiene opgelaai het, het lt.kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê.

Die geldwa was op pad in Ontdekkersweg in Florida toe die 12 verdagtes in vier verskillende voertuie, ʼn swart BMW, ʼn swart Mercedes Benz, ʼn wit Ford Ranger en ʼn wit Audi Q5, op die geldwa losgebrand het.

Die bestuurder van die geldwa het stilgehou en die verdagtes het die veiligheidswagte op die grond laat lê. “Die verdagtes het plofstof gebruik om die geldwa mee oop te blaas en het met ʼn onbekende bedrag kontant op die vlug geslaan.”

Foto: @2105tp/Twitter

ʼn Insleepvoertuigbestuurder het gesien wat gebeur en die verdagtes agternagesit. “Skote is afgevuur en die bestuurder van die insleepvoertuig is noodlottig gewond.”

ʼn Vuurwapen wat by een van die veiligheidswagte afgeneem is, is later in Hendrik Potgieterweg gevind, sowat 1 km van die misdaadtoneel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê een van die veiligheidswagte het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is die bestuurder van die insleepvoertuig in die bors geskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariska ·

Twaalf rowers met luukse motors… dit is verskriklik. Soveel simpatie met die slagoffer se mense. En ook met die arme wagte wat hierdie gevaarlike werk moet doen. Dit is so jammer dat dit steeds nodig is om geld per pad te vervoer.

Marieke ·

Rus in vrede Shane jou skof is nou verby. Mag Jesus jou gesin ontferm.

Misky ·

Hoor net watse tipe karre ry die skurke!! Sterkte aan die arme man en innige meegevoel met sy familie en naasbestaandes.

Vlekkie ·

Dit help nie om n hero te probeer wees nie. Jy boet net met jou lewe. Jaag so ver weg as wat jy kan! Daai pro’s speel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.